Jacques Cousteau
Aan die punt van die tafel praat ‘n man
in ‘n restaurant in Juan-les-Pins
met ‘n uitsig oor Cannes se baai
saam met duikers, bemanning van die Calypso,
wetenskaplikes, Philippe Tailliez
van die seepark op die Hyères-eilande,
en prins Rainier van Monaco.
Jacques Cousteau lig ‘n glas Bandol
van die suidhang van die Mauresberge.
Van nader beskou, is hy taamlik lank,
met ‘n neus krom soos ‘n dolfyn se vin
en bleekblou oë agter die bril
onder die halfmane van sy wenkbroue.
‘n Oomblik lank huiwer hy, skaterlag
en drink dan die imperiale rooi wyn
soos die kleur uit die skulpe van Toulon.
© Johann Lodewyk Marais, 2012
Dankie vir die inligting, Leon. Ek het nogal gesukkel om ‘n gedig oor Jacques Cousteau te skryf – totdat ek “hierdie gedeelte(s)” in een van die biografieë oor hom gekry het. Die redakteur van my nuwe bundel het my die deel oor die tien dae lange kook van die skulpe in loodvate laat uithaal!
Johann, jy sal dalk belang stel om te weet dat prins Albert 1 van Monaco gehelp het om in 1921 die Internasionale Hidrografiese Organisasie in sy prinsipaliteit te vestig. As ek reg onthou het Cousteau ook met hierdie organisasie te doen gehad het.