Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
15 November 2011

Kopskuif. Die stand van openbare diskoers (Charl-Pierre Naudé)

 

Kopskuif is ʼn nuwe inisiatief waarmee ons op die Versindaba-webblad begin. Hiervolgens wil ons van tyd tot tyd op bepaalde kwessies fokus deur ʼn stel vrae aan spesifieke kommentators te stuur vir hul insette. As eerste “kopskuif” het ons gedink om op die belangrike kwessie van openbare diskoers te fokus aangesien die opmerking heel dikwels gemaak word dat die vlak van openbare gesprekvoering veel te wense laat … Té gereeld word die man eerder as die bal gespeel wanneer meningsverskille ontstaan en ontaard die gesprek eerder in ʼn verdagmakery as wat daar konstruktief oor ʼn bepaalde aangeleentheid besin word.

As tweede bydrae plaas ons Charl-Pierre Naudé (foto) se reaksie.

*** 

Charl-Pierre, kommer word dikwels uitgespreek oor die lae vlak van openbare diskoers in Suid-Afrika. Wat is jou mening hieromtrent?

Die vlak van diskoers is beroerd, maar het begin verbeter sedert die lae vlak daarvan in die openbaar veroordeel is. Wat beteken dat ‘n groot rede vir die beroerdheid gewoon kansvattery is. Dis rede 1.

Daar is nog redes. Nr. 2: Debatte word dikwels gevoer vanuit die eie identiteit en die sug om daardie identiteit te bevorder. Dit gebeur uiteraard op strydvaardige wyse. Daar word nie gedebatteer  oor aangeleenthede of sake nie en ook nié vanuit ‘n strewe na groter insig nie. Ons identiteitspolitiek van die verlede en van die hede lê ten grondslag hiervan.

Rede nr. 3: Die “waarheid” in Suid-Afrika word nie gesien as iets wat feitelik begrond hoef te wees nie maar iets wat aanvaarding moet geniet. Dit was so in die verlede en is weer so. Tydens die Protestantste rasoligargie van apartheid het onder andere “geloof” pleks van feitelike begrondings die septer geswaai. En vandag is dit die  heersende fasiele opvatting van  “demokrasie” of verantwoordelike  besluitneming as gewoon die mees wyds aanvaarde idee, sowel as die feit dat die nuwe Suid-Afrika ‘n media-skepping (dus blatant ‘n “storie” is). EN nog iets: die postmoderne verval van vaste etiese basisse. Al drie hierdie dinge lê op húl beurt ten grondslag van rede nr. 3.

Watter faktore, volgens jou, gee daartoe aanleiding dat ʼn bepaalde meningsverskil dikwels in ʼn persoonlike twisgesprek ontaard eerder as konstruktiewe debat?

Ek het die vraag hierbo beantwoord. Maar ek sal ‘n verdere voorbeeld gee. Die flagrantste oortredings en minagtings ten opsigte van openbare argument kom dikwels van individue wat voormalig of huidiglik hulself verdruk voel, soos swartes en byvoorbeeld sommige homoseksuele persone. Maar dan kan mens vra: Waarom is organisasies soos Solidariteit of Afriforum nie ewe skuldig hieraan nie, huidiglik is daar ook sprake van diskriminasie teenoor húlle mense? Dit lyk of daar bykomstiglik ‘n opportunistiese houding teenoor jou eie morele kapitaal aanwesig moet wees. Hier wil ek graag ‘n kostelike passasie uit die mond van ʼn karakter uit Orhan Pamuk se roman “Snow” aanhaal: “It is not enough to be oppressed, you must also be in the right, because most oppressed people are in the wrong to an almost ridiculous degree.” Die probleem kom dus juis in wanneer “verdruktes” dink hulle hoef nie meer reg te wees of te probeer wees nie want hulle beweerde “verdrukking” regverdig alles en enige houding.     

Watter riglyne beskou jy as noodsaaklike uitgangspunte ten gunste van konstruktiewe gesprekvoering?

‘n Groter bewustheid van die “reëls” van argumentering. Die opponering en dekonstruksie van redes 1 – 3 genoem hierbo, en ‘n meer onverbiddelike houding deur mense wat in ʼn posisie is om daardie reëls te bevorder.  

Kan jy dalk voorbeelde noem (hetsy plaaslik óf internasionaal) van konstruktiewe meningsverskille? Noem gerus ook waarom juis dié betrokke debat vir jou tot voorbeeld dien.

Die onlangse debat oor skuld en apartheid was konstruktief. Mense het hul heilige dolosse op die tafel geplaas, ander het dit met argumente stukkend geslaan. Dit was konstruktief omdat die pretensie tot ontleding minstens bestaan het, die debat het in die filosofiese sfeer ontstaan. Nog ʼn konstruktiewe debat is die huidige kritiek op die fondasies van die verbruikerskapitalisme, soos beliggaam in die Wall Street betogings. Die betogings is weliswaar strydvaardig maar die argumente ter stawing daarvan word daagliks in die pers gevoer.   

 

– Charl-Pierre Naudé

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Kopskuif. Die stand van openbare diskoers (Gerrit Brand)
Kopskuif. Die stand van openbare diskoers (Johann Rossouw) →

1e kommentaar op “Kopskuif. Die stand van openbare diskoers (Charl-Pierre Naudé)”

  1. antoinette says:
    14 August 2012 at 06:00

    Heerlik om te lees as ek my slapelose nagte hiermee kan verwyl. Dankie, Charl- dis ‘n gawe gods! Altyd ‘n fees in albei tale

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • ND Cronjé. wiskunde
  • Driekie Grobler. skoffeer
  • Digtersprofiel: Pieter Odendaal
  • Yves T’Sjoen. “’n pêrel stilte”
  • Joan Hambidge. Cussons en “Die knetterende woord”

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on Gunther Pakendorf. hoe dooier hoe mooier16 September 2026

    Dankie Gunther. So op Breyten se verjaarsdag (Pampoendag). - Marlies Taljard

  2. Annora Eksteen on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie11 September 2026

    Net so. Ek kan nie sonner my voorraad vuur houtjies nie. Kerse en gasstofie en die Kaap is heerlik Frans…

  3. Annora Eksteen on Vers-en-klank: Joan Hambidge11 September 2026

    Bai geluk professor Joan! Lank leef! ♥

  4. Bernard Odendaal on Resensie: “Van man tot man” (Olive Schreiner, versorg & verwerk deur JM Coetzee, vert. deur Antjie Krog)10 September 2026

    Jy het my nou nog nuuskieriger gemaak. Dankie, Marlies!

  5. Yves T'Sjoen on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Dominique Botha: Die ander waarheid8 September 2026

    Bijzonder interessant, Joan. Er valt een boeiende literatuurgeschiedenis te schrijven op basis van dergelijke literaire correspondenties of consonanties. Dat betekent…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • onderhoude
  • Onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d