Foto: Beth Frazer
“The body is not mute, but it is inarticulate; it does not use speech, yet it begets it.”
Hierdie aanhaling kom uit Arthur W. Frank se The wounded storyteller (1995) wat liggaamlike verwonding en siekte op ’n treffende wyse bespreek en uitlê.
Nou die dag word ek genoop om my dokter vir ’n tweede keer in twee maande te besoek. Nie juis my idee van vryetydsbesteding nie. Honderde rande se pille ten spyt, smaak dit my moderne medikasie doen weinig vir moderne mankemente. My situasie is egter allesbehalwe uniek: daagliks slyt miljoene mense hul bestaan met chroniese pyn waarvoor geen huisarts of spesialis ’n antwoord kan bied nie. Raadpleeg jy Prof. Google, is daar duisende obskure self-kommentare te vind oor elke kwaal onder die internet-son. Maar vanweë hulle oorwegende fatiese (small talk-aspek) taalgebruik maak min egter ’n blywende indruk.
“Telling stories of illness is the attempt, instigated by the body’s disease, to give a voice to an experience that medicine cannot describe” (18). Die mediese wetenskap teken bevindings aan, wat terselfdertyd op ’n kliniese siektebeeld en proefondervindelike metodes berus. Dit sou egter oneties wees om pasiënte se gegewens bekend te maak of data só aan te bied dat hulle herkenbaar sou word. Ongelukkig is hierdie artikels kentekenend van die individu se ontpersoonliking: “the master text of the medical journal needs the suffering person, but the individuality of that suffering cannot be acknowledged” (12). Lyflike verrinnewering en siekte kan nie werklik deur statistiek beliggaam word nie, omdat dit grootliks ontdaan is van Mitleid (medelye).
Frank se aanhaling het my laat besef hoe onontbeerlik die digkuns is in die persoonlike kartering van ’n siekte-ervaring. Die kern van The wounded storyteller berus op die aanname dat die pasiënt uit sy/haar rol as passiewe aanvaarder van diagnose en mediese diskoers tree en self verantwoordelikheid aanvaar vir die artikulasie van siekte:
For people to move their stories outside the professional purview involves a profound assumption of personal responsibility […] the ill person as patient was responsible only for getting well; in the remission society, the post-colonial ill person takes responsibility for what illness means in his life.
Marlise Joubert se splintervlerk (2011) is ’n voorbeeld binne die Afrikaanse digkuns wat hierdie verantwoording van lyflike verwonding verwoord. Die leser verkry ’n blik op hoe die digter se lewe deur ernstige pyn omvergewerp is.
In “die aarde weet dit” (9) word die digter se liggaam ’n skrikwekkende wese; ’n danteske demoon: “bek gesper / die gifgroen spleet in die vuurpyltong” wat kulmineer in ’n “intensiewe folterkamer”. Haar lewe word verder vergal tot ’n ingeperkte gesondheidsregime:
die bitter meelsmaak van ’n pil
kapsules kleurvol opgestoet met vitamien
die oefenprogram die wegdraai van alle soet.
“lumbale mikrodiskektomie” (13) verwys na ’n mediese prosedure wat uitgevoer word nadat die tussenwerwel- of kraakbeenkussinkies as’t ware oopgekraak of gebars het en die splinters kraakbeen teen die pasiënt se beensenuwee druk wat gevolglike inflammasie en onuitspreeklike pyn veroorsaak. Hierdie kraakbeenkussinkies word as “ontsteekte vlerkies / vlak bo die boud se naat” geskets wat die leser die direkte skakel met die titel van die bundel in verbinding laat tree.
In “blomtong” (20) word die liggaamlike verbrokkelingsproses gelykgestel aan losgeknipte irisse wat in ’n vaas staan: “agter die glaspot se riffelpatroon / hang afgeknipte slagare los in die water”. Joubert lei die leser deur ’n visuele kragtoer wat ook ’n skildery sou kon wees (sy is weliswaar ook ’n suksesvolle waterverfskilder). Die pers vlinders en irisse versterk die idee van kneusing voor en na die operasie en gevolglike lyflike indringing wat ’n traumatiese litteken laat:
agter pers vlinders bloei die trauma
van ’n week, nee twee of drie tevore
toe purpertange my rug vasgeknyp het –
die kraakbeen voos soos ’n neut laat bars,
weefsel soos saffraan kon kneus
en oranje meeldrade van ’n vlegsel
senuwees laat knak.
Lyflike verwonding gaan altyd gepaard met emosionele kneusing: “Only a caricature Cartesianism would imagine a head, compartmentalized away from the disease” (2). Hierdie verbondenheid tussen liggaamlike en sielkundige letsels word deur Joubert in “tuis” (27) bepeins. Die “ek” vrees ’n nuwe bestel: sal haar versplinterde liggaam haar geliefde van haar vervreem? Of is daar ’n kans dat sy, “splintervlerk” ten spyt, deur haar geliefde soos voorheen bemin sal word?:
voordat jou hand my
sleutelgatsnitte skandeer
waar die splinters vlerk verwyder is
voordat jou mond teen my hart
soos ’n oor kom pas –
wil ek weet dat jy gesig is
die ganse oopgelate
verbysterende gesig van liefde
soos dit voorheen was
Nog ’n Afrikaanse digbundel wat siekte as deurlopende tema bied, is E.W.S. Hammond se Doodsteek van ’n diabeet (1995). In hierdie bundel pen hy die geweldige liggaamlike aftakeling neer wat deur akute diabetes mellitus veroorsaak word. Hammond self is ’n geruime tyd voor sy dood versorg in ’n verpleeginrigting in Kimberley vir chroniese siektegevalle.
