Daar kom ‘n tyd, soms voel dit soos tye, wanneer mens moet begin uitsorteer, weggooi, wegpak. En dan is dit skielik asof stemme uit ‘n verlede waarvan jy lankal vergeet het weer boontoe kom. Miskien omdat jy nou nader aan hulle is.
In Parys is die stof onsigbaar. Jy sien of ruik dit nie – alhoewel Parys ‘n besonderse reuk het, soos alle stede maar. Dis waarskynlik die enigste plek op aarde waar jy my ná ‘n afwesigheid van jare geblinddoek in die middel van die nag kan los en ek sal instinktief wéét waar ek is. Niks te doen met sentimente nie – bloot die palimpses van oorlewingspatrone, reise en drome wat hier weggeraak het.
Maar trek jy na ‘n lang tyd ‘n laai oop of gaan soek op ‘n boonste rak na ‘n verlore meesterwerk, dan is dit daar in ‘n lagie: die klewerige gitswart stof van Parys. Dis natuurlik die stadsbesoedeling – arglistig, die onwaarneembare verstofliking van ‘n stad waar miljoene mense lewe en beweeg, met strate vol motorkarre (“stink, warm beeste,” het Jan Rabie hulle met misnoeë genoem) en onsigbare rook. Miskien is dit meer roet as stof. (En die stad is nogal trots op sy nuutgewonne skoonheid en suiwerheid, dat allerlei voëlsoorte na vele geslagte weer teruggelok is na die parke. Oorkant my ateljee woon ‘n egpaar kraaie in die bome; hulle hou my dop. Daar’s nie haas nie.)
Daar is ou notaboeke, ongepubliseerde gedigte op dun velletjies papier nou haas onleesbaar, ‘n bestellys van maandelikse ‘ekstras’ aangekoop in Pollsmoor-gevangenis teen die einde van jou tyd daar – waaronder drie soorte tabak, natuurlik vir die smokkel in ruil vir vrugte of leesstof. ‘n Swartbesmeerde lêer val oop. Briewe van André, Karel Schoeman, Ampie, Jan (o.a. uit Kreta)…
Dis ‘n poskaart van Peter Blum. Op die voorkant jou naam en adres. Die stempel wys dis om 2.15pm die 14de September 1967 in Chiswick gepos.
Soos die toeval maar maak, noudat alles begin toeval en swaar van voorbodes en ‘tekens’ is, het jy enkele dae gelede in ‘n ander lêer op ‘n brief van Henrietta Blum afgekom, twee ligblou velletjies lugpospapier… “Jou brief van 1967 het ek op die tafel in die woonkamer gekry en dit as teken van Peter aanvaar, dat ek vir julle moet skryf: op 5 Desember het hy in die hospitaal gesterf. (HB se brief is gedateer 8 Desember 1990) [-] Dankie dat jy met soveel innige waardering van sy gedigte gepraat het. Die mense het Peter nooit verstaan nie. Hy wou nie laat agterkom hoe verlore en ontuis hy voel nie. Een maal ‘n vlugteling, vir ewig ‘n vlugteling.”
Wat hét geword van Peter Blum se gedagtes? Wat wou hy te kenne gee met die boodskap? (Die ander kaarte was veel meer wrang, pittig, skunnig, snaaks.) Waarskynlik het jy op daardie stadium vreeslik vol van jou eie voortvarende selfvoldane insigte vir hom die liviete probeer voorlees oor wat in Moermikland gebeur. En wat sou die toepassing kon wees op wat nou aangaan, sê nou maar aan die Skellumbos Universiteit, die witgemuurde vesting van behoorlik onnosele maar so gedienstige ‘etiese’ ydelheid?
so gepraat van P. Blum, geagte Breyten, verskoon die voete(aai kant dans):
Jong tik-dealer
Die globe se slangnek suig ammel op en neer.
Dis mos die empty safe se draaiboek daai.
Ons hok is met post-dated tjeks verbeur,
so hier deal ek nou op straat woordslaai.
Sam Sung Spieëlberg en sy filmcrew V’rinnewee
het my suster gedrug en haar naam geskaai.
Nousy ôk ‘n piece-for-rent op hoek sonner eer,
haar debut gangbang op U-tube gelaai.
Ma’ djy wil weghol van hie’ virre rukkie-
Chill nou, jackie celebrities salie pla,
ammel innie sak vir cheap en ‘n tikkie.
At least het djy die berg vir djou trippie.
Dja, Mêrrim, onse backdrop sonner weerga.
Hy’s hoeka nou ‘n wonderlike ou klippie.
Ek seg dankie saam met Miesies Blum.