WOELIGE WOENSDAG
Wanneer water in die wasmasjien begin spoel
spring Kerneels vies oor die heining en bly stuurs
daar wag tot Maria die stofsuier wegpak.
Maar Klara kom aangedraf op Sam se groet,
skuur teen sy bene, skarrel op teen ’n stam
om mooi te kan sien hoe hy die beddings bewerk.
Onsigbare tuindiensmanne en masjiene brom
agter mure, pluk vullisblikke in opritte uit die gelid
waar hulle wag op die koms van die verwyderaars.
Onherkenbaar gehelmde fietsers flits verby
die stadige stappers met pette en tekkies;
swenk weg van moerige motoriste teen
die bulte gevang agter sementmengers
en lorries vol bakstene wat netnou
dwars in die pad gaan stop met hul vrag.
By die verkeersirkel en die robot wat rooi
bly flikker takseer ons mekaar; glip gou in
voor ’n stadige ou; verwissel vinnig van baan.
Dit woel op Woensdae, dit woel in die huise
en die woonbuurte; dit woel langs die strate;
dit grou in die grond, dit laat waai op die paaie;
dit werskaf onverdrote op morsige boupersele.
Julle, die wassers van wasgoed, die suiers van stof,
die grawers van slote, die pakkers van stene,
die waaiers van rooi vlae, die swaaiers van arms,
ek groet julle dankbaar, my vasberade stadsgenote.
© Martjie Bosman / 2014

Ek belewe weekliks soortgelyke dae – net op Donderdae in my buurt.
Natuurlik is ek weer mal oor die verwysings na Kerneels en Klara. Dankie
Baie mooi vir my Martjie, Woensdae (en dus ook die lewe) sal nooit weer dieselfde wees nie!
Daar is iets pertinent pragmaties aan die “verhaal”. Ek identifiseer veral met daardie woelige rumoerige tuindienste (of huisskoonmaakdienste) wat deesdae soos sprinkane op ‘n plek toesak, buurt of kompleks. Ek verstom my aan hul spangees.
Ek is mal oor die deel:
“By die verkeersirkel en die robot wat rooi /
bly flikker takseer ons mekaar; glip gou in /
voor ’n stadige ou; verwissel vinnig van baan”. Ons moet maar ons kansies vat om voor te bly.
“(…), pluk vullisblikke in opritte uit die gelid / waar hulle wag op die koms van die verwyderaars” is ook pragtig … iets diep dreun daarin, ek kry die “vullisblikke” skoon jammer!