Met hande soos van hout
“They were men with the bark still on”
(Frederick Remington, skilder, VSA)
In jou tropiese tuin waar jy palmblare afsaag
soos monderings en maskers van gaas,
bly jy my seun, met hande soos my pa s’n:
harde hout met die bas nog aan.
Uit fragmente, geskeurde vesels en ligamente
probeer ons ’n stamboom onthou.
Die wind bly ruk aan langstambome.
Dit kan breek van te veel.
*
Potskerwe
‘n skerf porselein uit die see
het vir ons gewys hoe fýn
blou strepe verf op glasuur
se wit ingebrand kan wees,
en hoe die geskuur van golwe,
amper alles gelyk afwas.
Tuis skink jy noggemaal groen tee.
Op die koppiebodem
flodder teeblare:
toekomspatrone
wat dalk kan pas.
© Lucie Möller / 2015