Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
7 October 20117 October 2011

Ars poetica-projek. Daniel Hugo

 

Coenraad Walters, onderwyser by Somerset College, het die afgelope weke ‘n besonder interessante projek met sy matrikulante geïnisieer. Hulle het naamlik ‘n stel vrae oor die kwessie van ars poetica-gedigte opgestel wat aan bepaalde digters gestuur is vir hul kommentaar.

In ‘n eerste aflewering van dié projek plaas ons die vrae wat aan Daniel Hugo gerig was, en sy antwoorde daarop, hieronder.

***

Hoe het Opperman u bundels, naamlik  Die Boek Daniel, Dooiemansdeur en Korte Mette beïnvloed?

Die Opperman-invloed is baie sterk in my eerste twee bundels: Korte mette (1982) en Die klein aambeeld (1983). Opperman was destyds die poësiekeurder van die uitgewery Human & Rousseau, waar dié bundels verskyn het. Die titel Die klein aambeeld is dan ook deur hom voorgestel, en daarom is die bundel aan hom opgedra. Sy invloed in dié twee bundels is veral te vinde in die Persiese kwatrynvorm (aaba) wat ek destyds byna obsessief geskryf het. In sy opstelbundel Wiggelstok het Opperman ‘n stuk geskryf oor die Persiese kwatryn, waar hy die versbeweging van dié vierreëlige vorm beeldend beskryf. Die kwatrynskrywer is ‘n timmerman met ‘n hamer in sy hand. In die eerste twee rymende versreëls word die spyker twee keer liggies op sy kop getik, in die derde rymlose reël word die hamer hoog opgelig, om dan met ‘n finale hou die kwatryn in die laaste reël (wat met die eerste twee rym) te beklink. Daar word dus ‘n ritmiese spanning in die derde reël geskep. Die volgende gedig uit Die klein aambeeld is ‘n goeie voorbeeld van die Persiese kwatryn;

genesis

nou sweef oor die geklots en gedein

die gees oor die baaierd van die brein

en deur die woord orden hy elemente

tot die klein kosmos van ‘n kwatryn

Die woord “baaierd” het ek by Opperman leer ken uit sy bundel Blom en baaierd. Die baaierd is die chaos of ongevormde staat waarin die aarde verkeer het aan die begin van die Bybelboek Genesis. Daar word ook beskryf hoe die ordenende, skeppende Gees van God oor die waters gesweef het. Die aarde is dus uit die ongevormde chaos geskep.

In Die klein aambeeld het ek ‘n alternatiewe beeld vir die Persiese kwatrynvorm probeer vind in:

die kwatryn as skerpioen

met die een tang word gogga gegryp

en met die ander deeglik vasgeknyp

sodat die gesegmenteerde stert kan oor-

buig met sy dodelike angelspuit

Die “gogga” is die onderwerp waaroor die kwatryn handel. Die morfologiese enjambement “oor- / buig” in die rymlose derde reël is nie net ‘n illustrasie van die skerpioen se “gesegmenteerde stert” nie, maar stel ook die spanningskurwe voor van die Persiese kwatryn se ritmiese opbou tot ‘n klimaks. (Die klimaks word ongelukkig ‘n bietjie verwater met die halfrym “-spuit” wat slegs assoneer met “-gryp” en “-knyp”. Dit is dus minder klinkend as wat Opperman daarvan sou gehou het!)

Terug by die kwatryn, die kunswerk of “blom”, wat uit die “baaierd” ontstaan. Opperman was ‘n aanhanger van Michelangelo, die Italiaanse beeldhouer uit die Rennaissance, wat geglo het dat die beeld reeds in die marmer vasgevang is en dat dit die kunstenaar se gawe en plig is om dit raak te sien. Dan hoef hy slegs die rots rondom die beeld los te kap om die “engel uit die klip” te verlos. (Engel uit die klip is inderdaad een van Opperman se bundeltitels.) In Opperman se poëtiese woordeskat is “blom” en “engel” sinonieme, net soos “baaierd” en “klip”.

Die kunstenaar kan egter deur die beoefening van sy kuns “beseer” word, dit wil sê emosionele of psigiese skade opdoen, omdat hy in die skeppingsproses te diep in die eie psige of ervarings gaan delf het. Dit is waarskynlik wat die volgende gedig in Korte mette wil sê:

duiweboer

as seun het hy duiwe aangehou

en elke middag aan die hok gebou

gehamer en gesaag – maar nou

dat hy gevleuelde woorde laat pronk en paar

bestaan daar vir sy vingers steeds gevaar  

(Die woord “paar” dui natuurlik ook op die paarrym van die twee slotreëls.) Opperman het die fisiese en psigiese worsteling van die kunstenaar manjifiek beskryf in “Carrara”, sy gedig oor Michelangelo.

Die outobiografiese gegewe in Die boek Daniel (1986) is geïnspireer deur D.J. Opperman se Komas uit ‘n bamboesstok (1979). Komas beskryf nie net die alkoholiese Opperman se siektegeskiedenis (komas vanweë lewerversaking) nie, maar betrek ook sy hele familiegeskiedenis. In die gedig “Selfportret” uit Die boek Daniel noem die na-apende digtertjie homself ‘n “potensiële alkoholis”, en in die res van die bundel skryf hy ook oor sy persoonlike lewe. (Terloops, my heel eerste digbundel wat onder die skuilnaam Daan van der Merwe verskyn het, Saad uit die septer van 1981, is baie bewustelik as ‘n parodie op Komas uit ‘n bamboesstok gestruktureer.)

