Hannalie Taute. Klankdig

Elf jaar lank lê hy en stof vergader op my boekrak.  Elf jaar lank sien ek nie kans vir Duchamp nie.  Ek weet nie wat het daartoe gelei dat ek besluit het om hom op te tel nie. Dit was seker ‘n geval van die regte tyd op die regte plek.

Aan Duchamp self het ek nie veel erg nie, maar ek het wel heelwat interessante karakters in die boek teëgekom – van Alfred Jarry tot Baroness Elsa. Wat ‘n kleurryke era! In die boek het ek ook meer gelees oor Man Ray/ Emmanuel Radnistsky. Die foto wat laasgenoemde geneem het van Duchamp se “Large glass” vol stof wat lyk soos ‘n maanlandskap is nogal treffend. Die einste Man Ray was blykbaar getroud met ene Adon Lacroix, (‘n Belgiese digter). Van haar het ek gelees in ‘n ander boek waarvan ek ongelukkig nie die titel kan onthou nie, maar het wel ‘n fotostaat van haar klankgedig gevind wat ek in my dagboek van 2007 geplak het. Dit lyk/klink so:

E T Y M O N S

Not so                                   PN

DA DI ME                             ZAZZ

OMA DO RE TE                  O MA QU

ZI MATA DURA                  RRO RRO

DI O. Q DURA                     RU K

TI MA TOITURA                 ASHM   ZT

DI ZRATATITOILA              PLGE

LA LA LAR-R-RITA

LAR-R-RITA                         NM E SHCHU

LAR-R-RITA                         KM NE SCU

I love you

Mi o do re mi    mi o

‘marmalade’

Volgens die bron was sy ‘n tolk tussen Man Ray en Duchamp. In die bron word genoem dat die 5de lyn in die eerste kolom en die 3de lyn in die 2de kolom blykbaar die klank en simbool voorstel van Duchamp se werk getiteld: L.H.O.O.Q (“elle a chaud au cul’- she has a hot bottom).

 

L.H.O.O.Q
L.H.O.O.Q

Daar is nie veel op die internet oor Adon Lacroix nie. Ek sou graag wou hoor hoe die gedig klink, want volgens Wikipedia word klankgedigte meestal as opvoerings uitgevoer. Ek het een aand om die braaivleisvuur die gedig probeer voorlees, maar vermoed dat ek die klanke met my Afrikaanse aksent ietwat vermorsel het.

Soos jy kan aflei, is my nuutste obsessie klankgedigte. Veral aangesien hierdie verwaande moeder dink dat haar 11 maande oue seuntjie ‘n bobaas klankdigter is.

In die begin was daar klankgedigte, gevolg deur visuele gedigte en later konkrete gedigte.

‘n Voorbeeld van ‘n klank- en konkrete gedig gekombineer is:

“Zang Tumb Tumb of Zang Tumb Tuuum” geskryf deur Filippo Tommaso Marinetti.

Marinetti, die voorvader van Futurisme, het hierdie revolusionere boek/gedig geskryf nadat hy as oorlogverslaggewer tydens die Balkanoorlog gewerk het. Dinamiese ritme, onomatopieë, verskillende lettertipes, vorms en grafiese uitlegte is kenmerkend van die boek en futurisme. As ‘n verlengde klankgedig is dit ook ‘n monument van eksperimentele literatuur.

Willem Boshoff en Hennie Meyer is van my gunsteling konkrete digters, maar ek weet nie of daar op die oomblik ‘n klankdigter in Afrikaans is nie.  Sou mens sê dat “Geponste Lei” deur D.J. Opperman ‘n klankgedig is?

I ou

Pipi

Ri meri

Ik sok kos

1 2 3

A is fir aap

Hy kou aan I raap

Tarra

Rara boem di ry

Tant kaatji

Haar dogtertji

I vaal haar

Krullekop

In di skeurtji

Sit meneertji

Kriek en kriek

Bok bok

Waarom staan

My stokki styf

Sakka pakka

Ik dink

Ik kan

Oupa het n fark gery

Hoewel bogenoemde gedig wel klanke bevat, sou dit seer sekerlik nie beskou word as ‘n klankgedig nie?

Vermoedelik het Breyten al ‘n paar klankgedigte geskryf.

In Engels is daar heelwat … veral tydens die Dada-beweging.

Hugo Ball het in Cabaret Voltaire ‘n klankgedig opgevoer…

“I created a new species of verse, ‘verse without words,’ or sound poems… I recited the following:

gadji beri bimba

glandridi lauli lonni cadori…”

(Albright, 2004)

Vorm klanke tog nie woorde, so het hy homself nie dalk weerspreek?

