Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
4 December 20136 December 2013

Resensie: Meditasies (Joan Hambidge)

Die bardo van meditasie as reis: Meditasies deur Joan Hambidge, Human & Rousseau, 2013.

Resensent: Marlies Taljard

 

Die term meditasie kan in wyd uiteenlopende betekenisonderskeidinge gebruik word. Meditasie kan die betekenis van nadenke of analise hê; of dit kan verwys na ‘n toestand van geestelike suiwering en bewuswording, van ontspanning of konsentrasie op ‘n bepaalde punt; dit kan dui op die opbou van ki, prana of interne energie; dit kan ook dui op die nastreef van innerlike harmonie en stilte om ‘n toestand van welgeluksaligheid te bereik. Al hierdie verskillende betekenisse van die woord meditasie word in mindere of meerdere mate ontgin in Joan Hambidge se nuwe bundel Meditasies.

Die bundel sluit, veral wat tematiese materiaal betref, aan by Hambidge se vorige werk. Die reis-motief, wat ‘n soort cantus firmus in hierdie bundel vorm, is ook ‘n belangrike motief in die meeste van haar ander werk. Hambidge sonder reise (innerlike én konkrete reise) is byna onvoorstelbaar: die reismotief is immers dié ordenende beginsel in haar poëtiese oeuvre. Sy keer in hierdie bundel weer (Freudiaans) by herhaling terug na die vaderfiguur én ander familiefigure. Aansluiting by en verpoëtisering van ander digters en kunstenaars bly ook nie uit nie. Soos te verwagte, kom daar weer eens ‘n handjievol gedigte oor silwerdoeksterre en ander beroemdes voor. Wat nuut is, is die deurgekomponeerde fokus op meditasie en besinning as (spirituele) praktyk wat gedeeltelik voorberei is deur vorige bundels, veral Lot se vrou. Enkele gedigte, soos Meditasie, onthou en Meditasie, illusies verwys spesifiek na die meditasiepraktyk, maar baie van die ander gedigte is doodgewoon meditasies.

Die bundel bestaan uit vier afdelings, Meditasies: Stede, Selfkonfrontasie, Beelde en ‘n slotafdeling met ‘n enkelgedig, Meditasie: Stad. Tegnies is die bundel afgerond, deeglik beplan en netjies uitgegee, danksy Human & Rousseau.

Die eerste gedig, “Tafereel”, bevat belangrike beginkodes wat die res van die bundel in perspektief plaas. Die term “meditasie” word in die bundel oorwegend gebruik as reis na en herbesoek van plekke, gebeure en toestande in ‘n poging om te herevalueer en sin te gee. Die begingedig besing die rustige bestaan van eenvoudige mense in Beijing:

 

TAFEREEL

 

‘n Diepgroen boom

lowerryk, vol voëls wat sing,

staan in die agtertuin van ‘n huisie beskeie

in Beijing. Die oompies speel mahjong,

die tantes spoel al skinderend die wasgoed,

mense fiets verby, dis skoolkomuit-tyd.

Oor hierdie klein tafereel van menslike bestaan

staan daar ‘n voël opgesluit in ‘n hok. Sy kraalogies

draai soos ‘n arend s’n reg om dié gedoente.

Hy droom van ‘n ander bestaan, ‘n beter wêreld,

verby inperkings, vérvandaan, oor groot mure

veel, veel langer as sesduisend kilometer klip.

‘n Toevallige besoeker sien dit alles, vou dit op

en knoop dit vas in haar geheue. Só vredig

om in hierdie oomblik te wees, so ongelooflik eenmalig,

in hierdie digterlike tuin.

