In ’n onlangse artikel van Saartjie Botha besin sy oor die gerangeerde rol van handskrif in ons rekenaar-era. Sy vertel dat skryf met die hand die intuïtiewe regterbreinkomponente van waarneming en herkenning aktiveer, en dus is ons eintlik besig om hierdie intuïtiewe prosesse te verloor wanneer ons op rekenaars of tablette skryf. Sy maak ook die stelling dat om met die hand te skryf “aanvoorwerk” vra – jy moet formuleer vóór jy die pen optel, of anders verander jou bladsy in ’n slagveld van deurgehaalde dele of, erger nog, frummelende Tipp-Ex-korse.
En ja, sy het waarskynlik ’n punt beet. Ek wil my verbeel dat ek in die vervloë jare voor woordverwerking (erg om te moet erken jy is so oud dat jy dit beleef het) nie so geswoeg het om ’n sin darem so amper te laat werk nie. In eksamentye met die oog op die horlosie mos jy probeer om redelik te slaag met jou eerste poging tot ’n sin. (En ek vermoed deesdae se studente behoort dit steeds te kan doen?) “Rofwerk” was soms bloot die potloodweergawe van jou eerste weergawe van ’n opstel (nogal in pen) wat jy wederregtelik ná die tyd gaan invoeg het om te “bewys” dat jy vooraf “beplan” het. Maar of daardie “vlot” eerste pogings regtig so vlot of vaardig was, is natuurlik die vraag.
Botha skryf dan dat woordverwerkingstegnologie aan ons die moontlikheid bied om ’n sin op enige manier te begin, te besluit dat dit nie werk nie, dit te skrap en van nuuts af te begin. Maar ek wonder of ons regtig ons formuleringstegnieke aangepas het namate woordverwerking ons juis die geleentheid begin gee het om woorde letterlik in die teks te verwerk? Dink ons deesdae minder alvorens ons ’n sin neerpen – skrap en opnuut begin is immers veel makliker as in die dae toe ons naarstigtelik papier moes spaar? Is ’n sin in pen meer finaal, as’t ware jou eerste en laaste kans en daarom dink jy meer voor jy skryf? Of is dit ’n fout om te dink dat ons die elektroniese skryfproses anders benader?
’n Rukkie gelede was ek bevoorreg genoeg om oorspronklike handgeskrewe stukke van enkele van die ouer Afrikaanse digters in die afdeling vir spesiale versamelings in die J.S. Gericke-biblioteek te besigtig. Een teks wat my veral opgeval het, was die toespraak wat Uys Krige vir Ingrid Jonker se begrafnis voorberei het. Dit is ’n lywige dokument (ek wonder nogal hoe lank die toespraak geduur het), met die hand geskryf op die keersy van ’n reeds gebruikte teks, waarskynlik om papier te bespaar, volgens die bibliotekaris. Maar behalwe vir hierdie ouwêreldse suinige omgang met papier (wat my skielik laat dink aan die handskrifoefeninge waarmee ons op laerskool die laaste oop reël op ’n bladsy moes vul – ’n bra desperate poging om die inspekteurs te oortuig dat ons skool tog net nie kosbare papier vermors nie) het dit my ook opgeval dat dit nie ’n netjies geskrewe manuskrip is nie. Inteendeel, net op die eerste bladsy is meer deurgehaal as wat daar behou is – daar is duidelik gewroeg om die inhoud en formulering hulle lê te laat kry, as ’n mens nou só mag verwys na idees en woorde wat hulle plekke in ’n teks moet vind.
Ook die wordingsgeskiedenis van Opperman se “Digter” wys duidelik hoe die gedig mettertyd sy uiteindelike vorm aangenaam het. Die talle weergawes van hierdie gedig getuig dat die digproses ’n moeisame herbewerkingsproses was. Die genommerde bladsye waarop Opperman die gedig laat groei het, vertel die verhaal van ’n aanvanklike idee, deur al die verskillende transformasies heen tot by die weergawe wat uiteindelik gebundel is.
