Hallusinasie – onthou is drogbeelde
Ek het gidse, aanwysers, nodig
om my te lei
van die hede na die verlede
die kronkelpad,
my onthou en jou vergeet
net, dáár lê die onding.
Die ongeskonde era van die heuningby is verby
die bedreigde skoenlapper fladder vlerkverdwaasd in reservate.
Die geskiedenis – boesmanrotstekeninge
teen reuse swartborde van vergeet.
Oranje-Vrystaat, waar jy kon kooi slegs met permit
Die Tuisland vir Kaffer om, buite sig, te pik en te spit.
Tussen Brandfort
en Die Eiland is die pad glad nie kort
by Verkeerdevlei wag nou ‘n nuwe tolhek
(they paved paradise and put up a parking lot.)
Dáár iewers staan die kerktoring penis-orent:
Excelsior se 19
die dominee en die duiwel,
die gróót taboe,
die donker nagmaal
se soet verleiding,
die paal ken geen perk,
die ontrou, oor die tou
trap wat uitloop op
die gróót skaamte,
die slapnekhang aan ‘n tou
die hoer en die hof
die vergryp aan die meid
my onthou en jou vergeet
net, dáár lê die onding.
Die breë hoofstraat
eens, effe Joods en Portugees,
en nou die vele leë gebou
eens gekaart en getransport aan Kerk
verhuur aan Sanlam en Staat se geheimlike pynpolisie
wat waak oor die dun grys grenslyn
tussen waarheid,
tussen lieg,
tussen bedrieg
tussen máák bieg:
die inkopiesak oor die kop
die ongelaaide pistool se snellertrekfop
die natgepiste vrees van die verganklike vlees
en die verbrande briewe wat die prisonier nooit mog lees.
Vensters sukkel ruitloos
om die meeluister te onthou
dit wat eens só ankervas, só seker was
Geloof, Gelofte en Hoop
verval
gesloopte fondamente,
skaam monumente.
Al die geykte Afrikaanse idiome kom lê soet, vol genoegdoening in die mond:
die wiel draai,
daar’s ‘n wind wat waai,
gogga maak vir baba bang,
die bordjies word verhang,
elke hond kry sy dag,
wie die laaste lag.
John Vorster Square – die onvaste greep,
die vervlakste val na die gly op die seep.
Die nuwe Opperman
met die merk van die dier
staan trots met die land se leisels
in sy geëlte hand
hy, die Ou Taai Coon,
Koebaai Kanjani,
outa,
Utata,
Ou toppie,
profeet in die buik van die walvis
olike Jorik, kwalik nugter,
wedergebore as Marco Polo,
Raka, Shaka, Koki
mens, Dier, Ding
o waar, o waar, is ‘n Baltzhasar of Koot
in die volk se uur van nood?
My onthou en jou vergeet
net, dáár lê die onding
Janusz, Pools, met geleende pistool
draai sy gesig na die spieël
sien die bebloede lem en die lintwurm.
Selfs Derrida dekonstrueer die dooie Thembisile,
die kommunis as postmodernis
daar sit betekenis
laag op laag op laag,
onder die sin se soom
die dood is juis ‘n palindroom.
Ons vir jou
laat nou
vir wie koud?
My onthou en jou vergeet
net, dáár lê die onding
Boelala, my basterboer.
(c) Clinton V. du Plessis / 2014

Breyten en Engela:
Baie dankie vir die lees en kommentaar, dit word baie waardeer.
Clinton V. du Plessis se gedig’ Hallusinasie – onthou is drogbeelde ‘ skeur reg
deur die hart.
‘My onthou en jou vergeet
net, daar le die onding’
Die skitterende gedig maak hierdie digter onsterflik.
Hierdie gedig ruk oop – ook die ou wonde, die letsels wat te maklik toegesmeer is en nooit ophou sweer het nie, die kuipe van beestelikheid wat nooit skoongespuit is nie, die verspilde bloed wat daar is alhoewel dit veronderstel is om onsigbaar, of erger, verskoonbaar, te geword het. Clinton du Plessis herinner ons daaraan (met woorde soos spieëlskerwe) dat die gedig ook ‘n geheue kan wees, dat jy die klong in die tjalie sal sien lê wanneer jy in die kykglas staar, en dat die drol nog steeds dobber in die drinkwater waarvan die versoeningssjampanje gegis is.