oujaarsdag op Baardbos
in die omtrek van plusminus een dosyn hoenders
’n gebreklike stoepkoei, hartseer perdeoë, skedels, roes, dorings en
’n karavaan sonder wiele, baklei
twee honde met onpeilbare genetiese samestellings
op die stoep van die pub-grill-and-venue
waar rugby gekyk word,
troues en verjaarsdae gehou word en
’n antie met flappende onderarms beduie
dat die balp in ’ie toilets geblaas is
waar ’n hartseer handdoek slapper hang
as die mense by die bar
en ’n middeljarige man in sy broek pis
omdat hy nie sy pad na die krip
kan vind nie
en in sirkels sal slinger
tot hy hier sterf
© Annie Klopper, 2012
Die waarheid is soms so hartseer ! !
mal oor die hartseer handdoek.
Sjoe, Annie, dis “bleak”, al gaan dit oor die donkerte van balps wat geblaas soos die mense in die bar is (steeds op soek na ‘n Afrikaanse woord vir “bleak”). Kringe in ‘n baardbos. Ek hou van hoe die teenwoordigheid van diere verwys na die oorspronklike betekenis van “krip”, asook die dubbelsinnigheid van “geblaas”.