Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
7 January 20146 January 2014

Johann Lodewyk Marais. ’n Lewe

’N LEWE

 

In die klein ryk van my vae kindertyd

het ek kastele in die lug gebou

en die son in die ooste sien opkom:

oor riviere, vleie en heuwels sien skyn

en in ’n hemelsblou middag verdwyn.

Oral was die gees van my voorvaders,

bloedverwante wat allengs vertrek het

op ’n ander tog, durend, onkenbaar.

Die tuin met rosette van dahlias,

rose met hulle toevertroude lewe

en ’n oorle ouma wat bly herrys

in suurlemoenverbena se nageur.

Maar die stem van dié wat eens geroep het

na vryheid en geregtigheid was stil,

of eggo plek-plek in ou patroondoppies,

’n skyfskietklip vergete in die gras

en stories van ’n verlore oorlog.

In die huis in ’n uithoek van die land

het ek die wind in die bome hoor waai,

geskrik as dennebolle op die dak val

en ’n donker hand verbeel wat ruite

hard in hulle houtrame laat ratel.

By die kamer van die ademloses

het ek meteens myself in die deurspieël

van die swaar hangkas gesien en geken.

’n Vrou het my hand gevat, uitgelei

na buite, op ryp duiwelsnuif getrap

en my tussen skraal dennestamme my

moedertaal uit die eerste mond geleer.

In daardie dae het ons in ons spel

tydloos na aan die grafte gelewe –

die dooies nogmaals ter aarde bestel,

’n halfontbinde duif herbegrawe.

In die veld het sy beesmis opgetel,

versigtig geplak, en met haar vingers

patrone in die nat miskoek getrek,

en gekoes toe ’n miskruier opvlieg.

In ’n klipskooltjie het ek op ’n lei

onseker syfers en letters leer maak:

in die klaarte en digtheid van syfers

en die sinsbedrog van woorde verdwaal.

Die wind het oor die berge opgesteek

en om Skeurklip, Pelaan en Hlomisa

gehuil en kilte en verdriet gebring.

’n Reis het begin na ander plekke,

oorkant hierdie berge, waar die wolke

laatmiddag soos aandblomme verskyn.

Met my oog op ’n verweerde aardbol

en ruwe kaarte van groot trekroetes

het alles onherstelbaar begin kwyn.

 

© Johann Lodewyk Marais / 2014

 

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Johann Lodewyk Marais. Hargeisa, Somaliland
Johann Lodewyk Marais. Arabierperd →

4e gedagtes oor “Johann Lodewyk Marais. ’n Lewe”

  1. Johann Lodewyk Marais says:
    10 January 2014 at 10:17

    Baie dankie, Joan, Marlise en Breyten. Ek het probeer om op te som.

    Reply
  2. Buiteblaf Breytenbach says:
    9 January 2014 at 14:35

    ‘n Lieflike vers. Dankie, Johann Marais.

    Reply
  3. Marlise Joubert says:
    9 January 2014 at 11:32

    Ek stem saam Joan, hierdie melankoliese vers het my ook verruk.

    Reply
  4. Joan Hambidge says:
    9 January 2014 at 10:25

    Mooi vers! Jy is terug by jou lieflike debuut (“Die somer is ‘n dag oud”) — jou jeug, die plaas, herinneringe…werklike, roerende gedigte.

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. verskille
  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Hendrik J. Botha. Teen sononder
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies

Nuutste bydraes

  • Digtersprofiel: Johan Myburg
  • Joan Hambidge. Piromaan
  • Joan Hambidge. My geliefde voormalig
  • Jasmyn Beetge. Delikaat
  • Hennie Maartens. oorskot

Nuutste kommentaar

  1. Margaret Cordier-Biermann on Margaret Cordier-Biermann. Vrye teuels16 July 2026

    Dankie, Andre — jy verf gedigte en ons ry nou tyd en woorde bloots.

  2. Andre Roothman on Margaret Cordier-Biermann. Vrye teuels15 July 2026

    Uiters gemaklik op die literere verteringsstelsel. tyd die tiran het sy deugde.

  3. Toekie on C Fritze. Boodskap aan die see14 July 2026

    Pragtig geskryf. Het dit baie geniet.

  4. Bernard Odendaal on Daniel Hugo. Wat ’n vers kan verraai en vermag13 July 2026

    Die onderbenoeming - konkreter: die min woorde - roep treffend ‘n ysliker en aaklige “werklikheid” op.

  5. Karin on C Fritze. Boodskap aan die see13 July 2026

    Dié gedig praat met my hart en met my siel. Ek verlang na die klank en die reuk van die…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • onderhoude
  • Onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d