koraal op die palm van die maan
volgens ‘n Sjinese koan.
Elke druppel
wat val
soen
die aarde
verwronge tak van die boom
peerboom
asem wasem in
streel
die nat buik
van blare
oor wie droom die rots
as dit nie reën nie?
koraal reik met wit hande
na die gefluister van golwe
stories van die sand
en die manier waarop die hemel
die melodie van blou vashou
geen ander tyd
so mooi soos
hierdie moment
voor die dou buig oor die blom
as die denke oopvou
vloei ‘n warm rivier
na die see
maan sing
van die opkoms en die val
so lank al wag ons op hierdie stilte
een enkele druppel wat langsaam val.
© Melanie Grobler, 2012.