’N LEWE
In die klein ryk van my vae kindertyd
het ek kastele in die lug gebou
en die son in die ooste sien opkom:
oor riviere, vleie en heuwels sien skyn
en in ’n hemelsblou middag verdwyn.
Oral was die gees van my voorvaders,
bloedverwante wat allengs vertrek het
op ’n ander tog, durend, onkenbaar.
Die tuin met rosette van dahlias,
rose met hulle toevertroude lewe
en ’n oorle ouma wat bly herrys
in suurlemoenverbena se nageur.
Maar die stem van dié wat eens geroep het
na vryheid en geregtigheid was stil,
of eggo plek-plek in ou patroondoppies,
’n skyfskietklip vergete in die gras
en stories van ’n verlore oorlog.
In die huis in ’n uithoek van die land
het ek die wind in die bome hoor waai,
geskrik as dennebolle op die dak val
en ’n donker hand verbeel wat ruite
hard in hulle houtrame laat ratel.
By die kamer van die ademloses
het ek meteens myself in die deurspieël
van die swaar hangkas gesien en geken.
’n Vrou het my hand gevat, uitgelei
na buite, op ryp duiwelsnuif getrap
en my tussen skraal dennestamme my
moedertaal uit die eerste mond geleer.
In daardie dae het ons in ons spel
tydloos na aan die grafte gelewe –
die dooies nogmaals ter aarde bestel,
’n halfontbinde duif herbegrawe.
In die veld het sy beesmis opgetel,
versigtig geplak, en met haar vingers
patrone in die nat miskoek getrek,
en gekoes toe ’n miskruier opvlieg.
In ’n klipskooltjie het ek op ’n lei
onseker syfers en letters leer maak:
in die klaarte en digtheid van syfers
en die sinsbedrog van woorde verdwaal.
Die wind het oor die berge opgesteek
en om Skeurklip, Pelaan en Hlomisa
gehuil en kilte en verdriet gebring.
’n Reis het begin na ander plekke,
oorkant hierdie berge, waar die wolke
laatmiddag soos aandblomme verskyn.
Met my oog op ’n verweerde aardbol
en ruwe kaarte van groot trekroetes
het alles onherstelbaar begin kwyn.
© Johann Lodewyk Marais / 2014
Baie dankie, Joan, Marlise en Breyten. Ek het probeer om op te som.
‘n Lieflike vers. Dankie, Johann Marais.
Ek stem saam Joan, hierdie melankoliese vers het my ook verruk.
Mooi vers! Jy is terug by jou lieflike debuut (“Die somer is ‘n dag oud”) — jou jeug, die plaas, herinneringe…werklike, roerende gedigte.