Die vloksy rok
Geskenke het blink bly skommel
toe hy haar hand kom vra: duur bly afsteek
teen haar blousis rokke met blommetjie-wit
omboorsel, die verlepte tooisels
van geperste fluweel om die bolyf,
en onderrokkies van Sjinese krip
met geskulpte Holland kant.
Sy’t haar rok met trots gedra,
dié rok, háár rok van gevlokte sy;
haar vingerpunte bly uitsteek
om die soomsvoue net-net op te lig,
en oor die werf gestap op polfyntjies
tussen polle sprietgras deur om die molslaai-
blom in sy weerlose geel nie te vertrap nie,
maar nóg te sien verkleur.
En, elke keer as die saadvlieërs,
sag soos floretsy, sag
van die leeutand se stam oplig
en wegdryf op die wind
voel sy haarself saam op beur:
Haar voetstappe tussen draaiende tolbos
hoef sy nie meer te markeer nie, oor haar erf
so oneindig oop en leeg gesloop lyk;
oor slote soos grondrowe
oral begin oopskeur rondom haar.
Sy wat nie kon weet
hoe sy moes aanhou regop loop
om haar tree in te pas nie;
om vrolik en minlik, sonder vrees
vrou te word van ‘n man.
*
Voorbrande
Uit: Boek vir vroue, Deel I:
Voorbrande vleg swart linte
oor die winterige heuwels
van die middellande.
Vuurvegters skroei polle gras
binne en buite die drade
kruis en dwars
alkant tot veilige afstand.
Jy hardloop voor my uit
om eerste op die spaaider te klim:
Die swart knopiespinnekop
wat tussen denne staan en wieg.
Ek voel die fluweel lint
so maklik gly
uit jou bos rooibruin hare;
hoe dit op die grond beland
steeds vasgestrik
soos ‘n klein verbond.
Maar, toe jy dit argloos optel,
en ‘n vaster vlegsel bind,
het dit bewend soos ‘n agpoot
op jou agterkop bly bons,
en het jy vir altyd
uit ons blinkjeug dae
op die kapkar weggery.
Die voorbrande lint
oor my vaalbruin dae,
kronkel en keer verniet
áls wat brand in my hart.
© Lucie Möller. 2011
Baie goed afgemeet. Kyk hoe blyk die materiaal as dit los woorde is: fluweel lint.