ÊRENS NÊRENS
“We are nowhere and it’s now.”
– Bright Eyes
“Table top dancing” beloof die Cadillac Bar se uithangbordjie
in ʼn nywerheidsdistrik iewers padlangs
tussen Guadalajara se katedrale en die lughawe.
Hoe vertrek mens dan?
Hou stil, laat die taxi luier,
maak ʼn glas vol en maak dit dan leeg.
Dans Catrina, dans op ʼn tafel
en sing van jou lewenshaat, jou doodsvrees
en vra: Waar is hulle?
Vra dit oor en oor: Waar is hulle nou?
Drie en veertig protesteerders
deur polisieskurke aan skurkpolisie oorhandig
en toe spoorloos. Lyke verbrand, word beweer,
verkool en tot as verweer iewers in ʼn rivierloop.
Oorskot uit sand gesif en vir Switserse genetici gepos.
Nou fynkam moeders kleurbaadjies vir hare,
krap in stortdreine rond
en elders grawe hulle ook, Catrina,
kom op soveel lyke af maar nêrens die studente nie.
Aan wie behoort al die grafte dan?
Knip drie en veertig papiervlae uit
en hang dit aan drade in die strate
om almal daaraan te herinner
dat ons nie weet nie, steeds nie weet nie.
Brand ʼn kers Catrina, brand drie en veertig kerse
of dalk meer en vra: Waar is hulle nou?
Laat ons drink en vergeet, drink aan die vergissings
van garingboomblare, drie en veertig glase,
want hulle lieg, hulle almal lieg
Catrina, in die fees van die lig lieg hulle
want die kinders kom nie terug nie
en hulle wil nie sê nie, skurkpolitici en die politieke skurke.
Waar is hulle?
Waar is hulle dan nou?
En ‘n artikel deur Homero Aridjis, wat hierdie jaar in Suid-Afrika was. (Dankie Breyten Breytenbach.) http://www.huffingtonpost.com/homero-aridjis/mexico-missing-students-protest_b_6203444.html
Ter verheldering, o.a. oor La Calavera Catrina: http://en.wikipedia.org/wiki/Day_of_the_Dead