Andries Bezuidenhout. Die poësie van Oppikoppi

Die twintigste Oppikoppi rockfees is pas verby. Elke jaar se fees het ʼn tema – hierdie jaar s’n was “Odyssey” – ʼn digterlike tema. Heel toepaslik en in ware Oppikoppi-styl was poësie ʼn prominente deel van die fees. Groot baniere langs die James Phillips-hoofverhoog het gedigte van o.a. Danie Marais en Finuala Dowling vertoon. So tussen deur die musiek is gedigte voorgelees, onder andere deur Danie Marais, HemelBesem, Jaco van der Merwe (van Bittereinder), Valiant Swart en Erns Grundling. Erns en Toast Coetzer, wat die digkunsprogram saamgestel het, het almal gevra om nie net hul eie werk voor te lees nie, maar ook gedigte van hul eie gunsteling digters. Ek het Marlene van Niekerk se “Nagpsalm” voorgelees met impromptu musikale begeleiding deur ʼn musiekgroep van Soweto. Oppikoppi laat my altyd aan ʼn gedig van Breyten Breytenbach dink, die een oor die “babelaasoggende” toe hy en sy tjom “uit kon stap met ge-oliede koppe en lywe met nuwe krake in iedere sit en lit.” Hy skryf oor ʼn “bliksemse son” wat “naaldskerp ʼn wit doek aan die aarde probeer stik”:

om met spesiale lippe ʼn eerste
bewerige koppie koffie af te sluk –
destyds, tjom, toe ons nog jonk genoeg was
om ons dronk vás te kon vát!

Ek sukkel lank reeds om my dronk vas te vat. Ek kom Oppikoppi toe om myself vir drie dae heeltemal te verloor. Sommige (soos ek) verloor hulself (wel, meestal) in die musiek. Ander slaan hul tente op, haal die rooster uit, maak die koelboks oop, en verlaat nooit die kampeerplek nie. Die algemene kampeerplek staan bekend as Mordor (danksy Tolkien) en die mense wat daar kamp word “prawns” genoem (danksy die film District 9). Dis miskien ʼn kant van Oppikoppi wat oningewydes sukkel om klein te kry: die amper maniese toewyding van die mense om hulself te geniet.

Gert Vlok Nel

Met elke Oppikoppi is daar egter ʼn tipe siniese joernalis wat een of ander verdoemende resensie in ʼn koerant skryf. Hierdie tipe kom nie Oppikoppi toe om te probeer verstaan wat daar aangaan nie. Hulle vra nie vrae nie. Hulle sukkel gewoonlik om iets negatiefs te vind om oor die musiek te skryf, want dis van Suid-Afrika se beste musikante wat hier optree. Dan pik hulle maar op die gehore se bad- en drinkgewoontes. Of hul klere. Of dat die meeste van hulle wit is. Twee sielkundestudente het die fees al probeer psigoanaliseer en het bevind dat die mense daar rou oor die dood van apartheid.

Daar is dus iets wat sulke joernaliste en ander kommentators mis. Ek sukkel om dit te formuleer, juis omdat ʼn mens dieper moet kyk, ʼn paar vrae moet vra om dit te verstaan. Want Oppikoppi is nie net sommer nog ʼn rockfees nie. Dis ʼn fenomeen, ʼn instelling, een wat nou al vir twintig jaar met ons is. In die tyd van die fads en fashions van populêre kultuur is dit ʼn baie lang tyd. Ek het al na soveel feeste gery of gevlieg waarvoor die mense bloot nie opgedaag het nie. Daar is ʼn hele paar organiseerders van sulke feeste wat my nog geld skuld. Dis dus nie maklik om ʼn suksesvolle rockfestival te reël nie.

Hoe kry die organiseerders van Oppikoppi dit reg? En wat mis jy as jy nie ʼn bietjie dieper as die oppervlak grawe nie? Vir my gaan Oppikoppi op ʼn vreemde manier oor die cool van uncool. Om my punt te verduidelik gaan ek nou eers ʼn wye draai moet gooi. Maar wees gewaarsku: Dis ʼn saak waaroor ek nie objektief kan skryf nie.

Die James Phillips verhoog

* * *

Die wêreld is besig om een groot supermark te word. Maatskappye kan slegs oorleef as hulle groot word en markte heeltemal oorheers. Sommige maatskappye se omset is groter as die bruto binnelandse produk van die meerderheid van lande in die wêreld. Hierdie tendens geld nie net vir maatskappye wat yskaste, motorkarre en klere maak nie. Dit geld ook vir die musiekbedryf. Kolossale platemaatskappye toets hul produkte in die groot musiekmarkte van die wêreld uit en stort dit dan orals elders op ʼn groot skaal uit. Miljoene dollars word in bemarking en verspreiding ingestoot. Alles gaan oor omset, oor trefkrag, oor “economies of scale.”

