Kopskuif is ʼn inisiatief waarvolgens ons van tyd tot tyd op bepaalde kwessies wil fokus deur ʼn stel vrae aan spesifieke kommentators te stuur vir hul insette. As eerste “kopskuif” het ons gedink om op die belangrike kwessie van openbare diskoers te fokus aangesien die opmerking heel dikwels gemaak word dat die vlak van openbare gesprekvoering veel te wense laat … Té gereeld word die man eerder as die bal gespeel wanneer meningsverskille ontstaan en ontaard die gesprek eerder in ʼn verdagmakery as wat daar konstruktief oor ʼn bepaalde aangeleentheid besin word.
As verdere bydrae plaas ons Joan Hambidge (foto) se reaksie.
***
Kommer word dikwels uitgespreek oor die lae vlak van openbare diskoers in Suid-Afrika. Wat is jou mening hieromtrent?
Die bydraes alreeds van ander deelnemers aan hierdie debat bewys dat daar tog op ‘n sinryke wyse verskil kan word. Die moderne media – en veral blogs – gee aan almal ‘n reg tot ‘n siening wat onmiddellik gepubliseer word. Dikwels in die hitte van die stryd word opmerkings gemaak wat die skrywer waarskynlik agterna berou (as dit nie onder ‘n skuilnaam is nie). Ons het in veral in die verlede op Litnet (met ‘n skoorsoekende webmeester wat die vure wou stook) bytende en lafhartige kommentaar gekry. ‘n Mens moet egter wanneer jy ‘n mening publiseer, verwag dat ander miskien anders mag oordeel. As ek byvoorbeeld sou skryf dat ek dink ‘n vergete digter is onderskat, sal kenners van daardie tydvak van my kon verskil.
In die ou dae van Standpunte het dit maande geduur voordat ‘n gedig opgeneem is. Die digter het dan ‘n brief gekry van Ernst van Heerden wat ‘n streng keurder was. Op webruimtes is gedigte dalk gouer daar; en dalk gouer vergete? Dieselfde geld standpunte op die internet wat dikwels niks minder as ‘n getjommel word nie. Wie kan nou die hek teen die internet wat dikwels ‘n Raka word, sluit?
Ons het Crito (wie dit ook nou mag wees?) wat resensies beoordeel.
Ten spyte van die ligte skokgolfies wat dit soms veroorsaak, hou dit die gesprek aan die gang. Terloops, ek is nie Crito nie. My gevoel is dat dit ‘n groepspoging is tensy die persoon sy / haar styl kan aanpas.
‘n Resensie is ‘n eerste mening van ‘n ingeligte (wel hopelik) persoon wat bereid is om binne die voorgeskrewe lengte en teen ‘n spertyd die werk te lewer.
Ek is sowel skrywer as resensent. So ek ken die bedryf van beide kante af. As jy ‘n meningsverskil het met ‘n kollega wat dit later uithaal in ‘n resensie met min pitkos, moet jy dit ignoreer en eerder ‘n gedig skryf. Of kyk wat van waarde mag wees. Selfs uit die mees onkundige of persoonlike reaksie is daar iets te lere.
Ek skryf altyd ‘n reaksie op ‘n kwetsende resensie vir myself, pos dit terug aan my eie e-pos-adres, lees dit die volgende dag en transformeer dit later in ‘n gedig. Of dink na oor dit wat geldig is.
Kan ‘n mens resensent en skrywer wees? Ja. Jy moet net jou posisie duidelik verklaar.
Watter faktore, volgens jou, gee daartoe aanleiding dat ‘n bepaalde meningsverskil dikwels in ‘n persoonlike twisgesprek ontaard eerder as konstruktiewe debat?
Miskien wil iemand die tafel dek vir sy eie soort werk en dan (onbewustelik) ‘n polemiek begin om ‘n saak te stel vir sy eie werkswyse?
Ons letterkunde is besonder klein. Almal ken mekaar wat faksievorming bevorder.
Ons het verskillende persoonlikhede, smake en ons is mense: almal het blindekolle. Daar is nie soiets as ‘n Objektiewe resensie nie. Daar is wel iets soos ‘n goed geargumenteerde bespreking waarin die kritikus sy / haar smaak uitspel en binne die opset van die bespreking verduidelik. Ek dink nie kollegas behoort mekaar te resenseer nie, maar binne ons klein bedryf gebeur dit onvermydelik wel dat ‘n resensent oor ‘n vriend / kollega iets skryf. As dit ‘n blinde bewondering of verbete aftakeling is, sal die kierangs braai. Onvermydelik berokken dit die boek dalk skade.
