Outopsie
My biologie-juffrou,
‘n slim plantkundige,
besluit ‘n lykskouing
sou die werking
van die spysvertering-
stelsel konkretiseer
net ná die beskouing
van die droë den
se geslagsontwikkeling.
Die distriksgeneesheer,
insgelyks bysiende
soos al sy brugmaats,
blaas sy ou siel,
kap ‘n lyk oop,
geformalien en gelaken,
voor ‘n bewerige matriekklas
in-die-ou-plattelandse-Suid-Afrika
in ‘n bedompige hospitaalkamertjie
met teringvlekke oor swart longe.
Soos die speurder indertyd
die lyk met kryt presies op teer getrek,
en ou sersant De Waal ‘n skets
moes maak in die polisiekantoor
vir Blankes hier en Swartes daar,
al was dit ‘n tref-en-trap-ongeluk,
deur ‘n ryk boer, glo beskonke,
net buite Tweedraai op pad na Ogies,
is een van daardie matrikulante vandag
besig met ‘n andersoortige forensika:
genaamd die ars poetica.
© Joan Hambidge / 2014