By ‘n foto van my Ouma
Vir Libbet
Van my Ouma Hannah
in die Strand onthou ek veel:
haar reisplakboeke
met seereise,
selfs ‘n spyskaart
op duur papier
en vele foto’s van eksotiese bestemmings.
Die agterplaas wat uitkyk
op ‘n groen muur
kom nou terug na my.
‘n Oranjering en halssnoer
met skerp stekels
gekoop in die vreemde
sal ek nooit vergeet.
My pa, die appel van haar oog,
sou tot haar chagrin net dogters verwek.
My dowe Oupa Frank
skilder om ‘n verloopte lewe te besweer:
‘n donkiekarretjie kry sy rusplek
in my hart soos die gekraakte skulp
met die see wat bly dreun en dreun.
My trotse Ouma,
‘n chaperone vir haar suster
op ‘n vreemde bestemming
na ‘n mentor, dalk ook minnaar?
Die liefde tussen susters
word nooit genoegsaam uitgespel.
Digterlike susters soos Anne Sexton
en Sylvia Plath; susters in bloed,
in gelykenis én lewensloop:
jý die ewebeeld van ons Ouma,
‘n nooi Losper uit Bloublommetjieskloof,
waar háár ma meen Maggie
kan nie klavier speel nie,
haar portrette is aaklig en skeef,
en waarom kom sy tog nie tot trou?
Nooit kan ons herinneringe
of hierdie teer band met ‘n suster
verminder of vervreem nie.
© Joan Hambidge, 2012