Daar is mense van wie ek nie hou nie; maar ek mag wel van die boek hou of eerder niks daaroor skryf nie. Dan is daar mense van wie ek hou, maar hulle werk praat nie met my nie. Dan bly ek liefs stil.
Ons moet ook versigtig wees om sterk meningsverskille dadelik as “persoonlik” af te maak. Dikwels is ‘n sterk antwoord noodsaaklik om die ander standpunt te stel. Ek dink aan Camille Paglia se “Sontag Bloody Sontag” waarop Sontag alle swye bewaar het en die argument dus uitgewis het. Totdat haar seun opgekom het vir haar. En dit het toe so kleinserig gelyk, omdat hy die satiriese aspek en OTT-aanslag van Camille Paglia se reaksie nie genoegsaam verreken het nie.
In Engeland is Martin Amis dikwels aan mense se kele. Dit is wat hy oor Nabokov se laaste roman geskryf het: “: “When a writer starts to come off the rails, you expect skidmarks and broken glass; with Nabokov, naturally, the eruption is one on the scale of a nuclear accident.” (The problem with Nabokov http://www.guardian.co.uk/books/2009/nov/14/vladimir-nabokov-books-martin-amis
Dit gaan hier egter om ‘n belangrike saak: die publikasie van ‘n nagelate roman deur die outeur se seun en die Amis se harde woorde was noodsaaklik om die skade uit te wys.
Die kortste bespreking was van Abba se Voulez Vous waarop die resensent Non! geskryf het. In Afrikaans, as ek reg onthou, het Brink indertyd in een paragraaf ‘n digbundel afgeskryf met die woorde dat hy hom nie daaroor wil uitlaat nie, want daar is te min poësie te vinde in die boek.
Watter riglyne beskou jy as noodsaaklike uitgangspunte ten gunste van konstruktiewe gesprekvoering?
Wanneer jy iets plaas ter wille van ‘n gesprek, stel jou saak onomwonde. As jy egter iets plaas wat omstrede is – soos julle weet nie eintlik so goed as ek nie; of julle is slaafse navolgelinge van ‘n beweging / diskoers, hier is die waarheid – gaan daar reaksie wees. Trouens, jy weet wanneer jy iets publiseer, gaan daar altyd iemand iewers wees wat gaan verskil, jou resensie by ‘n boekbekendstelling gaan brand of vir jou ‘n anonieme geskenk toestuur. Of jou verwen met ‘n bitsige e-pos.
If you can’t stand the heat, get out of the kitchen.
Ek onthou hoe wyle W.E.G. Louw, ‘n fantastiese teaterkritikus op sy dag, vertel het dat hy ‘n pakkie in die pos ontvang het na ‘n striemende resensie. Binne in watte toegedraai ‘n klein hondedrolletjie. Hulde aan Louw. Hy het dit skreeusnaaks gevind.
Die belangrikste riglyn is: moenie verbaas wees as iemand reageer of verskil nie. Moenie jou standpunt verander nie. Wanneer jy bloggereer en jy begin amendeer, gee jy dalk toe dat jou argument water hou nie?
Wat beteken jy moet ook kan toegee dat ander kan verskil of dat jy gewoon nie iets raakgesien het wat ‘n ander leser uitwys nie.
Gee die persoon eerder gelyk. Jy is nie in ‘n bokskryt nie. Die denkbeeldige bokskryt van die polemiek was plesierig vir my jare gelede; nie meer nie.
Dan is daar (en hierdie is ‘n baie belangrike riglyn) wat warm debatte is. Soos die taaldebat. As jy hier indreun, gaan daar of ‘n dawerende stilte wees van die vreesbevanges aan die US of diegene wat sterk, ingeligte menings het. Ek sal tweekeer dink voordat ek met Herman Giliomee redekawel oor die statistieke hieroor of vir Bill Nasson aanvat oor byvoorbeeld die Boereoorlog. Hieroor het ek my sieninge ja, maar ek is bewus daarvan dat historici op sekere gebiede ‘n groter prentjie raaksien. Dieselfde geld my beskouings oor wat sê byvoorbeeld ‘n geslaagde gedig is.
Dit is jammer dat die knieknak-reaksie altyd die groepering of etiket is. Taalbulle, regs, links, gay, militant, grys skoene eerder as om te lees wat die persoon skryf.