In Dooiemansdeur (1991) staan die gedig “Ontnugterde digter (vir DJO)” wat ‘n soort herskrywing is van D.J. Opperman se baie bekende gedig “Digter”. Op die Versindaba-webwerf beantwoord ek ‘n aantal vrae oor “Ontnugterde digter” in die rubriek “Digstring“.

Het Opperman steeds ‘n invloed op u werk en denke of het u siening oor die jare verander? Indien dit verander het, hoe het hierdie proses verloop?

My siening het waarskynlik redelik konstant gebly.

Dink u dat Opperman se denke oor die digkuns toepaslik is in ons moderne samelewing?

Ek weet regtig nie. Ek stel meer in die tegniek van die digkuns belang as in die onderliggende ars poetica of filosofie of ideologie. Die digkuns het in elk geval omtrent geen invloed op die samelewing nie – doodgewoon omdat so min mense gedigte lees.

Hoe vergelyk u eie denke oor die ars poetica met dié van Opperman?

Sien vraag 1.

Is daar dalk ‘n groter of soortgelyke invloed(e) op u werk en hoe het hierdie digter(s) u beïnvloed?

Ek is waarskynlik ook beïnvloed deur die soort vernufvers wat N.P. van Wyk Louw in Tristia skryf. Vernufpoësie word gekenmerk deur ‘n intellektuele spel met die taal. In Engels staan dit bekend as poetry of wit. Woordspel vorm ‘n belangrike deel van vernufsgedigte.

Wat is u hoofboodskap oor die ars poetica wat u met u gedigte aan lesers oordra?

Miskien dat net soos die skeppingsproses dikwels ‘n worstelstryd is, die leser ook moeite moet doen om die digter te verstaan. So iets. Ek dink nie ek verstaan hierdie vraag nie. ‘n Ars poetica het nie ‘n boodskap nie – sommige gedigte wel.

Daniel Hugo

5 Oktober 2011

 

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Hannalie Taute. Klankdig
Lina Spies. God, die magtige magneet: die religieuse motief in die poësie van D. J. Opperman →

4e gedagtes oor “Ars poetica-projek. Daniel Hugo”

  1. Daniel Hugo says:
    9 October 2011 at 14:15

    Die perfekte oplossing! Baie dankie, Breyten.

    Reply
  2. Breyten Breytenbach says:
    9 October 2011 at 12:13

    Daniël – met permissie. Jou vraagteken by die laaste reël van jou skerpioenkwatryn het my lastige vinger laat jeuk. Miskien
    “buig met sy angel doodmaakryp”?
    Mens behoort eintlik jou hande van ander se verse af te hou – maar ek kon my nie daarvan weerhou om saam te wil gesels nie! Dankie vir ‘n prikkelende uiteensetting.

    Reply
  3. Daniel Hugo says:
    7 October 2011 at 09:50

    So haal ‘n mens se verlede jou in!

    Reply
  4. Desmond Painter says:
    7 October 2011 at 08:43

    Daniel, ek het heel toevallig vanoggend, voor ek hierdie plasing gesien het, Die Klein Aambeeld op my rak raakgesien en heelwat van die gedigte daarin gelees. My kopie is in uitstekende toestand en dit het nie meer ‘n prys op nie — ek kan glad nie onthou of aflei waar en wanneer ek dit gekoop het nie. Miskien het ek ‘n spul van jou bundels gekoop nadat ek jou in 1991 in die Brackenfell Biblioteek ontmoet het, by ‘n geleentheid wat Tilla Diedericks gereel het en waar Danie Botha (uitgewer) ook opgetree het. Twintig jaar gelede. Happy anniversary!

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies
  • Carla Botha. Lesse in Wêreldreise
  • Stephan du Toit. Moed

Nuutste bydraes

  • AVBOB Persverklaring
  • Wat lees jy? Living the ultimate carnivore lifestyle (Hendrik Marais)
  • Ferdi Wheeler. Remissie
  • Joan Hambidge. Sheila Cussons en Borges
  • Miel Vanstreels. Siekebesoek

Nuutste kommentaar

  1. Joan Hambidge on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Borges11 August 2026

    Dank. Albei is wonderbaarlike digters. Ek lees nou weer die hele Cussons en hoe sy Neruda en Borges vir ons…

  2. Mirinda on Krige Visser. lykskou10 August 2026

    Iets wat mens nooit sal vergeet nie....veral wanneer so jonk en sensitief...en die reuke sal mens altyd bybly...

  3. Eugene Vorster on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Borges10 August 2026

    Beste Professor Hambidge, baie dankie vir hierdie boeiende artikel. Dit inspireer ‘n mens om verder oor Borges & Cussons te…

  4. Dr PS Swathe on Resensie: “Krap – oop toe om rond uitkrap” (Koos de Wet)6 August 2026

    Naledi, wat het hier gebeur ??

  5. Hester Steenkamp on Digtersprofiel: Melt Myburgh3 August 2026

    Oewerbestaan is een van my kosbaarste besittings. Die bundel lê my baie na aan die hart.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d