Reeva
Kon jy weet
daardie laaste keer
by die hekke van die Silwer Huis
en Rooi Badkamer
‘n sekuriteitsbeampte
sou Heilige Petrus vir jou speel?
Was daar ‘n geel gloed óm
jou gehul, soos Jung beweer,
wanneer ons wetend-onwetend dié oorgang
in volledige eensaamheid, dus solo, maak?
Sou jy kon raai dat die beroemdheid
waarna jy smag jou ‘n ereplek sou gee
in die galery langs JFK en Marilyn Monroe?
Jou oë gesluit soos Marilyn s’n
in die Brentwood-lykshuis in Los Angeles;
jou kop oopgeklief nes Jack s’n.
Kon jy dink Survivor was net ‘n voorspel
tot ‘n hofsaak met jou as die aanwesige-Afwesige?
Foto’s geneem, selfs uit ‘n lykshuis geskaai,
verkoop, vervleg, verpand, versend
met opgeswelde oë asof jy jou verweer
teen die ongerymde, die vervorming;
ja, selfs teen hierdie gedig,
‘n vérdere openbare skending.
© Joan Hambidge / 2014
Maar so word Reeva Steenkamp weer aanwesig.
Dankie,Joan.
Veral die laaste ses versreëls het ek aangrypend gevind.
Dis regtig ‘n baie mooi gedig wat empatie en sosiale kommentaar naatloos saamsmelt.
Stem saam. Dis ‘n aangrypende lykdig hierdie.
Sjoe, Joan … ‘n Kragvers tot in sy nate. Welgedaan.