Louis Esterhuizen. Rutger Kopland, Nederland se mees geliefde digter, oorlede …

 

Hartseernuus vanoggend is dat die NRC Handelsblad pas bekend gemaak het dat Rutger Kopland (foto), allerweë beskou as een van Nederland se mees geliefde digters, op Woensdag, 11 Julie, oorlede is. Hy was 77 jaar oud. Luidens die verklaring, die volgende: “En nog altijd is zijn werk ongekend populair. Van zijn bundels zijn in totaal meer dan 200,000 exemplaren verkocht, en ze worden nog steeds herdrukt. Die grote populariteit zal ongetwijfeld te maken hebben met Koplands toegankelijke, bedachtzame stijl, zijn milde ironie, zijn weemoed, en met de voor velen herkenbare onderwerpen, vooral in de vroegere poëzie.”

Rutger Kopland se regte naam was Rudi van den Hoofdakker en hy is in 1934 in Overijsselse Goor gebore. Hy het hom na sy skoolopleiding as sielkundige bekwaam In die sestigerjare was hy werksaam as sielkundige in Groningen en in die sewentigerjare was hy verbonde aan die departement Biologische Psychiatrie aan die Groningse Universiteit, van 1981 tot en met sy emiraat in 1995 as hoogleraar.

Verdermeer is Kopland die tweede Nederlandse digter wat deur Daniel Hugo in Afrikaans vertaal is en binne enkele dae van mekaar gesterf het. Sy vertalings van Kopland se verse, Onder die appelboom, het in 2010 by Protea Boekhuis verskyn. (Die ander digter is Gerrit Komrij.)

In ‘n onderhoud wat ek in Februarie 2011 met Daniel Hugo gevoer het, het hy die volgende oor Kopland se digkuns te sê gehad:

“Rutger Kopland se gedigte gee ‘n soort mistieke ervaring van die werklikheid weer in gedigte wat die eenvoudigste taal denkbaar gebruik. Hy skryf ook graag digterlike besinnings van die mens se belewing van tyd. Kopland op sy beste kan die ylste natuurindrukke, die vlugtigste gevoelens en gedagtes huiwerend maar suiwer verwoord. Afrikaans is ‘n minder vloeiende en konkreter taal as Nederlands, met die gevolg dat heelwat Kopland gedigte eintlik onvertaalbaar bly […] Tipies van Kopland se denkwyse is die volgende reëls uit sy gedigreeks ‘Een lege plek om te blijven’: … Geef mij / maar een vraag en geen antwoord. In die gedig ‘Wat is poëzie’ probeer hy formuleer wat die digkuns nou eintlik is. Ten slotte relativeer hy sy poging met die woorde: ‘is dit een antwoord vraag ik.’ Vir Kopland bestaan daar nie vaste sekerhede nie. Sy bewussyn is ‘n waterryke, mistige landskap waarin ‘n mens maklik verdwaal en ten slotte verdwyn.”

En ‘n laaste aanhaling, oor Kopland se invloed op die Afrikaanse digkuns, die volgende wat ek met ‘n ligte blos op die wange plaas: “Daar is in Afrikaans geen digter wat werklik met Kopland vergelyk kan word nie. Ek weet wel, Louis, dat jou bundel Wat die water onthou deur Kopland beïnvloed is […] Met jou bundel het Kopland byna ongemerk ‘n deel van die Afrikaanse literêre sisteem geword. Die vertaling van sy verse gee hom nou ‘n prominenter staanplek in die geledere van ons poësie. Hopelik sal Kopland in die toekoms nie net Afrikaanse digters ten goede bly beïnvloed nie, maar sal hy ook die Afrikaanse lesers met sy unieke kyk op die wêreld verryk en verruim. Hy beskryf ‘n vloeibare, gedempte wêreld wat opvallend kontrasteer met die harde, droë wêreld van die Afrikaanse digkuns – as ek nou só grof mag veralgemeen.”

Inderdaad is ek iemand wat vandag hier ter lande ‘n glasie lig op ‘n grootse digter. Rutger Kopland was vir my ‘n reus onder reuse. As huldeblyk plaas ek die gedig wat Daniel uitgesonder het tydens die onderhoud as ‘n gunsteling van hom, met daarnaas ‘n vers van Kopland met ‘n spesifieke betekenis vir my as toegewyde roker.

***

Die roeier

 

Vanaand trek die mis oor die weiveld

 asof die aarde oopgaan en

 die grondwater oor sy walle stroom

 

 perde en koeie begin dobber en

 soos in ‘n moeras uit die oertyd

 dryf ten slotte nog net koppe

 en rûe verby

 

 uit die bome aan die oorkant

 raak iets los wat vir my lyk na

 ‘n roeier wat oorsteek om my te kom haal.

 

***

 

Oor die verlange na ‘n sigaret

 

Ken jy die verlange na ‘n sigaret

na daardie gelukkige tye toe jy nog gerook het?

 

Niemand verstaan dié verlange nie, behalwe ek.

 

Ek herinner my aan iemand wat altyd

as ek iets sê wat hy nie verstaan nie

geantwoord het: dit is nou baie interessant.