Die middelmoot kraai koning. Die dogter van ʼn hotelmagnaat maak ʼn plaatjie met ʼn deuntjie en dit verkoop. Dit verkoop nie omdat sy innoveer nie. Sy breek nie nuwe grond nie. Sy vervaardig bloot ʼn produk. Die marknavorsing het gewys die mense sal van hierdie en hierdie tipe klank hou. Ons gee vir die mense wat hulle wil hê en hulle gee vir ons hulle geld: “Ag, en sy is so glamorous, ons sal so graag soos sy wou wees, jy weet. Ag, die hondjie in die handsak. En siestog, sy het so oulik tronk toe gegaan.”

Nagtoneel

As ʼn mens nou bemarkingskonsultante moes aanstel om ʼn “brand” – ʼn handelsmerk – vir ʼn rockfees in Suid-Afrika te ontwerp, sou hulle beslis nie met die naam Oppikoppi vorendag gekom het nie. Om die waarheid te sê, dit sou waarskynlik onderaan die lys gewees het. Die naam Oppikoppi klink net nie cool nie. Dit klink soos een of ander oord iewers in die Bosveld waar mans met bierpense en two-tone kakieklere sit en brandewyn drink.

Ek dink dis dalk wat ons gedink het iewers in 1994 toe Dagga-Dirk Uys, die legendariese organiseerder van die Voëlvry-toer, begin het om die koms van ʼn band naweek met Koos Kombuis en Valiant Swart iewers in die Bosveld naby Thabazimbi te adverteer. Hy het die naweek by gigs in Pretoria en omstreke afgekondig en Liela Groenewald, ons woonstelmaat daardie tyd, het plakkate orals in Hatfield opgeplak, soos ʼn mens maar gemaak het as jy in daardie tyd gigs wou adverteer. As ek reg onthou, het die plakkaat juis genoem dat die gigs by die “Oppikoppi-oord” sou plaasvind. Ons woonstel se telefoonnommer is vir navrae opgegee. Daar was min navrae per telefoon, as ek reg onthou, maar verbasend baie mense het opgedaag.

Gedigte op baniere

ʼn Mens moet nou die konteks in ag neem. In daardie jare was daar nie so ʼn lewendige Afrikaanse musiektoneel soos nou nie. Engelse rock bands het ook maar gesukkel, met mense wat sonder oortuiging beweer het dat local lekker is. Almal het geweet dit was nie. Dit was ʼn slegte namaaksel van Amerika. Jy kon aan die gebrek aan kwaliteit sien as ʼn musiekvideo in Suid-Afrika vervaardig is, al het van die bands hard probeer om Amerika na te aap. Daar was maar min bands, platemaatskappye het plaaslike musiek nie juis ernstig opgeneem nie, en daar was nie ʼn kritiese massa van goeie klankingenieurs nie. Dalk het ons aan ʼn kollektiewe minderwaardigheidkompleks gely.

In die jare na Voëlvry het Afrikaanse musiek egter ʼn oplewing getoon. In 1990 het die eerste Houtstok rockfees plaasgevind. Sowat 20 000 mense het dit bygewoon. Die volgende jaar is ʼn soortgelyke fees gehou, maar die bywoning was aansienlik minder. In 1993 is die laaste poging aangewend, maar dit was ʼn reuse flop. Dit het gelyk of die energievlakke van Afrikaanse rockmusiek besig was om af te neem. Daar was ook nie juis ondersteuning van radiostasies vir enigiets wat nie heeltemal middelmoot was nie.

Gedig van Finuala Dowling

Saam met Koos Kombuis, wat reeds ʼn kultusfiguur was, was Valiant Swart egter besig om vir homself as musikant te vestig. Hy het reeds ʼn stewige aanhang in Stellenbosch gehad. In die vroeë 1990s het hy vir ʼn tyd lank in exile in Pretoria kom woon om vir hom ʼn gehoor in die noorde oop te speel. Sy strategie het soos ʼn bom gewerk. Baie vinnig was daar ʼn hele klomp groupies wat ander mense aan hulle krae, of enige ander plek waar hulle vatplek kon kry, na Valiant en Koos se gigs toe te gesleep het.

