Gesprek met ’n kunswerk van Marlise Joubert
Om my is alles blou en beweeglik
soos in jou droomtaal skildery van indigo
wat op die voorgrond vloei
branding van pers tot diep asuur
die ene roering
tot ligter tinte aan die rand
gedagtes na ‘n heuwellandskap hewel
deur die dal van groen die blik lei
oor ’n helderder moment van water
en aan die oorkant die wandelende oog intrek
na skaamwit huisies op die kantelende horison
wat hul geheime na die kyker kaats
om die pupil vir oulaas te vermaan
dat agter die blos van klonterende wolke
roos en oker drome dans.
© Zandra Bezuidenhout
9 Mei 2012
