16 September 2010
met apologie aan W. H. Auden – al het hy ook sy Septembergedig onteien
Jy sit in die wyk van Kwartelheuwel
wat grens aan die Chinese buurt,
onseker en bang terwyl die slimpraatjies
van ‘n skelm dekade die laaste stuiptrekkings
gee op straat.
Oorloë van haat, grypsug en vrees
woed in helder verdonkerde wêreldlande
en hou ons kleinweesweet van menswees vir die gek,
dood en die dooies se onnoembare stank
besoedel die Septembernag en laasweek se maan van vuur
is nou pampoenswart gesoen met verrotting
Stiplesesende skolastiek sou
die hele kaboedel kon beskryf
van Luther tot nou
wat ‘n kultuur teen die mure uit dryf,
uitprakseer wat in Linz gebeur het,
by Aurora en Marikana se myne,
watter monster imago ‘n psigopatiese god
gebraak het – want jy en Jan Alleman wéét
wat kinders op skool behoort te leer:
dat hulle aan wie kwaad berokken is
dieselfde kwaad sal toepas keer op keer
Die balling Thucidides het ook alles geweet
wat deur die tong omswagtel kon word
aangaande Demokrasie – vlieë gekoek aan die vrot
pampoen – en wat Diktators doen,
die oumanskak wat hulle praat
oor die gapende graf van krot en herehuis.
Hy het dit al in sy geskrifte analiseer:
Verligting soos ‘n brandsiek brak verwilder,
die ek-het-jou-mos-gesê van vervreemding en pyn,
wanbestuur en ellende en brandende motorbande
ons voorlandtuiste weer en weer
In hierdie selfgenoegsame hemel
waar smeulende Babeltorings
die one-man-one-vote mag
van homo collectivus uitbasuin
spoeg elke taal omsons
die ydele waan van wettiging
oor dooiemaan en die puin: wie glo nog
in die euforiese vryheidsdroom
wanneer mark-imperialisme se apegevreet
en straflose geglobaliseerde doodslag
se bakkies pronkend smaal in die spieël?
In die skemer klou gesigte
vas aan die mate van ‘n middelmatige dag:
solank ligte tog net aanhou skyn,
die musiek nie ophou speel nie
kom al die konvensies ooreen
om aan hierdie kroeg die gloei te verleen
van vertroude voorhuismeubels –
so nié sién ons waar ons is
verdwaal in die doolhof van ‘n bos –
kinders wat nooit soet of goed was nie
nou naakvrees uitgelewer aan die nag
Kyk, die ergste winderige stront
wat bebrilde indoenas deur die ore praat
is nog nie so kru soos ons versugting nie,
want wat die mal Nijinski
oor Diaghilef op sou teken
is ewe waar vir die passie van ‘n gewone hart –
dat die fokop geburger in die gebeente
van elke vrou en gebore man
die smagting is na wat ons nooit sal kry:
nie om in die bondel te vry nie
maar die enkel liefde gevou om eie smart
Die hordes pendelaars kom
uit die oerbos van stam-identiteit
na die boetiek-etiek van ‘n moderne bestaan
om die oggend-mantra te beaam,
“ek sal getrou wees aan my vrou,
ek sal al my aandag op my werk hou,”
en onbeholpe administrateurs word wakker
om hulle kakker speletjies te speel:
who will now let our people go,
wie sal oor die dooies na die dowes uitreik
en wie kan namens die stommes praat?
Al wat jy het is ‘n stem
waarmee jy die veelvuldige leuen oop kan vou,
die romantiese jok in die liberale mond
van die selfbehepte verbruiker op straat
net soos die grootlieg van daardie Gesag
wie se geboue die luglyn vuilvinger:
daar is g’n iets soos ‘n Staat nie
en niemand bestaan alleen –
hongersnood laat geen keuse
vir die burger of die poliesman:
jy moet jou naaste liefhê of dood
Weerloos in die nag
lê ons wye en droewe land.
En tog, soos ironiese spikkelseine
hier en daar
die flitse waar Regverdiges
hul boodskappe mompel van mond na mond.
Mag jy dan ook,
soos hulle geklei
uit Eros en stof,
ingespit in dieselfde twyfel en ontkenning
tog net aanhou skyn
envoi
1939 – die jaar toe bloed Europa sou bevlek
en jy, Wystan Hugh Auden,
met die opsê en afskryf van die wêreld
nogtans verder sou lewe in jou verkreukelde gesig
met die wete, dalk, dat die gedig die plek is
waarheen voëls kom om blind te sterf –
so soos mens in ‘n ander taal leef
om nie te weet jy gaan dood nie:
o, soos ek in Afrika met pampoentyd versoen
‘n klip op sou tel teen die tyd, om so
gewapen die dood tegemoet te gaan
© Breyten Breytenbach – 2012
Ek is bly jy’s weer terug by kommentaar oor al die snert in die wêreld; en met soveel harde woorde. Soos net jy kan.
‘n Skitterende gedig. ‘n Uitstekende gesprek met Auden in die Kwartelheuwel.
Eisj. Waarom geen kommentare? Ek dink hierdie is klassieke ‘laat Breytenbach’ — ek vind dit meer treffend, meer ‘searching’, as heelwat van die verse uit die onlangse ‘Stof’ bundel.