En dis basies wat gebeur het toe die gig in die Bosveld naby Thabazimbi geadverteer is. ʼn Hele klomp van ons is sak en pak af Bosveld toe in ons VW Beatles en ander skedonke. Alhoewel ons arm studente was, is daar altyd planne gemaak. Daar was die praktyk om nuwe handboeke op rekening te koop by Van Schaiks (wat deur ouers betaal is – hoe kan ouers dan nie vir studente se handboeke betaal nie?) en om die boeke dan oorkant die straat aan Protea Boekhuis te verkoop. Sodoende is kontant verkry vir musiekekspedisies en –eskapades.

Hierdie naweek het dinge aan die rol gesit. Die Bormann familie, wat die plaas besit, en die netwerk mense wat daar ontmoet het, het groter begin dink. Aanvanklik het Oppikoppi bestaan uit hierdie plaas, ’n aantal rondawels, en ʼn kroeg wat letterlik op die koppie is – een met ʼn asemrowende uitsig oor die Bosveld. En ja, daar is soms mans met bierpense en two-tone kakieklere sit en brandewyn drink, maar hulle luister oor die algemeen na goeie musiek.

Harry Kalmer

In Augustus 1995 het die Oppikoppi-span hul eerste rockfestival aangepak. Die naam was bloot “Festival of Rock”. ʼn Verhoog is aan die onderkant van die koppie by die swembad gebou. Dagga-Dirk Uys het weer gehelp met die organiseerwerk. Van heinde en verre het mense met tente, roosters en koelbokse opgedaag. Daar was een groep mense wat hul kampeerplek die “Valiant Swart Gedenklaer” genoem het. Een het selfs die woord “Valiant” in die hare op sy agterkop laat uitskeer. Suid-Afrikaanse rock was besig om ʼn ernstige fan base op te bou. Die line-up het baie Afrikaanse bands ingesluit. Behalwe vir Koos en Valiant, het Paul Riekert se Battery 9 byvoorbeeld opgetree.

Alhoewel Afrikaanse bands nogal prominent was, en die gehoor oorwegend Afrikaanssprekend was, was Oppikoppi nog nooit ʼn Afrikaanse musiekfees nie. Dis deels hoekom dit so suksesvol is. Dit het Afrikaans uit ʼn musikale laer gehaal en deel van Suid-Afrikaanse musiek gemaak. Enige vorm van kreatiwiteit wat afgesonder word in bedompige plekke word mettertyd ingat en steriel. In die Bosveld het kruisbestuiwing op verskillende maniere plaasgevind. Om die waarheid te sê, die mense van Oppikoppi moedig dit nogal aan. So byvoorbeeld het Koos Kombuis al saam met Gito Baloi opgetree, en Piet Botha saam met Vusi Mahlasela.

Dis ʼn belangrike punt wat baie vlietende besoekers aan Oppikoppi mis. Alhoewel die gehore hoofsaaklik Afrikaanssprekend is, luister hulle na ʼn breë spektrum van Suid-Afrikaanse musiek. By Oppikoppi hoor jy nie net rock nie, maar ook jazz, funk, hiphop en kwaito. Dis by Oppikoppi wat Vusi Mahlasela die kompleksie van sy gehoor in Suid-Afrika uitgebrei het.

Madala Kunene

Die eerste fees in 1995 was so suksesvol dat nog ʼn fees die volgende jaar in Augustus gehou is. Die naam was “Festival of Rock 2”. Meer verhoë is gebou, meer bands is geboek, en meer mense het opgedaag. Maar wegholsukses bring ook probleme. Met soveel mense wat opdaag, was ʼn deel van die intimiteit van die eerste fees besig om te verdwyn. ʼn Nuwe tradisie het ontstaan om elke jaar ʼn kleiner fees oor die Paasnaweek te organiseer. Praat maar met die geharde Oppikoppi-aanhangers, alhoewel daar iets besonders is aan sowat twintigduisend mense wat almal in Augustus in die stof ronddans op die maat van rockmusiek, sal almal sê dat die kleiner geleenthede in April hul gunsteling feeste was.

