Katabasis
We live life forwards and think about it backwards.
Howard Nemerov
Dieper delwend die verlede in
lesend aan die vyfde edisie
van die Norton
ontdek
ek ‘n vers van Simon Armitage
oor hoe jy nooit ‘n gil
kan stilmaak nie.
Verder die hel in
speel skeeloog Sartre
harpisikord
en sing vals-vals
die hel-is-ander-mense;
met Dowe Peet
aan’t klippe kap
met ‘n armed vision
en wete van Satan-Helios;
nes Dirk-der-duisende
hoor daar is moer
in sy grootkoffieboek
se digterlike parade.
Is ek dan steeds Orpheus
soekend na Eurydice
of word dié proses
meer-en-meer
‘n anabasis?
What the hell!
Jeroen Bosch trip-
tiek ‘n laaste oordeel
met sy visies
van die helnaarmaals.
Op my ou ramkietjie
met net een snaar
speel ek immer op papier
só heuristies aanmekaar.
© Joan Hambidge/ 2013
