Pneuma
Die onaantasbare iets, genaamd
siel, psige, onbewuste
is lotsbepalend;
dit wat ligter of swaarder
as ‘n veer
op ‘n Egiptiese skaal
lê: setel dit binne-in
of buite die self?
Dalk vasgevang in taal,
aldus Jacques L.,
in ‘n triadiese verbintenis
verbeelde-simboliese-reële
vasgeknoop?
Nee, meen jy:
net so min
as wat die vierkant
kan sirkel
of die reghoek
se vierkantwortels
maklik verplant
is die psige, siel,
of-wat-ook-al,
té veel onder neon-ligte,
ge-you tube, gewikipedia
soos ‘n wafferse celeb
in Cannes aan die handtekeninge
verkwansel, die pers aan’t pypkan,
vir jou Keltiese aard
in navolging van John O’Donohue
nou maar een te veel.
Die siel onderneem
‘n duimpiereis
en verkies stilte bó
die myle en myle van leë praat.
© Joan Hambidge / 2013

‘n Baie mooi gedig. Ook uiters aktueel. Die openbare gesprek oor die verborge en onderliggende dimensies van die psige is goed en nodig, maar die pendulum het so ver uitgeswaai dat die gesprekke oor die psige die psige self kan determineer en uiteindelik inhibeer. Vandaar my instemming en begrip vir ‘n siel se duimpiereis.