Ek wil ook graag ‘n skakel deel na Kurt Schwitters se Kurt SchwittersUrsonate (1922-32, “Primal Sonata”)

http://www.ubu.com/sound/schwitters.html

Geniet dit.

Bookmark and Share

12 Kommentare op “Hannalie Taute. Klankdig”

  1. Daniel Hugo :

    Breyten Breytenbach het beslis klankgedigte geskryf, soos “Die tweegeveg” in “die ysterkoei moet sweet”.
    In dieselfde bundel staan die volgende gedig: “hiiiiieeeeee / dié pataranke langs die spporlyn – / hoe séér / moet hulle ore net nie wees nie”.
    In “Voetskrif” keer hy die situasie om: “dié spoorlyn wat langs die patatranke vloei en bloei: / watter séér stembande moet hulle nie wees nie!”

  2. Dankie Daniel…ek sal bietjie na die bundel gaan loer. Is daar nog Afrikaanse digters wat klankgedigte skryf waarvan jy weet? veral met meer klanke en minder woorde?

  3. Desmond :

    Daniel, ek het eenkeer ‘n baie goeie voorlesing van Die Tweegeveg gehoor — ek vermoed dit was op een van jou RSG-programme, dalk in die vroee 1990’s. Kan jy dalk so iets onthou?

  4. Daniel Hugo :

    Hannalie, jy kan ook gaan kyk na gedig “45” in Breyten se bundel “Met ander woorde vrugte van die droom van stilte”. Die gedig begin so: “:is klaps par gel te nar?” en dit eindig met: “blawerig, eigor, silksot / an hooip: egalig soei!”
    ‘n Baie bekende een is Peter Blum se sonnet “Man wat mal word”, waarin die taal sy sinvolheid verloor en verbrokkel tot blote klank.

  5. Daniel Hugo :

    Ja, Desmond, die voorleser was Gaerin Hauptfleisch.

  6. Daniel Hugo :

    In sy opstel “Moderne digkuns” (opgeneem in die opstelbundel “Naaldekoker”, Tafelberg, 1974) verwys D.J. Opperman na “Man wat mal word” van Peter Blum en fabriseer hy sommer daar en dan ‘n klankgedig, “Die sprinkaan en die donderwolk gesels”:

    Tiek, tiek, prr, prr,
    boe
    tiek, pr, pr. pr.
    boe-boe-boe
    t, t, t, t
    Boe-wa, boe-wa
    Kabeltsja!
    tiek, tiek, pr. pr.

    Opperman se kommentaair hierop is: “Dié soort gedig kan ‘n mens eindeloos beoefen, maar dit is nie opwindend om te lees nie, is beperk en kan slegs effens klanknabootsend werk. Omdat betekenis en sin uitgeskakel is, verloën dié soort vers in sy strewe om musiek te word, helfte van die wese van die digkuns.”

  7. Desmond :

    Breyten Breytenbach lees (of sing, amper…) “:is klaps par gel te nar?” natuurlik uitstekend met musikale begeleiding op die CD Mondmusiek.

  8. Sjoe, dankie julle. Ek is opgewonde oor Peter Blum- wil dit defnitief gaan opsoek, en ek hoop die biblioteek het “Naaldekoker” van DJ Opperman. I.v.m sy stelling- Ek besluit nog of ek saamstem of nie. Ek hoop van harte RSG doen weer n heruitsending van “die tweegeveg” ek sal dit baie graag wil hoor!

  9. Breyten Breytenbach :

    diggeklank –
    wig en wrank
    stankbestand vergate :
    dankiiiieeee dywel!

  10. Breyten Breytenbach :

    woknakwyf jou guile tyf
    jy rukkings al die riele styf
    wand war het jy alooit gehoor
    vae klank verkragter
    en ‘n giggie van voer?

  11. die wolkopwyf giggel oor die giggie…

  12. Sonja Hindley :

    My seun Robert is hierdie jaar in graad 8 en neem van jongs af drama en het ‘n baie mooi talent vir teaterwerk. Ons pak hierdie kwartaal Die Tweegeveg aan om hom bloot te stel aan klankdigwerk en bewegingsteater. Ek sou baie graag met Breyten wou kontak maak om sy oorspronklike gedagtes rondom die gedig te verstaan en Robert se vertolking daarvan te inspireer. Andersins sou ek ook graag die RSG-uitsending daarvan in die hand wou kry. Het enige-iemand raad?

  •