ARABIERPERD
Equus caballus
Die oorspronklike bloedlyn gaan stellig
terug na die dae van koning Dawid;
’n perd geliefd deur Abbas Pasja I,
die graaf Rzewuski en Wilfred Scawen,
en opgekoop deur die lady Anne Blunt.
Die perde van Ibn Saud van Nejd se stoet
moes net vyftien hande hoog wees, niks meer,
en ’n korter effense hol rug hê
met die dik kanonne van die skene,
en welgesete lugpyp met strotklep
om akkers woestynwind in te adem.
Die breë kop, smaller af na die neus,
spits asof dit lug drink uit ’n beker,
met die wakker en gevoelige oë,
en die twee ore, spits soos skerp dorings.
Voor- en agterpote met digte been
asof uit suiwer smeedyster gegiet,
die skoon en snaarstyf gedraaide spiere
en ’n adrette hoef vir harde grond.
Die kort pels is sag, die maanhare lank,
die stertboog van nature perfek hoog.
Die heersende kleur: kastaiing of grys.
In die Sahara se perdestalle
staan in die oggend die buitelyne
van manne in disdasjas en keffijes,
met saalkomberse oor hulle diere
ter beskutting teen die son en die wind:
die perd wat jy mag ry en moet versorg
soos deur Mohammed aan jou toegewys.
Qur’ān XIV, 16:8
© Johann Lodewyk Marais / 2014
Ek lees tans Piet van Rooyen se boeiende “Reisiger te perd: 100 gedigte oor perde” (2013). Hy kyk minder biologies na die wêreld as ek!
Leon, …adret: viets, keurig, fyngevat. Lewendig, behendig. Opgewek, vrolik. Chic! 🙂
Johan, ek moet nou weer my onkunde tentoonstel want ek het nie ‘n HAT hier nie: adrette: beteken dit dieselfe as “adroit”?
Om aan hierdie “perd wat jy mag ry en moet versorg / soos deur Mohammed aan jou toegewys” “its power to provoke” terug te gee, dit is wat ek dink die digter dalk hier gedoen en reggekry het.
Pragtige gedig Johann. Rustig, telluries.
Ek hou veral van “’n adrette hoef vir harde grond” – dit is fyngevat en klink heerlik!