Clinton V du Plessis. Marilyn Monroe
Marilyn Monroe
In die Afrikaanse literatuur
is jy onder andere deur:
T T Cloete, Marilyn Monroe foto in blou,
Tom Gouws, Marilyn Monroe foto in grou,
Joan Hambidge, Monroe: foto in rou,
Lina Spies, Marilyn Monroe: foto in goud,
Lucas Malan, Lonely lady,
Peter Louw, Mej. Monroe in die oggend,
en nog
in vers gevang,
gekiek, momenteel, verewig.
Al wat die wêreld
van jou onthou,
Marilyn Monroe:
is nie die komplekse vrou
maar net die plooi, die vou.
Hollywood se opblaaspop,
bloot ’n lens se loops camel toe.
Oop, sonder dieper betekenis.
© Clinton V du Plessis / 2013