Ek vermoed dus dat (goed) skryf – en veral dig – in die dae van pen en papier dalk nie altyd so vlot verloop het nie.
Wat my wel ook fassineer, is die vraag of digters deesdae ook in woordverwerkingsprogramme dig? Of is dig verbonde aan die intieme gevoel van pen op papier? (Maar wie sê ’n toetsbord kan nie ook sy eie intimiteit hê nie? Die nuwe geslag kan juis almal beter tik as skryf.) En sekerlik beleef vandag se digters se werk ewe veel transformasies? Maar bly die spore agter indien hulle wel op rekenaar werk? Is daar iewers ’n “original showing markup” wat as geheue van die proses dien, of is al die tussenstadia vergete? En dit laat my wonder: hoe belangrik is dit dat lesers hoegenaamd van die transformasies kennis neem? Wou die digter dit ooit? Is “navorsing” daaroor ’n geldige onderneming? Immers is dit die finale produk wat in die bundel aangebied word? Is die wordingsproses deel van die gedig, of kan die digters van die elektroniese era bloot “accept all” sonder enige skuldgevoelens teenoor toekomstige lesers?
Bron: Spesiale Versamelings, J.S. Gericke-biblioteek, US
Met dank aan Marina Brink vir die inskandering van die oorspronklike tekste
Coleridge, Samuel Taylor, het glo al 300 lyne wat volg op “In Xanadu did Kubla Khan a stately pleasure-dome decree” woordeliks gedroom, maar is in die neerpenning onderbreek deur iemand van Porlock en kon toe niks verder onthou nie. Alhoewel, opium.
@Andries: jy het nou ‘n beursie van sy gemaak uit ‘n vark se oor.
@Desmond: ek sal liewer nie prober nie 🙂
Gesprek tussen Alfred Schaffer en Clinton V. du Plessis wat hierby aansluit – oor rekenaars en penne: http://www.litnet.co.za/Article/kaalvoet-oor-die-highway
Leon, ek sal graag wil hoor hoe jy “stereo-isomeriese spesifisteit” s^e na jy ‘n wynvat leeggedrink het…
Sondagoggend se koffie bring oormoed en ʼn poging tot vertaling:
Eikebalie my meester,
ouderdom my akker.
Ag, die dae van klokhelder spieëls
met voor die hand liggende gesigte.
Nee wat Desmond, ek sal dit maar daar laat, eintlik moes daai skryfseltjie nooit eers daglig gesien het nie en dis alles jou skuld :-). Ek is darem ook nie seker dat die “vain specificity” wel met wyn te doen het nie, miskien liewer met die ensieme se spesifisiteit – dalk die stereo-isomeriese spesifisteit.
Leon, sien jy nou, dit is glad nie so sleg nie!! Daardie vierde reel soek dalk nog sy ritme, maar ek dink dit is tyd dat jy gedig klaar skryf…
Wat psigoanalise betref: die onderbewuste tref nie onderskeid tussen tale nie, so daardie ‘vain’ is maar net nog ‘n manier vir ‘wyn’ om in die gedig ‘n verskyning te maak.
Die hele ding aktiveer natuurlik Opperman se Komas uit ‘n Bamboesstok – en dan s^e julle nog ek is onkundig!
Ek dink jy moet ook werk aan ‘n Afrikaanse weergawe wat dalk kan begin:
die wynvat is my meester
die ouderdom vat my hand…
@Desmond: goed, jy’t gevra en jy gaan kry – maar moenie my blameer as dit jou sooibrand gee nie, dit klink soos iets wat Andre Breton kon geskryf het op ‘n slegte acid trip. Beslis die swakste, um, gedig wat nog op Versindaba verskyn het.
The wine-vat is my master
Old age my laird
Those were the days of vain specificity
When striving for these things were taken for granted.
Ek kan darem ‘n paar dinge verduidelik.
1) Dis Ingels, en dit terwyl ek destyds ‘n goeie Afrikaanse boykie was. (Dit was voordat ek my rooinek-vrou Lesli ontmoet het en ons huistaal Engels geword het). Ek was toe besig met my MSc in biochemie, my studieleier was Peter Hewitt, wat Engels was en ons het maar meestal Engels met mekaar gepraat.
