Joan Hambidge. Dies Bildnis ist bezaubernd schön
Dies Bildnis ist bezaubernd schön:
Deon van der Walt
Die stem, soos die woord,
word nooit doodgemaak nie. Vanaand,
soveel jare na jou afreis,
klink jou stem steeds hélder op. Asof
jy roep na ons, vir begryp en navraag oor
jou ontydige dood. Dit was vadermoord,
maar anders as wat Freud meen,
het die vader vir Oedipus verslaan.
Ek het jou skrams geken: as jongeling
betower jy my met jou vertolkings van Mozart,
en een aand, iewers in Kalkbaai,
by ‘n ete vol innuendo en spanning, troef
jy almal met ‘n hoogste noot vir ‘n verjaarsdagparty,
die tafel neffens ons. Hoe sou húlle ooit
kon raai dat dit die sanger-van-formaat was
wat saam “Happy Birthday to you” vertolk
nes Anne Sofie von Otter, pas toe jou sangmaat,
nuwe lewe gee aan “The day before you came”.
Nou sing jy vir my op You Tube
betowerend mooi,
wyl foto’s van jou stadig en afgemete
iets van jou ware aard verraai.
Ek kyk in jou oë,
wonder of jou sagte mond
sou uitroep,
protesteer,
oor die onreg jou aangedoen?
Dit is, dit is alles so
betreurenswaardig
dat jy nie meer in lewende lywe,
maar net vir ‘n tafel in die hemel moet sing.
© Joan Hambidge, 2012
Baie dankie Joan. Ek het besonder baie van sy stem gehou.