Daar was nou reeds twintig Oppikoppi feeste in Augustus en meer as tien oor die Paasnaweek. Op ʼn stadium het die rockfeeste so groot geword dat daar besluit is om dit na Pretoria se Fonteinedal toe te skuif. Dit sou logistiek makliker maak (hoe organiseer jy storte en toilette vir tienduisend mense in die Bosveld?) asook ʼn meer diverse gehoor lok (die ding van kamp is nou maar eenmaal nie so glamorous as landelike armoede nog te onlangs in jou verlede lê nie). Die logistiek was egter nie altyd so maklik nie (stede bring verkeersknope en regulasies) en selfs ʼn sterk poging by Pretoria se skougronde het nie daarin geslaag om die land se verskillende gehore saam te laat dans nie. Op die ou end is besluit om die feeste weer plaas toe te skuif – in die skadu van die koppie. Soos Suid-Afrika se skole verander, word die gehore wat die fees bywoon ook meer divers.

Vanaf 1996 het ʼn tradisie ontstaan om elke rockfees ʼn ander identiteit te gee. Kunsstudente is betrek by die ontwerp van plakkate. Die jaarlikse kompetisie gee aan hulle die geleentheid om ʼn portefeulje op te bou en om hul werk aan ʼn breër gehoor bekend te stel. Die name wat gekies word is ook nie altyd maklik nie. Soms is dit baie obskuur, soos die Willie Smit festival. Die reklamemateriaal het byvoorbeeld ʼn ster met snorre aan gehad. Die cool van uncool. Willie Smit was ʼn karakter op Bernoldus Niemand se plaat Wie is Bernoldus Niemand? wat oor sy weermagdae gepraat het. Die beste deel van die weermag was die “ballasbak” (sic). My Afrikaanse spelprogram ken nie so ʼn woord nie, maar almal wat in die weermag was, sal verstaan. Dan was daar die “Haat my want ek vreet my hasie” festival. Dit verwys na ʼn liriek van Fokofpolisiekar – “haat my want ek vrees my nasie”. “Wired” kry ʼn doringdraad, ʼn meerkat word afgestof (lank voor Vodacom se walglike figuurtjie) vir “Dust on my meerkat”, en dan is daar die nimlike dassie in die mees onlangse “The way of the Dassie” festival, waarvoor Toast Coetzer spesiaal ʼn boek met Dassie-ismes saamgestel het. Die boek se naam was Das Kapital. Die cool van uncool.

Saam met Erns Grungling en Danie Marais met Cat Power op die verhoog

* * *

Deesdae is dit nie meer nodig om te sê local is lekker nie. Almal weet dit. Daar is nou ʼn hele industrie wat rondom goeie Suid-Afrikaanse musiek ontwikkel het. Soos in die tyd van Voëlvry en selfs met die musiek en liriek-beweging is daar steeds ʼn wisselwerking tussen musiek en poësie. Daar word ook interessante dokumentêre films op groot skerms tydens die fees vertoon en benewens poësie, is daar ʼn toenemende fokus op beeldende kunste en fotografie. Wat musiek betref het ons deesdae ʼn groter aantal goeie klankingenieurs, daar is mense wat uitstekende en uitdagende musiekvideo’s maak. Alhoewel van die groter radiostasies nog agter die klip is, is veral die kampusradiostasies op die voorpunt van goeie Suid-Afrikaanse musiek.

Oppikoppi is natuurlik nie die enigste fees nie, maar dis enig in sy soort. Die mense van Oppikoppi kon die ironiese manier waarmee die span van Voëlvry met Afrikaneridentiteit omgegaan het uithaal, afstof, en tuis maak in ʼn nuwe land. Dit het Afrikaanse musiek deel van Suid-Afrikaanse musiek gemaak, en ons almal staan op sterker bene as gevolg daarvan. As ʼn mens ʼn woord soos Oppikoppi kan neem en dit in ʼn handelsmerk (of “brand”) verander waarmee soveel mense met lang hare en swart klere so sterk identifiseer, verstaan jy die kuns van die cool van uncool. Dan maak dit nie meer saak as die groot platemaatskappye swak musiek aan die massas voer nie. Ons hoef nie meer daaroor bekommerd te wees nie, want ons het ons minderwaardigheidskompleks oorkom. Soos een van Oppikoppi se T-hemde gesê het: “Young, gifted, and staying.”

Erkenning: ʼn Vorige weergawe van hierdie teks het sowat vyf jaar gelede in Pomp verskyn

Bookmark and Share

13 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Die poësie van Oppikoppi”

  1. Marlise :

    ‘n Heerlike en insiggewende essay, Andries. Dankie! Ek was nog nooit by so ‘n fees by Oppikoppi nie. Miskien moet ek maar wel probeer voordat ek 90 en rolstoelbehoewende word…

  2. Gisela Ullyatt :

    Ek weet nie of die Erns ‘Grungling’ aspris was nie maar ek hou daarvan! Laat my na die goeie ou dae van grunge verlang. Heerlik gelees aan hierdie artikel.Marlise, kom ons maak ‘n ‘date’ vir volgende jaar se O’koppie…rolstoele, et al.