2) Die “wine-vat”: soos meeste studente was ek en die vrug van die wynstok nie juis vreemdelinge nie (ons is steeds nie) maar dit was nooit my “master” nie. Beslis ‘n goeie vriend ja .
3) “Old age my laird” – ek het geen idee wat dit beteken nie. Ek was destyds 23 en soos alle jong mense het ek geleef asof ek onsterflik is, ouderdom was net nooit op my radarskerm nie. Ek was wel hierdie moewiese laatlammetjie (die spreekwoordelike oorstoot-drie in beseringstyd) – ek meen, my oudste sussie is al 85 – maar destyds was dit net nie iets waaraan ek juis gedink het nie.
4) “Vain specificity” – my navorsing vir my MSc het gehandel oor die stereospesifisiteit (stereo-specificity) met betrekking tot substrate en ook aspekte van die kinetika van ‘n subgroep van ensieme bekend as karbohidrases en ek skat dat hierdie onderwerp sekerlik swaar in my bewussyn en ook onderbewyssyn was, veral omdat ek destyds gedink het dat ek ‘n bydrae kon lewer oor in die besonder die stereospesifisiteit en omdat ek Daniel Koshland se “induced fit” model ondersteun het. Die kinetika was maklik, die stereospesifisiteit minder so en dit het harde werk gekos, maar helaas, ek kon nie resultate lewer wat my mening ondubbelsinnig ondersteun nie – daarvoor sou meer werk nodig wees waarvoor ek nie die geleentheid gehad het nie, ek moes die jaar daarna my navorsing toespits op organofosfate. Nietemin: ek weet nie wat “vain specificity” beteken nie want hierdie droom was voordat ek besef het dat meer werk nodig sou wees.
5) “Striving for these things were taken for granted.” Soos seker enige jong wetenskaplike het ek gedink dat dit waarmee ek besig is wonnerlik is (en dit was, dit het my groot plesier gegee) maar ek het ook later besef dat ek nie die wêreld gaan omkeer nie, maar daai besef het eers later gekom.
Freud… Mja. Hy was nie die eerste wat die belang van die onderbewussyn besef het nie, maar ek twyfel of enige psigo-analis enige betekenisvolle sin sal kan maak uit hierdie stukkie doggerel.
Leon, plak daai slampamperliedjie wat jy geskryf het bietjie hier, ek wed R50 dit is beter as wat jy dink! Daardie gedig het uit jou onbewuste geborrel, en soos jou geliefde Freud ons geleer het, die onbewuste ken geen ontkenning nie…
Marlise: ek is bly jy het jou gedig se lewe verleng (dit regverdig dubbel en dwars die asemklopping) en dit nie gaan staan en verLange nie.
@Marlise: interessant, die ding van slaap en ‘n gedig wat in jou gedagtes opkom. Self het ek geen talent vir gedigte of eers prosa skryf nie, maar een keer, jarre en jarre gelede, het ek ‘n gedig (een versie) gedroom en so half deur die slaap het ek dit neergeskryf. Pure nonsens gewees natuurlik.
@Marlise – hier behoort ‘n laaik-knoppie te wees sodat ek net daarop kan klik, want so elegant soos Breyten kan ek nie kommentaar lewer nie! Dankie vir die deel van jou gedagtes rondom die skryfproses.
En net toe ek die webmeester wou laat weet om maar haar lorrie te stuur om hierdie ‘nie-bestaande gedig’ summier te verwyder, (want is die opstaan saam met die son nie dikwels ‘n korrektief op die vorige aand se woordgefuif nie?) toe kom Buiteblaf en hou nogal daarvan! Dankie Breyten – gediggie sal nou iewers ingevries word as soort van ‘nie-bestaande’ tussen al die ander…
So ‘n gedig kon maar gekom het, dag of nag! Goeiedag, gedig – bly Marlise het jou uit die sakkie opgetower want wat as niet-verorberaar bestaan is darem beter as wat nié bestaan nie – al is daardie nie-bestaan ‘n wonderlike oord boordensvol eweneens nie-bestaande en rinkinkende medegedigte.
