Enantiodromia
Ek is ‘n gedig
wat ‘n plek
soek om te gebeur:
op my psige ingebreek
deur katdiewe
van die digkuns.
My paspoort en ID
raak soek as ek vra:
wié roep daar?
Op reis in ‘n sirkelgang
weet ek nou
jy sal klip uit bloed tap.
‘n Orkaan waai
die huis van die gedig
hermeties onderstebo:
Jannie Smuts dra
in sy saalsak
Kantwerk –
wolf, wolf
blaas blaas
voor die deur:
word eerder mana (sic!)
uit die hemele
van die onbewuste
soos Carl Gustav
dit netjies stel:
complexio oppositorum
hou my dag en nag
tobbend oor oorgange:
dié bostaande formule
onbegrypend nes ‘n akker
breek in my gemoed:
gedagvaar deur die dood
en verloën oor die liefde,
dus as hermiet verban.
Die spreker (én leser)
bly skuilhou én kopkrap in die
kelders van onthou.
© Joan Hambidge/2013


En die hermetiese spel duur voort. Die titel is (per ongeluk) op die Versindaba “Enantiodromania”, ‘n lieflike verskrywing en beslis ‘n verdere ontginning van die begrip. Ek dink die “verkeerde” titel is puik.
Joan, hierdie is ‘n kragtige (en uiters poëtiese!) antwoord op die hele gesprek rondom die sogenaamde hermetiese digkuns. dankie daarvoor.
Op Wikipedia het ek ‘n besonder interessante omskrywing van die begrip “Enantiodromia” teëgekom: “Enantiodromia. Literally, ‘running counter to,’ referring to the emergence of the unconscious opposite in the course of time. This characteristic phenomenon practically always occurs when an extreme, one-sided tendency dominates conscious life; in time an equally powerful counterposition is built up, which first inhibits the conscious performance and subsequently breaks through the conscious control. (“Definitions,” ibid., par. 709)
Fassinerend.