Clinton V. du Plessis. Kykweer
Kykweer
“Die gees van my land is ‘n voetbal.”
Lina Spies
Die digter trek nie skares nie:
Opperman, Van Wyk Louw of Breytenbach,
die lostrio van die taal
vul nie aankomsale nie;
hulle trek nie ratse jong dye
uit eina-rompe nie.
Selfs met hul struktuur,
hul vorm,
die ritme van rymwoord,
of met die flink fop-aangee van betekenis,
of die agterlyn
van die sonnet
wat vaartbelyn
die naakte bluf van die kaal keiser, sonder skroom,
ontbloot,
kry hulle nog geen applous.
In die daaglikse kwatryn
van die voorstedelike bestaan
is almal banaal begaan
oor die gain en die pyn.
Selfs die babas in kappies,
met foppertjies
en koue kriewelhandjies
kweel en kwyl opgewonde in die kamera
oor die baie baard,
been en biceps,
die torso is die ode,
weet die bal van die metafisika?
Die digter sit op die reserwebank:
sonder bier in die hand,
sonder vlag op die bors,
hy besef, die massas het ‘n ander, dieper dors.
Hulle kyk liefs om die spieël,
vermy die raaisel.
© Clinton V. du Plessis, 2013
ek veronderstel dis bietjie soos ‘n Shell vulstasie bedryf reg in die middel van die Karoo
Die gedig van Clinton het gemaak dat ek ‘n ander satiriese gedig oor ‘voetbal’ weer herbesoek:
die dag op Nuweland
– deur Jeanne Goosen –
hoera en boland en haak vrystaat
skree ons van die pawiljoen
vir die rugbyspelers
wat soos gestreepte haaie rondduik
en na mekaar se boudvleise hap
en ons kou grondboontjies en ons kake gaan
op en af
op en af
’n maer meisie van swellendam
brei mansokkies
en soos ons boland en haak vrystaat skree
brei sy al vinniger
sodat ek senuweeagtig word
oor die spoed
waarmee sy die wol
oor haar dun dun voorvinger stoot
en ek my tong raakbyt
oral op die pawiljoen
spring mannetjies
regop
en die planke wip hulle weer terug
en dan weer
regop
en ons kou grondboontjies en ons skree
hoera boland haak vrystaat
soos die rugbyspelers
nou met toenemende venyn na mekaar gryp
en alles later bloederig word
en die gras mislikgroen regop staan
dit begin reën
en die blou reën was die bloed dieper
in die gras
die dag is pers en die son skyn oor alles
toe die eindfluitjie geblaas is
brul en skud die hele pawiljoen
sodat die potsierlike hoedjies
teen ’n ontstellende spoed op en af
op en af
wip
en die rugbyspelers dra die stukkende held
skouerhoog en die held gryns
en die meisie van Swellendam
bêre haar breiwerk in ’n sneeuwitdoekie
en krap in haar neus
die rugbyspelers dra die stukkende held
tot voor my
– © Jeanne Goosen –
Hmmm, ek het nog altyd aan Opperman gedink as stut eerder as flank of agsteman. Van Wyk Louw as skrumskakel. Peter Blum as ‘n kranige haker. Breytenbach as linkervleuel. Die res speel hokkie.