Ja dis seker ‘n kwessie van smaak en voorkeur. Self skryf ek met die hand. Gedigte. (Prosa op rekenaar weer). Nou en dan ‘n vers direk op rekenaar, mits die gedig skielik op daardie moment ‘gebeur’ of posvat en ek toevallig voor die rekenaar sit. Soms lees ek iemand se e-pos (of iets op die internet) en dan kan ek die reëls dadelik neertik. Andersins het ek dagboeke/skryfblokke in die slaapkamer, in die studeerkamer en in my handsak. As dit eers op papier is, dan tik ek oor op rekenaar, maak enkele aanpassings as ek voel dit is nodig, werk later weer miskien daaraan. (Skeur ook altyd later die krabbels uit die kladboek en gooi weg). En na maande werk ek miskien weer daaraan. Afstand is glo nodig, ja. My probleem is dat indien ek ‘n gedagtelike gedig begin vorm en ek dit nie onmiddellik neerskryf nie, dan is hy weg na ‘n paar uur en veral die volgende dag. Soos in heeltemal weg! Onsigbaar. (Het iemand raad hiervoor!?) Ek sou miskien onthou van ‘n woord of twee, ‘n vae idee hê waaroor dit gegaan het, maar alles is dan uitgewis na ‘n nag se slaap. Dikwels tot my spyt. (‘n Bad habit miskien?) Net voor ek aan die slaap raak, gebeur daar meestal ‘n gedig. Glashelder, (of altans so voel dit, maar miskien begin ek al te droom?) en dan dink ek “o ek is nou tog so vaak, dis te koud om op te staan en die pampiere te gryp, ek sal dit wel môre onthou.” Alles is so duidelik, ek sien die gedig mos soos ‘n skildery. Maar kom die oggend weer, het ek alles tot my spyt vergeet. Ek verwonder my aan mense wat ‘n hele gedig in die kop kan ‘ronddra’, reël vir reël, en na dae eers die gedig gaan neerpen. Ek leef saam met so persoon! 🙂 Pas ontstaan daar tog weer ‘n gedig, waarskynlik omdat ek nou spesifiek hierop konsentreer… ek plak dit gou hier, rou en onverwerk voordat dit ashoop toe gaan. Voordat die oggend kom!
na die slaap
verdwyn die gedig
en die daglig verskerp met elke tree
as ek gistraand se solder ingrawe
was die woorde iets oor leeftye om op te teken
iets oor al die bokse bultende briewe
en flenters dagboek om op
die eetkamertafel uit te pak
pakkies woorde verseël in linte en rekkies
vir die moontlike maaltyd aan geliefdes
maar toe die besef dat die tafel te klein is
vir al die kom en gaan van jare heen
en wie sou eet en wie sou weet
waaraan om eerste te proe
helaas was ek nooit moordlustig nie
nog minder was daar enige
gevaarlike reise en niks aardskuddend
om te verorber vir die leser nie
die papiere is uitgedroog en wyn
vir die afsluk het ek ook nie
dit sal beter wees om alles
dadelik van die geheue se tafel
af te vee
in gister se swart sakke te gooi
op die sypaadjie staan te maak
as misvormde onsigbare gedig
@Desmond – ek hou van die idee van die skryfproses as ‘n soort meervoudigheid, soos jy dit hier verduidelik. Miskien verskillende media vir verskillende take? @ Hilda – baie dankie, ek het die artikel baie insiggewend gevind. Die outeur noem iets wat ek self dikwels ervaar – jy doen heelwat dinkwerk met behulp van pen en papier, maar die werklike skryf- en redigeerwerk geskied per rekenaar. Wat my al opgeval het wanneer ek self skryf, is dat ek my teks makliker “regpak” wanneer ek op rekenaar werk. Dit is byna asof ek die tekstuur daarvan – die samehang en dies meer – elektronies meer konkreet ervaar. Maar ek lees veel beter op papier. En beslis Leon, onthou het vir my ook nog altyd makliker gekom deur skryf met die hand – of jy nou moet swot en of dit jou doen-lysie vir die dag is. Maar ek wonder steeds of daar digters is wat (net) op rekenaar dig?
