Marlies Taljard. Marius Crous se katedraal-gedigte: gesprek met die argetipes
Ek het ʼn hele rukkie gelede ʼn paar blogs geplaas oor die drie openingsgedigte in Marius Crous se bundel Vol draadwerk (2012). Ter verfrissing van die geheue plaas ek al drie die gedigte weer:
GESONKE KATEDRAAL
die katedraal sak af in die water
soos valstande in ‘n glas wit grimas van steen
uit ruite en deure
van gate en openinge
van kantelende kandelare
altare wat oopkraak onder die water
die kruis wat wieg soos seebamboes
losgehaak tussen die dobberende mariabeelde
wanneer hy neergeplof het op die rug van die see
sal ek in en uit by hom kan swem
sal ek die timbre en die seegroen toonkleur van debussy
nog kan hoor
DUIKER BY YS-EILAND, KUS VAN BRETAGNE
in hier en uit daar swem ek
met my nuwe lyf ‘n seedier
in sy mensgesoomde pels
deur die gate en die krake
in die mure van die katedraal
gesonke
geen seeperde hou hul lyf harp hier
stil die orrel
sy pype ‘n aanpakplek van skulpe en koraal
ek voel belieg deur die burgery
waar die see op sy rug lê
hier waar ek die myters hoor dobber
die krapgeluide van die kruise as hul tuimel
hier die altare hoor oopkraak
of bybelblaaie soos wiere
flapflap in die seestrome
hier is geen klavier of fluit
hier net die asemstote wat uitborrel
voor my derde oog
van plastiek
MESSIAEN
messiaen lig die katedraal
wat debussy laat sink het
soos ‘n hand vol skulpgruis
uit die see
debussy het hom laat wegsink
soos ‘n skatkis in die geelgroen slik
maar messiaen
voor die orrel
katrol hom stadig op
op
op
op
tot op ‘n piek in darien
Gelees binne die raamwerk van die psigoanalise, soos gesuggereer word deur die motto van Afdeling 1: Chora – ʼn aanhaling van die psigoanalis Julia Kristeva – bevat hierdie drie gedigte interessante simboliese materiaal wat lig werp op die tema van spirituele liminaliteit wat dwarsdeur die bundel voorkom. Ek verkies om nie ʼn interpretasie van die gedigte voor te stel nie aangesien dit besonder veelduidige toepassingsmoontlikhede bied, maar om slegs enkele rigtingwysers te verskaf wat die leser mag lei tot beter begrip van die gedigte en die bundel as geheel.
Die belangrikste simbool in al drie hierdie gedigte is natuurlik die water. Water en die oseaan is beide argetipiese simbole. Dit beteken nie dat water as argetipe funksioneer elke keer wanneer dit in die letterkunde voorkom nie, en dit beteken ook nie dat dit altyd presies dieselfde funksie sal vervul elke keer wanneer die argetipe geaktiveer word nie.
Water is een van die belangrikste simbole vir die oermoeder, skepping en hergeboorte, vir spiritualiteit en doop, mistiek en oneindigheid, die ineenvloei van tyd en ewigheid en oorgange oor die algemeen. Volgens Jung is die oseaan die belangrikste simbool van die Onbewuste en die Kollektiewe Onbewuste van die mens.
In die bo gesiteerde gedigte is die oseaan beslis ʼn belangrike spirituele simbool wat onder andere die “water van die lewe” verteenwoordig, maar waarin eweneens herlewing en kreatiwiteit moontlik is. In drome het water (en die oseaan) dikwels seksuele konnotasies. As sodanig bied dit in hierdie gedigte (as eerste merkers van wat die bundel sal oplewer) natuurlik reeds ʼn vooruitskou op die tema van (gay) seksualiteit wat een van die belangrikste bundeltemas is.
Die oseaan is ʼn hele lewe op sigself wat verborge is vir aardelinge. In hierdie opsig vertoon dit ooreenkoms met die lewe in die baarmoeder, wat inderdaad gesuggereer word deur die titel van Afdeling I: Chora. Die chora kan, volgens Kristeva, geassosieer word met betekeniskonstruksie wat van nieverbale tekens gebruik maak, soos gevoel, gehoor en sig – dit is die tipe betekeniskonstruksie wat reeds binne die baarmoeder moontlik is (in ʼn volgende blog skryf ek meer hieroor). Die woord chora is ʼn Griekse woord wat uterus beteken.
Lees ʼn mens die betrokke gedigte, is dit onmiddellik duidelik dat daar voor die hand liggende ooreenkomste tussen al die gedigte en die voorgeboortelike toestand bestaan: die ronddryf in die water, die klankmatige aspek waarin lang vokale, diftonge en sagte, soms suisende konsonante voorkom wat geluide imiteer wat tipies tot die fetus sal deurdring, die feit dat die spreker homself as “seedier” beskryf en in die laaste gedig die verlossing uit die water …
Gelees in samehang met verskeie ander gedigte in die bundel, byvoorbeeld “Apostase”, en die losmaak van ou gevestigde godsdienstige praktyke en filosofieë, simboliseer die oseaan die aspek van selfondersoek en delf in die eie ego ten einde nuwe insig te verkry. Swem in die oseaan is, volgens Jung, ʼn besonder kreatiewe proses. Wanneer van spiritualiteit sprake is, moet onthou word dat die katerdraal die godsdiens van die Vader simboliseer wat die skrywende “ek’ wil aflê – daarom moet dit sink.
Dat al hierdie simbole voortkom uit ʼn mite (die mite van die versonke stad Ys), is veelseggend, aangesien mites juis dikwels argetipiese stof bevat en selfs uit die Kollektiewe Onbewuste ontstaan.
Daar is natuurlik nog verskeie ander simbole en toepassingsmoontlikhede van die simbole wat ek bespreek het wat op talryke webwerwe op die Internet uitvoerig bespreek word. Ek nooi hiermee die leser uit om self op ʼn ontdekkingstog te gaan en met hierdie gedigte op reis te gaan. Wat ek in hierdie blog probeer doen het, is om ʼn lusmakertjie te verskaf. Gedigte soos hierdie behoort nie met ʼn enkele gesanksioneerde betekenis opgesaal te word nie. Die aard van taal wat met die chora verband hou, is juis dat dit meerduidig is – byna onuitputlik soos die oseaan.