Die debatte in die briewekolom van Die Burger (wat gelukkig nou tot stilstand gekom het) tussen Kreasioniste en Ewolusioniste was die beste voorbeeld van mense wat nie hóór wat die ander een sê nie. En dus wonderbaarlik by mekaar verbypraat.
Kan jy dalk voorbeelde noem (hetsy plaaslik óf internasionaal) van konstruktiewe meningsverskille? Noem gerus ook waarom juis dié betrokke debat vir jou tot voorbeeld dien.
‘n Konstruktiewe meningsverskil kan ook ‘n persoonlike of satiriese een wees, al is dit net om die vermaaklikheidswaarde.
Nederlanders kan driftig verskil en tog mekaar steeds vir ‘n biertjie agterna kry.
Om iemand name te noem, bewys dat jy nie genoeg intellektuele argumente het nie. En om op ‘n openbare platform ‘n mede-kritikus as oneties, ‘n kansvatter of watookal te brandmerk, boemerang altyd. Oh what’s in a name!
Ek het al op Litnet konstruktief met Bernard Odendaal verskil.
Gerrit Brand wat net fokus op die argument in sy blog op Litnet en nooit kwaad word nie.
Terry Eagleton se resensie van Richard Dawkins se The God Delusion en die debat daaromheen is ‘n leersame stuk, al sou jy verskil van hom: http://www.lrb.co.uk/v28/n20/terry-eagleton/lunging-flailing-mispunching afgetrek 27/11/2011
Kyk net hoe begin Eagleton:
Imagine someone holding forth on biology whose only knowledge of the subject is the Book of British Birds, and you have a rough idea of what it feels like to read Richard Dawkins on theology. Card-carrying rationalists like Dawkins, who is the nearest thing to a professional atheist we have had since Bertrand Russell, are in one sense the least well-equipped to understand what they castigate, since they don’t believe there is anything there to be understood, or at least anything worth understanding. This is why they invariably come up with vulgar caricatures of religious faith that would make a first-year theology student wince. The more they detest religion, the more ill-informed their criticisms of it tend to be. If they were asked to pass judgment on phenomenology or the geopolitics of South Asia, they would no doubt bone up on the question as assiduously as they could. When it comes to theology, however, any shoddy old travesty will pass muster. These days, theology is the queen of the sciences in a rather less august sense of the word than in its medieval heyday.
Dawkins on God is rather like those right-wing Cambridge dons who filed eagerly into the Senate House some years ago to non-placet Jacques Derrida for an honorary degree. Very few of them, one suspects, had read more than a few pages of his work, and even that judgment might be excessively charitable. Yet they would doubtless have been horrified to receive an essay on Hume from a student who had not read his Treatise of Human Nature. There are always topics on which otherwise scrupulous minds will cave in with scarcely a struggle to the grossest prejudice. For a lot of academic psychologists, it is Jacques Lacan; for Oxbridge philosophers it is Heidegger; for former citizens of the Soviet bloc it is the writings of Marx; for militant rationalists it is religion.
Letterkundige tekste is nie wetenskaplike tekste nie. Dis waarom daar meningsverskil sal wees. En dikwels word skrywers vergeet of verkeerd beoordeel. Kyk byvoorbeeld hoe Etienne Leroux weer opstaan uit die dode (Harold Bloom se Apophrades) in Deon Meyer se 7 Dae en Kerneels Breytenbach se Piekniek by Hangklip.
In hierdie bedryf het ek al skrywers sien kom en sien gaan; modes sien kom en verdwyn.
Die konstruktiewe meningsverskil erken die tradisie en as die skrywer iets nuuts doen, mag die kritiek onkant betrap word. Maar die tyd wys foute uit: oorskatting en onderskatting.
Confucius het beweer dat hy wat met modder gooi dalk mag uitvind hy het later nie meer grond onder sy voete nie. Of so iets.
Sela.
– Joan Hambidge
Leon, jy het gelyk. Ek vind fanatieke Bybelkloppers net so irritant as non-gelowiges wat hul standpunte tot ‘n geloof verhef. Alles met ‘n te (behalwe te perd) moet vermy word, het die oumense geseg. Maar weer eens, jou bydrae tot die Ewolusie-debat was sinryk. Joan
Ek is self ‘n groot bewonderaar van Dawkins & van sy dikvelligheid & grasie (‘n rare kombinasie) om steeds redelik, sistematies & wetenskaplik te antwoord wanneer hy uitgeskel word of met die grootste vertoon van onnoselheid en/of onkunde gekonfronteer word.