 

Die “vredige” atmosfeer wat in die gedig opgeroep word, die eenvoud en beskeidenheid van die lewe, is voorvereistes vir meditasie. Die voël wat droom van vryheid simboliseer in hierdie gedig die siel wat na bevryding smag deur die praktyk van meditasie. Wanneer meditasie as spirituele praktyk gebruik word, is die doel om die siel los te maak van die liggaam sodat dit hoër dimensies van bestaan kan verken. Al die indrukke, wat vooruitwys na die reis wat in die bundel beskryf word, word deur die digter vasgeknoop in haar geheue vir latere gebruik. Die konkrete resultaat is dan die digbundel in die vorm waarin ons dit in die hand neem en lees.

In die eerste afdeling van die bundel – wat myns insiens die beste gedigte bevat – speel die verskillende gedaantes en fasette van stilte – soos in die bogesiteerde gedig – ‘n belangrike rol. In die tweede gedig, Tokio, ‘n meditasie, word die vraag gestel: “Het stilte ‘n struktuur?” Hierdie “onlogiese” vraag is inderdaad ‘n soort koan waardeur die gees stilgemaak word ten einde ‘n meditatiewe toestand binne te gaan. Die gedig eindig met die reëls: “Die gode hier, soos ek, swyg in alle teengestelde tale. / In ‘n onversende e-pos seng geluidloosheid stilweg.” In Washington D.C., ‘n meditasie word verskillende aspekte van stilte aan die orde gestel deur woorde soos “eensaamheid”, “alleen”, “solo”, “enkel” en “stilte”. Wat my opval, is dat, hoewel daar dwarsdeur die bundel op stilte gefokus word en stilte natuurlik een van die belangrikste voorvereistes vir meditasie is, die gedigte self die teendeel suggereer deurdat hulle swaar dra aan ‘n magdom inligting, verwysings, intertekste en beredenering.

Nog een van die opvallende temas in die bundel Meditasies is die voorlopigheid, die verkeer in ‘n tussengebied, ‘n oorgangsone, ‘n bardo (soos in Tokio, ‘n meditasie). Die begrip bardo word in The Tibetan Book of Living & Dying (Sogyal Rinpoche) beskryf as “a ‘transition’ or gap between the completion of one situation and the onset of another.” In Meditasie, tussen stede word oor hierdie newelgebied gemediteer by wyse van die liefdesmetafore wat Hambidge se werk van die begin af kenmerk:

 

MEDITASIE TUSSEN STEDE

 

Die geykte uitdrukking

Eating one’s heart out doem

voor die geestesoog op

tussen twee stede: San Francisco

en Los Angeles. Heilige Franciskus?

Stad van Engele? Die tussenruimte:

beleef en onthou,

aankoms en vertrek

gister en nou

werklikheid en aanvoeling

(en al die ander opposisies)

laat my soek na die potustornnost

of die ander wêreld. Miskien

hét ek my hart in San Francisco

verloor of agtergelaat. In my dagboek genoteer:

“‘n Worstelbed van slapeloosheid,

‘n enkelkussing,

Time is on your side.“

Dis eers by nabaat dat ek wis:

hierdie reis was ‘n vaarwel

aan jou, skimmige geliefde.

Nooit behoort aan my,

geliefde van die tussenstaat,

van jou vorige geringde staat

op pad na jou nuwe okkupasie:

hartelose liefhebber van die entre nous,

ek staan op die Divisadero.

 

Uit hierdie gedig blyk ook die noue verband tussen reis en die liminale toestand: die reisiger is immers die hele tyd tussen bestemmings, in allerhande tussensones, soos dit ook uit Meditasie, grense blyk: “die wegvlug na ‘n vreemde bestemming // word ‘n oorgang // of drempel na nuwe ontdekking …” Die reis is, soos gesê, dié belangrikste ordenende beginsel in die bundel. In die eerste afdeling bevat byna elke gedigtitel die naam van ‘n stad. Dit lyk asof hierdie gedigte redelik chronologies op mekaar volg, aangesien hulle onderling na mekaar verwys en dikwels vooruitwys na mekaar. Deur so ‘n narratiewe struktuur en onderlinge skakeling van gedigte met mekaar, verkry die bundel – maar veral die eerste afdeling – ‘n sterk koherente struktuur. Teen die einde van die gedig Tokio, ‘n meditasie staan die bespiegeling: “En jy? Jy is reeds in San Francisco lesend aan Borges, / met ‘n glas merlot van Francis Coppola, wagtend / op ‘n boodskap van my amper in die Pickwick Hotel.” Die volgende gedig heet San Francisco, ‘n meditasie en vertel hoe die spreker op soek is na ‘n hotel, wat later die Pickwick Hotel blyk te wees. Ook die verwysings na argitektuur en spesifiek na Mies van der Rohe in verskeie gedigte, het ‘n samebindende funksie. Oor die algemeen is die bundel buitengewoon kundig opgebou deur middel van ‘n gesofistikeerde netwerk van alle moontlike koherensieskakels.

Sulke skakels bestaan, soos in die verlede, meestal uit verwysings na die werk van ander digters en kunstenaars, na dié mense self (dikwels in opdragte by enkelgedigte), uit verwysings na literêre en ander teorieë, byvoorbeeld Freud, Lacan, Borges, Vladimir Propp, Schopenhauer en ander. Hambidge se fenomenale verwysingsraamwerk wat haar werk deur intertekstuele verwysings verryk, is een aspek wat bydra tot die gelaagdheid en diepgang in hierdie bundel. Die gedigte behoort veral te spreek tot akademici wat haar verwysings met redelike gemak kan volg, aangesien baie van haar insigte kom aan die hand van vakkundiges na wie sy verwys. Interessante “gesprekke” met sulke mense vind ons byvoorbeeld in gedigte soos Freud se sofa, My lyf, ‘n psigoanalitiese analise met verwysings na Lucian Freud en Lacan en Meditasie, tyd . Laasgenoemde gedig is besonder interessant omdat ‘n bepaalde lewensituasie hier beredeneer word aan die hand van Vladimir Propp se bekende werk Morphology of the Folktale waarin hy die basiese handelingspatrone in sprokies ontleed. Hierdie gedig lê eweneens klem op oorgange – hier verteenwoordig deur die Brooklyn-brug – asook op die problematiek van tyd en ruimte, soos dat die spreker ‘n sms van haar minnaar ontvang in ‘n ander tydsone as waarin dit gestuur is.

Tyd word ook in ander gedigte in die bundel geproblematiseer. Telkens besin die digter oor aspekte van tydsverloop, soos in San Francisco, ‘n meditasie: “O stad, ek soek na die mens / wat ek was …” Stad van Engele is ‘n gesprek met “die engele afgestaan aan die dood.” Ook verskeie ander gedigte verwys na mense wat aan die dood afgestaan is, onder andere Carl Mischke, Brief vir Chris Lombard, My pa, By ‘n foto van my ouma, Anne Sexton (1928-1974), Just Marilyn (1926-1962) en talle ander.

Gedigte oor die eie digkuns, die Ars Poëtica, kom veral voor in Afdeling II, Selfkonfrontasie. Hier vergelyk die digter haarself dikwels met ander digters soos Eybers, in Sel(f)portret op 55, ‘n meditasie of in Meditasie, jaloesie, ‘n gedig waarin na ‘n hele paar groot name in die Afrikaanse digkuns verwys word. Besinning oor die poësie en ander kunsvorme neem dikwels die vorm aan van ‘n soort gesprek met teoretici, soos in Meditasie, Agon waarin Harold Bloom, Emerson en Wallace Stevens se insigte “oor die veelvlakkigheid van die psige” aan die hand van hulle werk belig word. Vir wie skryf jy dan jou gedigte? is ‘n besinnende reis waarin die name van onlangs gepubliseerde digbundels in die gedig met mekaar verweef word:

 

Jonger digters dans ‘n pirouette, lig die lem

vir ‘n nadoodse ondersoek, ontwikkel foto’s

met byskrifte en onderskrifte in ‘n donkerkamer.

 

Die voorlaaste afdeling bevat ‘n aantal gedigte oor bekendes en beroemdes. Daar is verskeie elegieë, onder andere vir Wessel Pretorius, Adrienne Rich, Annake de Villiers, Chris Lombard, Carl Mischke, Donna Summer, Dietrich Fischer-Dieskau, Anne Sexton, Sylvia Plath en – soos reeds verskeie kere vantevore – Marilyn Monroe.

Meditasies se 60 besinnende gedigte bied veel stof tot nadenke. Interessante en veelseggende verbande word gelê, die verlede word op ‘n bevrydende wyse herbesoek om nuwe sin daaraan te gee. Hoewel die bundel hoofsaaklik gerig is op redelik gesofistikeerde poësielesers, sal diegene wat vir suiwer plesier lees, ook vreugde daaruit put. Ek volstaan met die aanhaal van ‘n gedig wat in die besonder tot my gespreek het, die voorlaaste gedig in die bundel, ‘n gedig waarin oor die digproses as lewenslange opdrag besin word en waarin die vernaamste kodes wat in die bundel aangeraak is, saamgebind word:

 

ARS POëTICA

 

Stilte, eensaamheid

dryf haar van geboorte af

van wieg tot kis:

soekend na ‘n ander

se aanraak of troos.

Op verskeie reise,

vlugtend van om verlaat-te-wees,

weg van pynlike ervarings,

terug tot in die andersoortige kissie:

hierdie klein brose ding,

genaamd ‘n gedig,

nes die amberkamer

in die Hermitage.

Te vertelle,

eenling is jy gebore,

en só sal jy die gom

van die bome sny.

 

                                       Resensie geborg deur

 

 

 

 

 

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Lees meer

← Resensie: Kry my by die gewone plek aguur (Loftus Marais)
Resensie: Voor ek my kom kry (Pirow Bekker) →

1e kommentaar op “Resensie: Meditasies (Joan Hambidge)”

  1. Pingback: Marlies Taljard resenseer Meditasies deur Joan Hambidge | Books LIVE

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Resensie: "Dawerende stiltes" (Caren Kearley)
  • Resensie: "Wilma Stockenström: Met my wysvingertop" (Ronel Foster, red.)
  • Marlies Taljard gesels met Yves T’Sjoen oor "De ontdekking van het eiland" (Deel 1)
  • Marlies Taljard gesels met Yves T’Sjoen oor "De ontdekking van het eiland" (Deel 3 - slot)
  • Joan Hambidge. Athol Harold Lannigan Fugard

Nuutste bydraes

  • Joan Hambidge. George Steiner, “On Difficulty”
  • Carina van der Walt. Madeleine en Marianne (uit “Paryse Dagboek”)
  • 100 Duitse Bestes: Durs Grünbein (1962-)
  • Marthé McLoud. Een aand op straat
  • Joan Hambidge. Die digkuns as weefwerk

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on 100 Duitse Bestes: Durs Grünbein (1962-)16 January 2026

    Van die kant van die Redaksie: Baie dankie Bernard Odendaal en Robert Schall dat Versindaba hierdie skitterende vertalings kon plaas.…

  2. Joan Hambidge on 100 Duitse Bestes: Durs Grünbein (1962-)15 January 2026

    Hierom dan dat George Steiner sy Poetry of thought aan hierdie manjifieke digter opgedra het. Ek (her)lees tans Steiner se…

  3. Joan Hambidge on 100 Duitse Bestes: Durs Grünbein (1962-)15 January 2026

    Dank. Die gedig as smoelneuker. Goed vertaal.

  4. Jacobus Swart on Joan Hambidge. Die digkuns as weefwerk14 January 2026

    Die digkuns is distillasie. Die taal is verhewig. Dit vereis dat die leser sy sokkies sal optrek. Want die digter…

  5. Bernard Odendaal on Joan Hambidge. Die digkuns as weefwerk13 January 2026

    “Lostorring” het my ewe diep getref, Joan.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d