LORD BYRON, KONING VAN DIE GRIEKE
(met erkenning aan Edna O’Brien)
1.
Lord Byron, ridder
van die rewolusie,
du sy skip
na die Griekse kus
om liefderyk daar
daardie vrank naat
los te torring
waardeur hy geheg –
‘n kanto geskreeu
teen die grys dagreis,
‘n gepluimde geveg,
‘n verraderlike bataljon verse,
opgestel teen die laaste
kruis-en-dwars woorde –
aan die jong ling
wat die kis stroop
van goue ponde,
die bloed aftap
vir ‘n kruik
by die tempel se ingang
en ‘n kas onthutsinge
verskeep na Engeland –
2.
21 dae ween hulle.
Die verlosser gelong
in ‘n karaf, genier, gehart
vir die balsembark,
terwyl Turkse klokke
‘n triomf beier,
‘n wrewelige plesier
oor Lord Byron
se Griekse slag –
gefnuik, gemoeras daar
waar hy ylend sy staf
in aftog en war
smeek en dreig
tot die hitte
met ‘n nat kleed
sy Griekse lot versnel,
alles jare vooruit
in ‘n sirkelsang vertel.
3.
En as Lord Byron wel dood is,
wys my die geraamte van swye
wys my die orgaanlose vat
waarin sy stiltes ingesout word
wys my die spook van Coleridge
wat soos handomkeer hier-hier
wys my die drog van ‘n vuur
wat aan die eeN eEN EEN slurp
wys my die rakke waarin Keats
en Tennyson soos spinnekoppe sit
wys my die oopgekerfte blik
sonder ‘n kyk daarbinne
En as Lord Byron wel dood is,
wys my onder die pyp die horrel,
‘n profesie, iets onafwendbaar
wys my die bloedlose vate by die bed,
wys my waar die kind nou en nooit
ja, ja, wys my die stotterende beuel
wys my die wind in die put
En as Lord Byron wel dood is,
wys my die bleek afgeroomde melk,
wys my dié-en-daardie asems, elk
wys my Shelley se biltonghart
wys my die blinde hond op die bult
buite die stad, ja, ja
wys my die uur waardeur die trein
sy dreun sleep en die slaap insluip
by die pasiënt in sy tent
4.
Geblik deurkruis Lord Byron die seë
van Gruland en Italië
tot uit die Teems hy ontboot
in staatsie hom bloot
vir Jan Rap en elke San
wat in hulle drome, dan en wan
oor sy koue wange streel
en hul wellustig omhels verbeel –