  3. Desmond :

    Andries! Ek ken daardie sielkundige ‘navorsing’ oor Oppikoppi… ek skryf dit vir my honneursstudente voor om te wys wat gebeur wanneer die Lacan die fan tref.

  4. Leon Retief :

    Desmond het jy dalk vir my ‘n skakel waar ek dit kan lees asseblief?

  5. Desmond :

    Leon, ek gaan kyk of ek die PDF as ‘n aanhangsel vir jou kan inboks via Facebook.

    Hulle roer interessante onderwerpe aan, soos nostalgie en melancholie in kontekste van sosiale verandering, maar die teorie word gebruik om die skrapse data oor die kop mee te slaan (die arme Oppikoppi het nie ‘n kans gestaan nie; die skrywers het al voor die tyd geweet wat hulle bevindings gaan wees. Dit is dikwels die probleem met psigoanalitiese sosial-sielkundige navorsings: die navorsing word ‘n manier om te wys hoe Lacan se teorie werk, en DAT dit vir enigiets werk, eerder as wat die teoretiese konsepte gebruik word om ‘n aspek van die werklikheid te verhelder.)

    Dit is jammer, want daar is wel iets te maak van die emosionele teenstrydighede wat ervarings van sosiale verandering bring, soos dalk beter uitgebeeld word in die rolprent Goodbye Lenin as in enige navorsing. Epistemologies is die onkritiese gebruik van konsepte wat intrapsigiese prosesse beskryf vir sosiale en politieke analise natuurlik ‘n ander probleem waarmee psigoanalitiese sosiale sielkunde en sosiologie sit.

  6. Leon Retief :

    Dankie Desmond, as die fb-manier nie werk nie kan jy my e-pos adres by Marlise kry en dit direk na my stuur as jy wil.

  7. Andries Bezuidenhout :

    Desmond, hier is ‘n meer kritiese ontleding deur Lloyd Gedye. http://www.theconmag.co.za/2014/08/28/come-to-the-party-or-fuck-off-2/

  8. Leon Retief :

    Andries baie dankie maar jy het my ongelukkig geweldig depressief gemaak. Ek het gedink/gehoop dat die toekoms van beter rasseverhoudings by die jonger geslag lê en meer spesifiek by mense soos die wat Oppikoppie bywoon en nou blyk dit nie die geval te wees nie. Ek het hoop gehad, veral omdat ek weet hoe ons jongste dogter en haar vriendekring hul medelandgenote van watter kleur ook al beskou en met hulle interreageer. Ons hoop was dat meeste SA jongmense so is maar nou begin ek dink dat hulle in die minderheid is. Ek meen, as die rassisme soos beskryf plaasgevind het tydens ‘n volkspelebyeenkoms by die Voortrekkermonument sou ek dit kon verstaan, maar by Oppikoppi? Ek hoop ‘n paar glase wyn gaan vanaand help vir my pessimism…

  9. Andries Bezuidenhout :

    Leon, ek wens en kon ‘n goeie bottel wyn aanstuur. BCUC is toevalling die mense saam met wie ek Marlene van Niekerk se Nagpsalm gelees het.

  10. Maria Snyman :

    Jislaaik, Andries, het ek BCUC nou geniet! Baie dankie vir die skakel na Gedye se artikel wat ook baie lekker geskryf en interessant is. Rassisme onder jong mense … wat gaan in die skole aan? … Sou graag daardie Marlene van Niekerk cum BCUC voordrag wou kon sien?

  11. Maria, daar’s ‘n kort uittreksel van ‘n video wat Ilze le Roux van haar selfoon af op Facebook gelaai het. Ek dink darem die insidente wat Lloyd noem is uitsonderings en gebeur dalk juis omdat Oppikoppi nie ‘n eksklusiewe wit ruimte is nie. Om Die Stem daar te sing gaan net nie werk nie. https://m.facebook.com/story.php?story_fbid=10152638839915990&id=537660989

  12. Andries Bezuidenhout :

    Maria, hier’s ‘n ander skakel as daai een nie werk nie: https://www.facebook.com/video.php?v=10152638839915990&set=vb.537660989&type=2&theater

  13. Maria Snyman :

    Dankie vir die moeite Andries – ek wonder wat gaan aan met die FB want ook geen geluk met hierdie een? Ek probeer weer later.

  •