In die bundel se gelyknamige gedig (46) bring Hammond seks en siekte saam wat ’n ooglopende paradoks teweeg bring. ’n Interessante wending hier is die omkering van geslagsrolle; gewoonlik word pyn wat in seks geïnisieer word met die man in verband gebring en die ontvanger daarvan gewoonlik die vrou. Hier is die manlike spreker die ontvanger van seksuele pyn. Hammond maak ook gebruik van makabere self-spot wat die idee van selfbejammering ondermyn:
Elke oggend deur die steriele
sale van die hospitaal
kom my klein beminde
met haar wit gewaad.
Ek ontbloot my,
by voorbaat, soos ’n slet,
reg vir die kliniese daad.
Eers die hees fluistering:
Is hy in?
En dan, byna teer:
Het ek jou seergemaak?
Uiteindelik niks meer
as: Sien jou môre weer.
Ag hoor hier: my hart
wil breek; ek is al
so stukkend en so moeg
vir die alewige gesteek.
Talle ander voorbeelde van liggaamlike verwonding sou binne ’n groter bestek bespreek kon word; Antjie Krog se Verweerskrif, asook sekere gedigte van Sheila Cussons sou onder die loep kon val. Ek verwelkom enige ander voorstelle van soortgelyke voorbeelde in die Afrikaanse digkuns.
Bronne:
Frank, A.W. 1995. The wounded storyteller. Body, ethics, and illness. Chicago: University of Chicago Press.
Hammond, E.W.S. 1995. Doodsteek van ’n diabeet. Kaapstad: Tafelberg.
Joubert, M. 2011. Splintervlerk. Pretoria: Protea.
Gisela Ullyatt het aangesluit by ons span Suid-Afrikaanse bloggers – Red.
|
Gisela Ullyatt is ’n Vrystater in murg en been. Sy is gebore in Bloemfontein in 1977 en behaal die grade MA (Duits) en MA (Engelse taalstudie) aan die Universiteit van die Vrystaat. Haar PhD-navorsing (NWU) handel oor die Amerikaanse digter, Mary Oliver, gesien deur die raamwerk van Boeddhisme. Sy dig sedert haar hoërskooldae en in 1995 wen sy die De Kat/ATKV-poësieprys en in 1998 die Volksblad/Dept Afr/Nederlands-prys vir die beste gedig. Sy publiseer ook gedigte in Litera en Honderd Dichters 6. Sy en haar man, Tony, se eerste liefde is literêre vertaling en neem deel aan vertalingsprojekte soos In a Burning Sea (tans op Versindaba se webblad) en die SA Akademie vir Kuns en Wetenskap. |



Ag djinne toggie!
Korreksie: dit moet seker “nie-nie” wees. As lispelende eggo van “djin” Soos in:
“uitgelewer aan die deursigtigheid
van jenewer teen die lig
kon ons die dijn
in die bottel nie sien nie”
Djins is egter gebore matrose.
Ek het gehoor daar word na alkoholisme verwys as die “nie” in die bottel.
Een “nie” te veel hier bo.
Carina, daardie gedig van my (“Ontnugterde digter”) is eintlik outobiografies. Dis wel aan Opperman opgedra weens die verwysing na die skip in die bottel. Dit het geen verband met Opperman se lewe nie, buiten die verwysing na oormatige alkoholgebruik nie.
Dankie, Carina. Dis hoog tyd dat ek Komas weer onder oë kry!
“Komas uit ‘n bamboesstok” van DJO het die vermoeë om my telkens die hospitaal in en weer uit te jaag op die syroete tot in Kasjmier en verder. Of soos Daniel Hugo oor hom geskryf het: “op vyf-en-dertig – na baie skande – / weet hy jy kan die ryme ook takel / teen die kimme van jou kamerwande” Interessante stuk, Gisela!
Fanie en Desmond, baie dankie ook vir julle kommentaar.
En daar is Ernst van Heerden se Tyd van Verhuising.
By ‘n vorige geleentheid het Gisela op Versindaba soortgelyke “beligting” van ‘n tema wat ek as Liewe Ma aangeteken het en wat goeie belangstelling uitgelok het. Hierdie bydrae oor verwondheid bring na vore ‘n tema vir betekenisvolle gesprek. In albei gevalle was die navorsing en plasing deurdag en het sinvolle kommentaar uitgelok. As leek met etlike digbundels van Eybers, Opperman en Hambidge op my rak lees ek hierdie temas raak.
My vraag is wat word van uitstekende aanvoorwerk soos die en is dit net ek wat daarna streef om keurwerk (digbundels) oor sulke onderwerpe saamgestel te kry?. ‘n Verliesbundel en Liewe Ma is net enkele van die onderwerpe wat vir 2014 beoog word en voelers vir vertalings is baie positief ontvang.
Dankie Joan, ek gaan dit beslis opvolg!
Eybers het eweneens oor siekte gedig, nes Opperman se Komas die nagevolge van siekte karteer.