 

En ek herinner my ook dat ek dan

daardie uitspraak ‘n paar keer

in my kop moes herhaal:

dit is nou baie interessant

totdat die betekenis verdamp.

 

God kan ondeurgrondelike dinge met ons doen

danksy die feit dat hy nie bestaan nie

 

en so kan ook ondeurgrondelike dinge

gesê word danksy die feit

dat dit niks beteken nie.

 

Vandat ek dit bedink het, verstaan ek veel meer.

 

Die verlange na ‘n sigaret is

die verlange self.

 

© Rutger Kopland (Uit: Over het verlangen naar een sigaret, 2001.)

Vertalings deur: Daniel Hugo (Onder die appelboom, 2010: Protea Boekhuis)

 

Bookmark and Share

7 Kommentare op “Louis Esterhuizen. Rutger Kopland, Nederland se mees geliefde digter, oorlede …”

  1. Breyten Breytenbach :

    Dis eintlik verskriklike nuus. Kopland, Komrij, Van Vliet, Claus, Lucebert, Vinkenoog, Schierbeek… En ik noem maar wat… Elke keer is dit ‘n skeur in die mantel wat eintlik maar ‘n doodskleed is waarin mens jou toewikkel teen die koue ewigheid. Ek onthou vir Rutger (Rudi) ook as ‘n besonder gevoelige pianis en hoe hy sy eie tekste soms begelei het. So pas het ek die gedigte wat ek vir hom geskryf het probeer opsoek, nie gekry nie, dit moet op ‘n ander plek in ‘n ander bundel toegewikkel wees – maar toe afgekom op ‘n vers wat hy vir my geskryf het destyds toe ek in die verknorsing was. (Dit kom voor in Vingermaan.) As ek hier en daar mag aanhaal – want nou is dit op hóm van toepassing, Kopland die weemoedige:
    Soms zie ik je gezicht in een krant, [-] / [=], eindelijk veilig thuis / Maar ik ken je zo niet, ik ken je alleen / zoals toen, hier in de keuken, een balling // met heimwee [-]
    En dan teen die einde van die sonnet (hy was ‘n besonder gevoelige én gedugte sonnettis):
    [-] Dat is heimwee, // een dode vallei met daarboven eindeloos / rondzeilende vogels, zoekend naar wat / nog beweegt.

    Solank sy gedigte nog in ons beweeg, deur die skeure onthou word, sal ons hom mis en na hom verlang.

  2. Marlise :

    Dis ‘n mooi waardering wat jy oor Kopland het, Breyten. Dankie daarvoor – ook die aanhaling van die gedig. In 2000 ontvang ek Kopland se versamelde werk Gedichten van vriende Chris en Lidi Coolsma wat voorin skryf: Voor onze vriendin Marlise, Dit boek is bedoeld als invitatie voor een bezoek aan Groningen en Drente. Eers toé het ek Kopland se ongelooflike verse ontdek en sedertdien is hierdie versameling redelik gaar gelees in ons huis. Trouens, ek vind die boek toe op Louis se rak. Ons bundels kry maar gedurig so voete na mekaar se boekrakke toe! Ek lees ook weer die gedig oor Groningen – die slot: Je kwam en gaat weer weg, ook nu./ Zo zal het blijven tussen ons, ek ben/ een onbekende plek. Dis hartseer dat hy nie meer daar is nie. Maar sy woorde sal bly.

  3. Desmond :

    Dit verstom my dat ‘n sielkundige en akademiese psigiater hierdie klas verse kon skryf.

  4. Hallo Desmond. Nogal interessant dat Tomas Tranströmer, 2011 se wenner van die Nobelprys vir letterkunde, ook ‘n sielkundige is. Lyk amper vir my of mens se nering nie te veel te doen het my jou digterskap nie!

  5. Joan Hambidge :

    Waarom moet ‘n digter se werk (arbeid) ‘n rol speel? gert vlok nel het as sekuriteitsbeampte slim toespelings op Van Wyk Louw geskryf en ‘n haarkapper of skottelgoedwasser kan ook dig – op voorwaarde jy kén die “wetmatighede” van die digkuns. Johann de Lange doseer nie, tog skryf hy ingeligte en briljante gedigte. Wat maak dit saak dat I.L. de Villiers predikant en koerantredakteur was? Kyk net al die dokters in Afrikaans! (Ek het ‘n student wat hierop werk.) Die digkuns is ‘n matesis; suiwer wiskunde; ‘n algebra van nood.

  6. Desmond :

    De Waal, ek was net so verstom deur Tranströmer! En Joan: “Waarom moet ‘n digter se werk (arbeid) ‘n rol speel?” Ek weet nie, maar as ‘n student navorsing kan doen oor dokter-digters, beteken dit seker dit speel wel ‘n rol! Maar natuurlik, my kommentaar was nie heeltemal ernstig nie; dit was eerder ‘n versugting. Ek doseer self sielkunde en probeer self gediggies maak soms…

  7. Joan Hambidge :

    Desmond, wat die tematiek betref, speel dit ‘n rol. Uiteindelik moet die digter steeds gemeet word aan die digkuns se maatstawwe (of oortreding daarvan). Ek weet jou kommentaar was ‘n persoonlike navraag!

  •