Ek het nog altyd geswot deur opsommings te skrywe, ek dink dit verg meer sal ek maar se konsentrasie (al is dit dalk nou onwillekeurige konsentrasie) as om te tik.
Amanda, dit lyk vir my hier is al heelwat oor geskryf. Nog ‘n interessante artikel http://writeitsideways.com/do-writers-need-to-write-by-hand/?doing_wp_cron=1378313755.1269729137420654296875
Miskien is dit maar ‘n kwessie van smaak, soos Desmond wat met die hand skryf? Ek persoonlik vind weer dat my skribbels ellelange spronge van olimpiese formaat oor die papier gee sodat ek naderhand nie meer kan bybly nie. Dit en ek skryf soos ‘n krap. Ek sien dat ‘n hele paar studies bevind het dat ‘n mens makliker leer as jy met die hand opsommings maak, “Writing stimulates a bunch of cells at the base of the brain called the reticular activating system (RAS). The RAS acts as a filter for everything your brain needs to process, giving more importance to the stuff that you’re actively focusing on at the moment—something that the physical act of writing brings to the forefront”. Duidelik iets anders aan die gang.
Amanda, hierdie is interessant, dankie. Eerder as ‘n kwessie van ‘verlies’ (van intuisie, kreatiwiteit, wat ook al) dink ek mens sien hier bloot ‘n verdere kompleksifisering van skryf as ‘n (soms baie individuele) praktyk, bemiddel deur die beskikbare tegnologie – die pen, die notaboek, die tikmasjien, die woordverwerker, die tablet…
Self, as ek blog tik ek direk, soos wanneer ek ‘n e-pos skryf. Maar pen en papier is vir my onvervangbaar wanneer ek meer ernstige skryfprojekte aanpak: ek verkies dit om notas met pen te skryf (ek het altyd ‘n notaboek en penne by my, selfs al dra ek ook ‘n rekenaar oral saam); dan te tik en te druk; dan met pen (oftewel, in my geval, ‘n skrpgemaakte potlood) te redigeer (en te herskryf); dan weer te tik, ens.
Die gewildheid van skryfbehoeftewinkels en ‘moleskin’ dagboeke ens. laat my dink ons het nog lank nie die einde van die kulturele romanse met pen en papier gesien nie.
Dankie Hilda, die artikel en die bevindinge is inderdaad interessant. Die kommentaar na aanleiding van die artikel stel dan ook baie relevante vrae – veral hierdie een: “What about those of us who have now, for many years, been composing on the computer rather than in long hand? Is there likely a difference in our ability or performance? At this point, for me, writing with pen on paper seems extremely tedious compared to composing on the keyboard. In other words, can one train oneself to become as good (or even better) a writer on the computer than one would be using a pen and paper? (If I had to do all my professional-administrative writing on paper, it would take me forever!)”
Die oorspronklike tekste is fassinerend. Ongelukkig gee die afbeeldings daarvan nie die volle prentjie nie, maar ‘n mens kry nietemin ‘n indruk van hoeveel skryf en oorskryf betrokke was.
Dankie vir die oorspronklike tekste, Amanda. Ek het hierdie artikel interessant gevind http://www.futurity.org/for-kids-pens-mightier-than-keyboard/#more-4909
Ek weet werklik te min van die hele regterbrein-versus-linkerbrein-kwessie, maar ek het nogal gewonder waarom handskrif juis herkenning en waarneming sal aktiveer, en elektroniese skrif dan nie. Ek vermoed wel dat die al-tikkende-al-hoe-dommer-hipotese ‘n fabel is.
@Johan: Amen
Die linker/regter-brein digotomie is pseudowetenskaplike onsin.