Dankie Joan. Ja, ek moet erken dat dit later moeilik was om jou irritasie te verbloem. Self het ek geen erg aan professionele ateiste nie, maar as ek nou ‘n klein lansie vir Dawkins mag breek: die soort teologie waarteen hy te velde trek bestaan wel deeglik, in die VSA se Bible Belt en ook in SA. Nogtans, hy irriteer my soms met sy houding.
Daardie Eagleton-stuk is een van my gunsteling resensies van alle tye. Bloot oor die retoriese vuur en vernuf daarvan. Dit is destyds deur Johann Rossouw in Afrikaans vertaal en in die Vrye(rige) Afrikaan gepubliseer.
Leon, dankie vir jou reaksie. Ek onthou jou skrywes, net soos die bydraes van die kundige Jurie van den Heever, vir wie ek die grootste respek op aarde het. Die debat het egter dikwels ontaard in ‘n wedersydse stereotipering. Wat jy dan ook uitwys dat ‘n evolusionis ook gelowig kan wees. (Daar is ateïste wat eweneens nie kan hoor wat gelowige mense dink nie en onmiddellik ‘n kniekknak-reaksie het en ateïsme soos ‘n geloof begin bedryf.) Die een siening behoort nie ander een uit te sluit: ‘n mens kan ‘n wetenskaplike wees en gelowig. Jy sal egter onthou dat die verbymekaarpratery (Bybeltekste aan die een kant en keiharde wetenskaplike feite aan die ander kant) dit laat ontaard het in ‘n of / of-debat. Ek is van mening dit is eerder en / en. Jy kan sowel gelowig wees as ‘n ondersteuner van evolusie. Ek het egter nie bedoel om genuanseerde denkers hiermee te ontken of te verminder nie. Die debat, in sy geheel, is egter tereg afgesluit, omdat Bybeltekste letterlik vertolk is en evolusioniste later nie meer hul irritasie kon wegsteek nie.
Juis hierom verwys ek na Eagleton se analise van The God Delusion.
Joan, ek het destyds deelgeneem aan die evolusie-kreasionisme “debat” in Die Burger se briewekolom. Ek sou nie so ver gaan as om dit ‘n debat te noem nie, polemiek is miskien ‘n meer beskrywende woord. ‘n Koerant se briewekolom is nie die beste plek om ‘n beredeneerde debat te voer nie en die bedoeling van ons enkele evolusioniste wat wel briewe geskryf het (ek ken baie/meeste van hulle persoonlik) was inderdaad ook nie om te debatteer nie – dit is nie moontlik om ‘n sinvolle gesprek met literalistiese fundamentaliste te voer nie en ons het besef dat dit ‘n onbegonne taak is om enige kreasionis tot die teendeel te oorreed. Ons bedoeling was om ten minste net aan lesers van Die Burger te probeer aantoon dat daar grondige wetenskaplike redes bestaan om evolusie as proses te aanvaar en om die disinformasie en soms selfs leuens wat deur kreasioniste versprei word onder mense se aandag te bring. Feit is dat daar by meeste mense ‘n diepe en grondige onkunde oor evolusie bestaan en dat hulle als wat deur kreasioniste kwytgeraak word vir soetkoek opeet.
Ek dink nie dat ons, dit wil nou sê evolusioniste, nie hoor wat kreasioniste sê nie – ons weet dit baie goed. My vrou Lesli (ook ‘n evolusionis) neem haar Christenskap baie ernstig op en ten minste een van die ander briefskrywers is ‘n ewe toegewyde Christen. So dis nou nie asof die evolusioniste nie weet waarvandaan kreasioniste kom nie, as ek nou daardie uitdrukking mag gebruik.
Die aanvaarding van ‘n skeppergod is per slot van sake tog een van die twee fondamente van fundamentaliste se standpunt (niks op sig self daarmee verkeerd nie alhoewel ek daarmee verskil, maar toemaar), die ander een is ‘n literalistiese interpretasie van die Bybel, maar dit was telkens die kreasioniste wat die “gesprek” (in die mate wat dit hoegenaamd bestaan het) ontspoor het deur godsdiens by te sleep deur evolusioniste voor die voet as ateïste te bestempel – so asof dit ‘n skelwoord is. Ek onder andere het herhaaldelik aangetoon dat baie ondersteuners van evolusie ook gelowig is en dat geloof in ‘n god(e) en die aanvaarding van evolusie nie onderling uitsluitend is nie maar soos ek verwag het, het dit geen impak gemaak nie. Had kreasioniste hul geloof in ‘n skepper meer verantwoordelik beredeneer kon mens moontlik nog ‘n sinvolle gesprek voer, maar wanneer dit aangebied word onder die dekmantel van wat mens alleen kan bestempel as pure pseudowetenskap, oftewel doodgewone verkeerde “wetenskaplike” stellings sowel as doodgewone leuens dan is so iets nie moontlik nie.
