‘n Poeloema vir Angie
(met apologie aan Marlene van Niekerk en die Rolling Stones)
soms kla ek
omdat ek nie odysseus se skepe by die naam kan noem nie
of nie geleer is om die Latynse futue futete futam te verbuig nie
ek wat as ou model-c wit manlike calvinis
geleer het van die bose elf en die prinsekind
die spinnewielmeisie, die datief, die subjunktief en die imperfektum
het na die voordra van verse deur die vegters van die rewolusie
in die voorste halle van die noorse bergkonings
die laatnagskrywes oor die ekonomie uit sussex
gehoop na 94 sal al wat skoolkind is
die klip en die petrolbom verrruil
vir formules oor die skuinshoek, die sterwensgeroggel van othello of die lied
van die meisie op die ooswind verlaat
maar Angie, Angie
hoe kan ek kla voor ‘n klas van vyftig plus
in ‘n sinkhok sonder vensters of stoele
n paar per bank sonder potlood of pen
so honger en so dors dat dit uitsalpeter om hulle monde
Angie, Angie when will these clouds all disappear?
Angie, Angie, where will it lead us from here?
jy, erfgenaam van ‘n dinastie
nakomeling van die stywelip-Sibusiso Mandlenkosi Emmanuel Bengu
die brein agter die U-G-O en Kurrikulum 2005
dogter van grootoompie Kader met sy Keltiese Engels
wat van tegnikontegnokrate professors maak om hul navorsingsdae te
verwyl op die gholfbaan
jy, kroonprinses van Grace Naledi Mandisa Pandor
Britser as Brits
met jou Magister Educationis
so bou jy voort op ‘n tradisie van
vir wat hulle leer tel
as hulle tog net gaan potte skuur en stene lê?
toegegee
Angie, Angie they can’t say you never tried
ten minste praat jy South African English
fluit jy die th- deur die klofie tussen jou voortande
weet ons danksy jou cadres en cronies jou puluma sit gemaklik
goudgetint met breë rek vir die lanksitslag in die dinkskrums
Angie, Angie, ain’t it good to be alive?
hoe de fok moet kinders leer vervoeg en leer spel
in ‘n era waar mens taalreëls deur osmose opsuie
in ‘n tyd waar hulle menere skaars verder kan tel as ‘n honderd
of as hulle are waar hulle moet is
wanneer die gesalarieerde uniebehorende
in die son sit en wag vir spazavoorrade
of om werkers agterop sy bakkie te laai vir ‘n boujoppie hier
of ‘n verfjoppie daar
as juffrouens eerder toyi-toyi oor te min sweetener oor die pap
as om die matriekmemorandum te traai ontsyfer
tree aan, Angie,
regopstaan my meisie
te laat het dit geword vir detensiestrokies
jou gaan ons uitstuur op die skoolterrein
waar jy sal moet wegduik vir die koeëls
messe moet systap die dwelmbase
die vatterige bierpens in die boekestoor
maters wat jou vloek of verkrag vir selfoontyd
gaan jou instop in ‘n klaskamer
sonder kas of sonder prent of plakkaat
hier sal ons jou saambondel met tagtig ander
en jou uitlewer aan alfabetlose algebra
die logika van die lydende vorm
ons sal jou ‘n venster bied op Europa
sonder’n landkaart
sonder ‘n aardbol
sonder foto’s
sonder Wikipedia
en sonder Google
die rekenaars het vriende se vriende lankal
een nag deur die dak weggedra
terwyl die graad nege-F-klas die biblioteek beset
troos jou, Angie-kind, jy gaan wel matrikuleer
deesdae kom die sertifikate soos KFC-papiere
net voor nuwejaar aangewaai
Angie, Angie, where will it lead us from here?
Angie, Angie die kind is ‘n bedonnerde boetman
hy laat val sy rugsak en soek weer sy klip in die stof
voor hy mik vir jou venster in die Uniegebou
Come on baby, dry your eyes
Ain’t it good to be alive
Angie, Angie, they can’t say we never tried.
© Marius Crous / 2013
As hierdie die kaliber gedigte is wat ek gemis het met verlede naweek se “Tuin van digters” is ek van voor af spyt dat ek dit gemis het. Dankie, Marius. En dankie Marlene van Niekerk.
Aangrypende gedig!
Het kostte wat moeite om het te doorgronden, maar dankzij google is het gelukt en stem ik volledig in met de reactie van Pieter W.
Allemagtig, wat ‘n gedig!!! Skitterend gedoen, Marius Crous.