Clinton V. du Plessis. Taalles 101

Taalles 101

Daar was nooit sekere woorde
in ons woordeskat nie
dus het ons nooit sommige idees gekoester of vertroetel nie
want wat jy nie
kan benoem nie
nie kan verwoord nie
nie wil onthou nie
dit bestaan eenvoudig nie
meer
nie.

Byvoorbeeld:

wie onthou kitskonstabels?
bykans nege duisend
gekweek
ses weke opgelei
om opstand te onderdruk
die reëls te verbuig,

dit wat ongerieflik en ongemaklik
op die tong kom lê
stroop ons uit die taal
ons kapater die gewete die geheue gemaklik gerieflik
reduseer die diskoers tot

140 karakters lank

Kyk, die taal is soepel,

speels soos ’n hanslammer, lank voor die slagting

rooi rok bokkie-mooi
ah ah ah

baby, baby tjoklits-onskuldig
ah ah ah

hokaai stop die lorrie-verontwaardig
ah ah ah

jy vergeet
die taal was in Boipatong

(the place of hiding)
aan ’n stewel wat snags ’n deur in sy moer kon skop
of koevoet,
of in die loop van ’n pistool, knalgedemper
op die tweede verdieping van ’n vermeende skuilhuis
in ’n buurland
met twee verdwaasde kinders
wat wees wonder
oor die stillewe
van hul ouers se bloedbedruipte lyke op die vloer

die taal het ’n balaklava gedra
as die derde mag in die donker lokasies van teen-insurgensie
die sweterige hande met kapmesse in mynhostelle
het mombakkies aangesit die aangesig
Askari-swart gesmeer
handskoene
het die koverte vingerafdrukke van afsku verbloem

die taal was ’n fopmyn,

’n briefbom, fraai vermom.

 

Taal skend en skeld:

nigger, dyke

impimpi, Amaqheya

Sieg Heil.

 

Steeds:

“O wye en droewe land, alleen”

 

Desnieteenstaande:

“mateloos is my liefde vir die land
verwikkeld gehard en onomwonde.”

 

Want:

“Die geheue is ’n byekorf
vir die aandword van ons dae”

 

Dus,

die taaie tameletjie dan:
is dit taal of spreker wat die mandjie vol ballas
van die verlede moet probeer pypkan?

 

Eindnote:

Aanhalings kom uit gedigte van:

N P van Wyk Louw

Antjie Krog

Breyten Breytenbach

 

© Clinton V. du Plessis /2015

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Clinton V. du Plessis. Taalles 101”

  1. Gustaf :

    Hmm, die pen dra weer vrugte, goed om te sien Clinton.
    Taalles 101 krap aan aan ‘n soort jukkerigheid wat homself nog nie uitgewoed het nie……. trouens Taalles 101 is tans baie gewild in veral die Eikestad waar (amateur) videos die gereedskap is om die kursus verder te populariseer. En dis op die oog af nie opsioneel nie…….

  2. Maria Snyman :

    “Taalles 101” sou moontlik gesien kon word in die lig van Heidegger se woorde in sy opstel “What are poets for?”:

    “The mystery of pain remains veiled. Love has not been learned. But the mortals are. They are, in that there is language. Song still lingers over their destitute land. The singer’s world still keeps to the trace of the holy.”

    D.w.s. dit is nie net óf “taal [óf] spreker wat die mandjie vol ballas / van die verlede” sal kan “pypkan” nie, oftewel wat die waarde van die sg. waardelose dinge van die verlede kan problematiseer nie, maar ‘n sekere onderhandeling tussen die taal en spreker, oftewel die maak/raaksien van ‘n soort lied, oftewel gedugte gedig, of wat Derrida ook verkies om die poëmatiese te noem (en wat oral voorkom as jy mooi kyk) en wat behels daardie asof voorgeskrewe gedig wat [outomaties/logies moet/sou moes] gebeur [het] en net wag om raakgesien te word [om in die volle buitensporige/demonstruktiewe (Gouws 1988) glorie daarvan te gebeur] … ‘n [T]aaie tameletjie” inderdaad!

    Hoe werk dit immers dat ‘n digter dit wat ek al lankal VOEL maar sukkel om te verwoord, oor te vertel, “klein te kry”, vir my in woorde kan sit, dit presies reg te kan be-skryf … ?!

    “Daar was nooit sekere woorde / in [my] woordeskat nie / dus het [ek] nooit sommige idees gekoester of vertroetel nie”, maar nou kan ek – “die taal was ’n fopmyn, / ’n briefbom, fraai vermom”, want “[…] taal [is] ’n fopmyn, / ’n briefbom, fraai vermom”!

  •