Ek het sowat twintig jaar gelede sommer vir die grap vir ‘n tyd lank behoort aan een of ander Amerikaanse Flat Earth Society (of ‘n liggaam met min of meer so ‘n naam, ek is nie eers meer seker nie), die president of voorsitter, wat sy titel ook al was, ek vergeet sy naam maar weet hy is al oorlede, het ‘n doktorsgraad in astrofisika van Caltech gehad (een van die toonaangewende Amerikaanse universiteite met betrekking tot navorsing en opleiding in die natuurwetenskappe) maar die betrokke persoon het ‘n plat-aarde, geosentriese kosmos voorgestaan. (I kid you not!)
Nou ja, selfs in kreasionistiese geledere is plat-aarde aanhangers weliswaar randeiers, maar om ‘n lid van daardie vereniging te wees het net bevestig wat ek al lankal vermoed het: kreasioniste benodig ‘n kopskuif buite die raamwerk van die natuurwetenskappe. En niks wat evolusioniste seg gaan hul opinie verander nie. Al wat evolusioniste kan doen is om te poog om ten minste sommige van hul leuens aan die kaak te stel en te hoop dat enkele lesers van die betrokke koerant sal begin dink.
Om vlugtig terug te kom na die “nie mekaar hoor nie” – OK, daar is enkele SA ateïste/evolusioniste wat sal ek nou maar sê ewe fundamentalisties is as die kreasioniste. Scientism is die Ingelse woord, ek weet nie of daar ‘n Afrikaanse ekwivalent is nie. Dit staan my nie aan nie. Daar is meer in die wêreld as die natuurwetenskappe, en alhoewel die vinnig uitbreidende kennis in hierdie vakgebied steeds al meer insig oor allerhande goed aan ons bied gaan dit nooit, soos in nooit, aan die mensdom die allerantwoord tot alles gee nie. Die feit bly egter staan dat wanneer dit kom by die mensdom se poging om ‘n redelike weergawe te gee van die (hopelik) objektiewe werklikheid wat ons omring dan het ons geen beter instrument as die natuurwetenskappe nie.
En dit is juis waar die gevaar van kreasionisme te vinde is: hierdie mense poog om die hele korpus van die natuurwetenskappe te kaap – nie net wat mens kan bestempel as “gewone” biologie nie, maar ook ander vakgebiede soos byvoorbeeld molekulêre biologie, paleontologie, geologie, fisika, sterrekunde (kyk maar net na die paar briewe wat in die afgelope jaar of wat in Die Burger verskyn het wat die oerknal ontken), en dies meer. Daar is in essensie geen verskil tussen kreasionisme en die voorgenome wetgewing oor die onderdrukking van vrye pers nie.
Goed, hierdie is nou ‘n taamlik lang skuim-om-die-mond respons op wat na alle waarskynlikheid ‘n bloot terloopse opmerking van jou was. Nogtans, evolusie/kreasionisme is al donkiejare ‘n stokperdjie van my en ek dink dat meeste mense nie besef watter gevaar hierdie kreasionistiese denkwyse inhou nie.
Dankie Joan. Dit was raak, insiggewend, vol goeie inhoud wat nuut was vir my, en lekker om te lees.
Om mense te tipeer volgens ras, klas, godsdiens, etikette, ens. maak jy ‘n deur toe wat na hulle insigte en gevoelens lei. Almal in daardie groep; whities, rooinekke, Letties, houtkoppe, Ietas, of wat ook al, sien jy net as ‘n veralgemeende klas. Dikwels ook gedemoniseer. Dit kan selfs tot massamoord lei as jy die ander groep bv. as kokkerotte klassifiseer. Vir sulke polemiese gesprekke en verskille bly medemenslik. As jy ‘n opine lees van andersdenkendes, gun hulle bestaansreg en menswaardigheid. Dan kan jy met integriteit verskil.