Alwyn Roux. Voor verkoren oren: klank as kriterium vir vergelyking

In my vorige bloginskrywing, Lambie, Steyn of Catrakilis: vergelyking in die literatuurwetenskap het ek gewys op enkele fasette van vergelyking in die literatuurwetenskap.

Sarie Berkhout het kritiek gelewer op die idee dat sekere ‘kategorieë’ bepaal moet word voordat dinge tot ’n vergelyk gebring kan word. Die vergelyking van dinge wat vooraf deur sekere kategorieë bepaal word, kan dus as ’n tipe ‘essensialisme’ gekritiseer word.

My repliek hierop is dat ons ‘verstaan’ van dinge egter nie sonder sekere kategorieë (soos ‘onderskeiding’ en ‘identifisering’) tot stand gebring kan word nie.

Die benadering tot dit wat vergelyk word, is nie uitsluitlik gesetel in dit wat ‘essensieel’ of ‘toevallig’ tot die vergelyking van dinge is nie. Dit gaan eerder oor die verbandlegging van dinge, wat saamgestel is as ’n spel van ooreenkomste en verskille.

Hieruit ontstaan die vraag na die kriteria wat gebruik word by die vergelykende lees van gedigte. By die opstel van sekere kriteria kan die struktuurelemente van gedigte, byvoorbeeld die klank, die rym, die woordbetekenis en die sintaksis in die gedigte as kriteria gebruik word.

In die openingslied van Lucebert se “Oratorium” uit Troost de hysterische robot (1989) vertolk die klanke ’n belangrike funksie om die lied tot ’n eenheid saam te snoer, maar dui ook belangrike betekenisverskille tussen woorde aan:

1      zingen wij voor verkoren oren
2      het nog ongehoorde
3      voor verloren oren
4      verminkte zinnen
5      geschonden woorden
6      woorden die het zingen
7      haast verhinderen

Die herhaling van die o-klanke snoer die lied tot ’n eenheid saam. Vergelyk die herhaling van die o-klank: “…voor verkoren oren/ het nog ongehoorde/ voor verloren oren” (reëls 1-3), asook “geschonden woorden/ woorden die het zingen…” (reëls 5-7).

Die herhaling van die rymklanke “verkoren” (reël 1) en “verloren” (reël 3) bring ook belangrike betekenisverskille tussen die woorde vorendag.

Die woorde “verkoren oren” (reël 1) verwys na diegene wat uitgekies is om die musiek aan te hoor, terwyl “verloren oren” (reël 3) dui op die lied wat verlore is vir diegene wat dit nie aanhoor nie. Daarby word die verskil van die letters “k” en “l” simbolies van die verskil tussen die uitverkorenes en die verlorenes.

Die funksie van klankverskynsels in Lucebert se openingslied van die “Oratorium” sou met dié in enige ander gedig vergelyk kon word, met die doel om aan te toon hoe die funksie van klankpatrone met mekaar ooreenkom of van mekaar verskil.

In Johan van Wyk se gedig “XVIII” uit Deur die oog van die luiperd (1976) vertolk die klanke ’n belangrike funksie om die sang van die janfiskaal na te boots, maar ook om ’n sekere landskap tot stand te bring.

1      kom dom dirk kom dom dirk
2      roep janfiskaal
3      op draad tussen paal en paal
4      in die hel dirigeer
5      hy ’n orkes van voëls
6      en sprinkane totdat verbygangers besef
7      dis sy erf

8      luidkeels sing hulle die lied
9      van biltongkerf en aan draad tussen paal en paal
10   hang pers viole droogte
11   wat alles sy eiendom is

Die janfiskaal se roep word in die openingsversreël deur die woorde “kom dom dirk kom dom dirk” (reël 1) mimiek, wat ’n voorbeeld van onomatopee is. Die funksie van die herhaling van woordklanke is dus om die sang van die janfiskaal na te boots.

Die herhaling van die a-klank in “janfiskaal/ op draad tussen paal en paal” (reël 3) bring ’n landskap tot stand deur die afstand tussen “paal en paal” te beklemtoon, wat deur die uitgerekte a-klank geaktualiseer word.

Daarby kan gesê word dat die woordklanke meervoudige betekenisse tot stand bring, waarin die onomatopee nie net die sang van die janfiskaal aandui nie, maar in teken staan vir die roepstem van die duiwel, wat die mens meesleur met sy hipnotiese herhaling: “kom dom dirk kom dom dirk” (reël 1).

Die landskap wat tot stand gebring word, is dan ook dié van die hel, wat klankryk deur “’n orkes van voëls/ en sprinkane” (reëls 5-6), let veral op die herhaling van die s-klanke, gestalte verkry. Die gedagte aan die hel-landskap het tot gevolg dat “die lied” wat “luidkeels” (reël 8) gesing word in teken staan van pyn en lyding, wat beklemtoon word deur woorde “biltongkerf” (reël 9) en “hang” (reël 10).

Uit bogenoemde analises kan die funksie van klank in Lucebert en Van Wyk met mekaar vergelyk word. Die funksie van Lucebert se gebruik van klank het hoofsaaklik ten doel om die lied as ’n eenheid saam te snoer, maar ook om belangrike betekenisverskille tussen woorde aan te dui. Daarenteen is die funksie van klank in Van Wyk se gedig om onomatopee te bewerkstellig, maar ook deur die gebruik van woordklanke meervoudige betekenisse tot stand te bring. Die herhaling van klanke in Van Wyk se gedig bring ook ’n landskap tot stand, wat bevolk word deur diegene wat sekere klanke na vore bring.

Daar kan dus tot die gevolgtrekking gekom word dat Lucebert en Van Wyk se gebruik van klanke integraal deel uitmaak van die komposisie van hulle gedigte, maar dat die funksie van die aanwending van klanke wel van mekaar verskil.

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •