Jaco Barnard-Naudé. In memoriam: Nelson Mandela
In memoriam: Nelson Mandela
na Ingrid Jonker en BB
Ek moet huil.
Ek kan nie huil nie.
Vrydag 6 Desember.
Ek moet skryf.
Ek kan nie skryf nie.
Op alle gesigte
en in die oë
van alle mense
jou glimlag
en die eiland
van jou naam.
Alle voorspellings
koerantberigte
glansbylae
en aanwysings
sug
jou vertrek
herhaal
jou handdruk.
Die neon-bord
helderoordag
langs De Waal-rylaan
maan vir ’n slag
akkuraat:
Hamba kahle!
Gister beslis
’n ánder Wêreldbeker.
Vanoggend
Groenpunt-stadion
‘n somber vertoon.
’n Ster vlam op
soos ’n vryheidsvuis.
Ek moet huil.
Ek kan nie huil nie.
Ek moet sing.
Ek kan nie sing nie.
© Jaco Barnard-Naudé / 2013
@ Jaco: pragtige subtiele sinspeling tussen “moet” en “kan nie” in jou gedig. Dis dieselfe hoendereier-in-die-keel-effek wat mens sukkel om af te sluk by groot hartseer.