Wicus Luwes. Ode aan ‘n Souttekort

 

Hierdie tyd van die jaar begin die souttekorte erg deurslaan. Dis veral die binnelanders, wat deur skoolvakansies vasgepen word, wat dit die ergste voel. Hulle kan al die Groot Dam ruik. Hulle kan al die meeue en raserige branders hoor. Hulle kan al die growwe sand onder hul tone voel (al hou hulle nie van sand nie). Die Dam se water bring genesing vir klein snytjies wat ander medisyne nie kan heel nie.

Ek wonder waarin die helende effek van die Groot Dam lê. Miskien is dit die afskakel van die normale dagtake. Dit is moontlik soos die rustigheid van ‘n ouer se asemhaling op ‘n klein kindjie – daardie oerritmes van die kosmos wat die maan en die sterre deur eb- en springgety vir ons kom openbaar. Dit is moontlik die ironie dat water, wat ons dors normaalweg les, ons eerder dors kan maak.

“Wit is the salt of conversation, not the food.”
– William Hazlitt

Deel van die resep, maar nie bo die dis verhewe nie. Sout is deel van ons dieët, maar die regte hoeveelhede is soos met enigiets die belangrikste deel daarvan. Jy kan altyd sout byvoeg, maar as jy eers te veel sout bygevoeg het, is dit moeilik om die dis weer eetbaar te maak. ‘n Groepie vriende smul by geleentheid aan ‘n heerlike dis en begin redeneer oor wat alles in die dis kan wees.
“Ek dink ek proe origanum,” sê die een gas.
“Miskien baie fyn gesnyde sampioene?” raai die volgende.
Die gasheer het geknik as hul reg geraai het.
Na verskeie raaiskote en kopknikke, het die gasheer laat weet:
“Julle het al die bestanddele nou reg geraai, behalwe vir een.”
Die gaste het eksotiese en inheemse speserye genoem en met kullinêre kinkels a-la-Kokkedoor vorendag gekom. Aan die einde van die aand, was dit die gasheer wat met ‘n skalkse glimlag sy gaste elkeen by die deur kon groet met die woorde:
“Die laaste bestanddeel was sout!”

“Julle is vir die aarde soos sout in kos. Maar as sout nie meer soos sout smaak nie, dan kan niemand dit weer soos sout laat smaak nie. Daardie sout beteken niks. Mense gooi dit buite weg en hulle trap daarop.
– Matteus 5:13 uit die ‘Bybel vir almal’-vertaling

Daar is party dinge wat ons as vanselfsprend aanvaar. Ander dinge waarby ons verbykyk alhoewel dit ‘n bitter belangrike deel van ons samestelling is. Daar heers bekommernis oor die mens se Jodium-inname in ons moderne tyd. In die 1920’s is Jodium by sout gevoeg om die tekorte aan te vul. Dit speel ‘n belangrike rol by die skildklier en tekorte kan tot gebrekkige konsentrasie, stadige metabolisme en selfs goiter-probleme lei. Die moderne mens word geleer dat sout sleg is vir die hart en verder voeg vervaardigers ook minder en minder Jodium by sout. Die lewe gaan mos maar oor balans en soos met jou verlange na die sout van die see, weet ‘n mens dit nie eers altyd dat jou liggaam na ‘n bietjie Jodium smag nie. Dit is net asof daar iets kortkom in jou kos of jou lewe.

My Oupa het dikwels ‘n eetlepel sout gesit en eet. Ek het as kind ook somtyds hom probeer na-aap, maar ek het gegril daarvoor. Daar sou seker een of ander mediese rede vir sy sout-etery wees, maar ek sal dit maar eerder oor my kos neem. Die belangrikheid van sout in die verlede is interessant. Tydens die sluit van belangrike ooreenkomste, moes daar sout geruil word. Ek wonder of die gebruik dat besigheid oor ‘n lekker maaltyd bespreek word, nie sy oorsprong by die sout-ruil gebruik kry nie, want daar word mos sout oor die kos gegooi. Die woord ‘salaris’ het ook sy oorsprong by sout, want Romeinse soldate se ransoen was hul ‘geld om sout mee te koop’. Die salaris was dus ‘n soort ‘geld vir sout’ of soutgeld. Dit het definitief raakpunte met die spreekwoord dat ‘n goeie werker sy ‘sout werd’ is.

