Foto: Annebelle Schreuders.
die self is ‘n solder
die self is ‘n solder
jy klim soontoe op
met ‘n trap waarvan die sporte
lankal weggevrot het
om jou te verloor
in die geur van kwepers
elk afsonderlik toegenuus
in koerantpapier se verslane berigte
in repe stoffige sonlig
wat skuins val
oor die af-oor hobbelperd
en bokse vol briewe
en koperspaan dekorasies
waarvan alle betekenis verloor is
want jy was nooit
in die regte oorlog nie
uit die kis wat ruik na kanfer
haal jy die motgevrete bruidsrok
en trek dit aan
om ruggelings te gaan lê
in die solder van die self
se onderduiking
sedert besetters die land
afgebrand het
tot herfs
en te luister
hoe dakvoeë kraak
onder sterre se gewig
(c) Breyten Breytenbach - 2013
Bloot op ‘n eerste vlak van interpretasie is die beelde so helder dat ek die herfsson kan ruik. Die gedig raak mens diep, baie dankie!
aangrypend – beeldskoon – dankie.
So ‘n heerlike laag op laag gedig waar beelde binne die oogwenk van 3 woorde rigting verander, omtower tot ‘n ander beeld, soos newel.
Diep dankie!!
Dit is ‘n hartverskeurende mooi gedig. Dankie Breyten.
Dankie vir nóg ‘n woordkardoes.