Klip en Klei
“… dat klippers ook ʼn eie soort lewe het.”
Martin Versfeld
kunswerke hang soos vrugte in ‘n boord
aan die bôrdienghuis se stokou mure:
evette weyers se kleipere met klipskrif
wuif soos koejawels aan die boom
angus taylor se bronskop balanseer
vol selfvertroue die magtige granietklip
perfek, ooreenstemmend, die vlekkelose
staalknope in die kop –
klip op kop
die eie-ek te ont-ek
helder strale van
kinders van die sterre
gevang in willem boshoff se dwaalwoorde
in patrone van melkweë
met name wat verwar in die oor en oor en omskrywe,
nes guido gezelle se skryfertjie,
om en om en om
duskant, ‘n kliplitografie
in ‘n raam teen ‘n muur,
buite ruimte –
strijdom van der merwe spel
hemels op spoelklip
en bloukalk- driehoeke
robbeneiland in paul stopforth se truspieël
weerspieël die rots, die see,
die skadu’s en die toring
in die geheue van water
en van klip
toe madiba nog daar was
die eiland weerkaats in joshua miles se hange van tafelberg
in reduksiehoutblokdrukke,
lae ink, ruïnes hier en daar –
koedoesberge lê uitgestrek
waar nicolene swanepoel se basterbeeskoppe
en perde, vas in die geskiedenis,
in blou en wit raku wei
adriaan oosthuizen se helskloof uitgestrek,
greg kerr se arrogante punkkop
graskop
menskop,
wat verskiet soos ‘n pienk klippie
in die ruimte:
“daar lê vuur in opgesluit,
… wat van die gode kom.”
“Rots der eeue is die rots wat leef.’”
© Anné-Ghrett Erasmus 2013
(n.a.v. ‘n uitstalling ter ere van Martin Versfeld )
Foto bo deur Tessa Louw: Bronsbeeld (Angus Taylor).

