Andries Bezuidenhout. Om te gaan woon in die stad wat brand

Ek gaan koop vanoggend koffie saam met Banerjee, ʼn kollega van die VSA. Hy’s hier om sy doktorsgraad in publiseerbare artikels te omskep as deel van die universiteit se post-doktorale (meer informeel bekend as die “pousdôk”) program. Hy’s oorspronklik van Indiese afkoms, praat Oerdoe by die huis in Indië, maar kan homself ook in Hindi help. Ons gesels oor tale en dialekte en wat met tale gebeur as elites dit kodifiseer.

Hy gesels oor die Farsifisering of Sanskritisering van tale en die impak wat die skeiding tussen Indië en Pakistan op taal gehad het. Hy noem dat selfstandige naamwoorde in Hindi, soos met Duits en Frans, geslagtelik gebruik word, maar dat die geslag van ʼn woord kan verander as die objek beweeg. ʼn Trein wat stilstaan is byvoorbeeld manlik, maar as dit beweeg verander die geslag en word dit vroulik. Elites wat tale moes kodifiseer het hierdie nuanses soms gemis, wat veroorsaak het dat daar in sekere gevalle ʼn redelike gaping tussen informele spreektaal en die formele register van skryftaal en staatsadministrasie ontstaan het. Dit beteken dat laer klasse baie keer kan verstaan wat die hoër klasse (of kaste) sê, maar dat dit nie altyd andersom die geval is nie. Informele taal word dus soms as wapen teen magshebbers gebruik.

Ek praat oor die impak van sendelinge op Zoeloe en Xhosa en dat die verskille tussen die twee tale, so word beweer, baie meer vloeibaar was voor standaardisering. Ook oor woorde van Indonisiese afkoms (“oenang”, “tramakassie” ) wat in sekere dialekte van Afrikaans steeds gebruik word, maar nie in ander voorkom nie. (My Afrikaanse speltoets van Potchefstroom herken nie die woord “tramakassie” nie en stel “ratkassie” en “dramaklasse” as alternatiewe voor.)

Op een of ander wyse draai die gesprek by die Koreaanse sanger Psy se internasionale treffer “Gangnam style”.

Banerjee: “Interesting that such a left wing song can become an international hit.”

Ek: “Left wing song? What about that song is left wing?”

Hy verduidelik dat Gangnam ʼn woonbuurt in Seoel is waar welaf, modebewuste jongmense woon, maar dat daar bitter min substansieel hul Gangnam-styl van lewe onderlê. Die liriek en video parodieer hierdie woonbuurt, verduidelik hy. Ek onthou die keer toe ek die video die eerste (en enigste) keer gesien het. Dit was by ʼn kinderpartytjie, meestal deur negejariges bygewoon. Een van hulle het daarna op sy tablet gekyk. Van die kinders het die woorde en wysie geken. ʼn Gesprek het daaroor ontstaan. “I know the video,” het een kind gesê, “as well as the parodies.” Dat negejarige kinders uit Johannesburg die woord “parodie” in algemene omgangstaal gebruik was vir my ʼn openbaring, asook die feit dat hulle na musiekvideos op hulle tablette kyk. Dalk het die feit dat hulle almal aan ʼn Katolieke privaatskool studeer ook iets daarmee te doen.

Die implikasie van die gesprek met Banerjee is dat daardie parodieë natuurlik ʼn reeds bestaande parodie parodieer. Dit het my laat dink oor my eie belewenis van Afrikaanse poësie. My geslag (in hierdie geval nie geslagtelike treine nie, maar ʼn ouderdomsgroep) het Afrikaanse gedigte op ʼn dieet van tagtigersdigters en protesmusiek leer ken. Daar was ʼn konstante gesprek tussen poësie en musiek. Ons het André Letoit se lied “Elmarie”, waarvan die titel voorheen “Ballade van die bose tikster” was, leer ken voor ons N.P. van Wyk Louw se “Ballade van die bose” gelees het. Om die waarheid te sê (en dalk moet ek eerder namens myself hier praat, eerder as die hele geslag), ek het Van Wyk Louw deur André Letoit leer ken, nie andersom nie. Om Letoit aan te haal:

En as ek gaan woon in die stad wat brand
dan troos jy my pyn soos ʼn vrou se hand.
Jy is my wese se ondergrond
en jy trap in my spoor soos die Broederbond.

Dis deels weens hierdie belewenis dat ek so van David Harvey se gebruik van die konsep “relatiewe ruimtelikheid” hou. Dit gaan oor waar mens staan, maar behels ook ʼn sekere mate van beweeglikheid, of tyd-ruimtelikheid. Dis Einstein teenoor Newton. Anders gestel, wat jy eerste teëkom verduidelik soms baie van die belewenis van plek. Op ʼn vreemde wyse is “Elmarie” vir my die oorspronklike teks en “Ballade van die bose” die sekondêre. Ek herinner myself aan ʼn storie wat David Kramer vertel. Hy is op soek na die kitaarspeler Johnny Raakvat, iewers in die Karoo. Iemand langs die pad probeer vir hom verduidelik waar Johnny Raakvat woon. Verby hierdie telefoonpaal, daardie dam, ens. Aan die einde van die verduideliking: “Maar as mens soontoe wil gaan sou ek nou nie hier begin nie.”

Is daar iets te sê vir die feit dat die parodie soms voor die oorspronklike teks geleer word? Dalk is dit maar net die ekwivalent van poëtiese Gangnam style.

Bookmark and Share

6 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Om te gaan woon in die stad wat brand”

  1. Evette Weyers :

    Heerlik Andries!
    “Maar as mens soontoe wil gaan sou ek nou nie hier begin nie.” Is direk Iranees, die trickster figuur, Nasrudin. En die bollemakiesies van Rumi

  2. Desmond :

    Ek het hierdie inskrywing van jou baie geniet, Andries. ‘n Vriendin van ons woon in Gangnam, en sy het ‘n paar maande terug vir dieselfde storie oor die liedjie vertel. Ken jy Sinfree Makoni se werk oor Afrikantale as ‘colonial (dikwels misssionary) scripts’?

  3. Desmond :

    … en wie’s nou weer die ou wat gesing het ‘die stad wat brand is van ver af mooi’?

  4. Desmond, ek ken nie Makoni se werk nie. Dankie vir die verwysing. Ek het my oggend in Rayton (buite Pta) se liksensdepartement spandeer en is in ‘n diep depressie oor die kwaliteit (of gebrek daaraan) van interpersoonlike interaksie. Laat my dink aan die insident in Loftus Marais se gedig oor die vrou met die BMW en die taxibestuurder. Ek dink ek stem vanmiddag met die gedig se konklusie saam. Daar’s min hoop, alhoewel Loftus dit effe sterker stel. Ek dink ek moet dalk plan maak om brandende stede van ver af te beskou. Ek weet nie of water en skottelgoedseep hierdie vure gaan kan blus nie.

  5. Desmond :

    Andries dis dalk tyd dat ons ‘liefde’ behoorlik as burgerlike deug (civic virtue) herdink; daarsonder is daar dalk inderdaad geen hoop nie. Soos Springsteen sing: ‘Tell me how do I begin again? My city’s in ruins.’

  6. En Kerkorrel: “Ek het oral op die aarde…”

  •