Ode aan sout
deur Pablo Neruda (vertaal deur De Waal Venter)

Hierdie sout
in die soutpot
het ek gesien op die soutvlaktes.
Ek weet
jy sal my nie glo nie,
maar
dit sing,
die sout sing,  die vel
van die soutvlaktes
sing
met ‘n mond versmoor
deur die aarde.
ek het gesidder in daardie
verlatenheid
toe ek geluister het
na die stem
van die sout
in die woestyn.
Naby Antofagasta
die hele
salpeter pampa
weerklink:
dis ‘n gebroke
stem
‘n treurige
lied.

En daar in sy grotte
die soutjuweel, berg
van verborge lig,
deurglansde katedraal,
kristal van die see, vergetelheid
van die golwe.

En daar op elke tafel
op aarde,
sout,
jou rats
substans
gesprinkelde
lewenskragtige lig
op ons kos.

Preserveerder
van antieke
skeepsruime,
ontdekker
jy het gevaar
op die oseaan
eerste
die onbekende, half verborge
paaie van die skuim in.

Poeier van die see, die tong
ontvang van jou ‘n soen
van die nagsee:
smaaklikheid in elke
heerlik gegeurde dis
berus op jou oseaanagtigheid
en so wys
die kleinste
miniskule
golfie uit die soutpot
ons nie alleen sy huishoudelike witheid nie,
maar die sentrale smaak van die oneindige.

Kantlyn-nota: Hierdie blog het eintlik begin toe ek die belangrikheid van sout in die realm van religie probeer navors het. Ek is ‘n groot aanhanger van gruwelflieks (alhoewel ek nie gruwelboeke kan lees nie, want dit bly my te lank by). Baie gruwelfilms wys dat slegte geeste ‘n lyn of sirkel van sout respekteer. Die Algemis binne-in my is nog besig met die navorsing, maar ek vind dit werklik interessant.

Ons besef baie keer eers te laat dat ons ‘n sout-tekort het of gehad het. Ek sien daarna uit om een van my seesout-tekorte aan te vul met die lees van ‘n ander soort see in ‘In a burning sea’. Die vertalings kan ‘n mens opnuut na ‘n gedig laat kyk – amper soos wanneer jy bo en onder die oppervlak van die see inbeweeg.  Een so ‘n dimensie van die see het vir my oopgegaan met die lees van Johann Lodewyk Marias se bundel ‘In die bloute’.

Tierkourie
Cypraea tigris
deur Johann Lodewyk Marais

‘n Digter het eens oor ‘n skulp geskryf,
selfs die binnekant in detail verbeeld
en voor die leser se oë laat leef.
Ek het met verwondering geluister.
Tuis het ek die skulp in my hand geneem,
hom om en om gedraai en goed bekyk.
Hoe moet ek dan te werk gaan as ook ek
dié sieraad uit die see nou wil vereer?
Moet ek eers weer op my boekrak gaan soek
om meer oor die oseane, vorm
en gedrag van dié boorling van Pemba
te lees voor ek ‘n woord op papier sit?
Moet ek hom desnoods alkant bestudeer,
in sy binneste inkyk, notas maak
en sy samestelling deeglik vasstel?
Moet ek die man van Maputo loop pols
by wie ek hom vir ‘n hand vol munte
van die hoop voor sy voete gekoop het?
Of moet ek hom liewer teen my oor druk
en luister of hy self iets te sê het?
Miskien sal ek maar ‘n digter moet vra.

Vir T.T.Cloete

Dit is partykeer nodig om die aarde se ritmes te probeer naboots, want dit is groter en langer en wyer as ons. Die asemhaling van die see. Die sout wat die see vir ons as geskenk aanbied. Partykeer is daar kalmte te bespeur in die nabootsing van daardie ritmes. Die see is net ‘n skulp-oor-die-oor ver en die sout is bietjies-bietjies in alles verstrooi.

Ballade van ‘n soutpot wat leegloop

sout

sou

so

s

Bronne:
1. Internet: http://blogs.24.com/poems/2013/12/22/neruda-se-ode-aan-sout/
2. Internet: http://www.bybel.co.za/search/search-detail.php?prev=-2&book=MAT&chapter=5&version=2&GO=Wys
3. Internet: https://pbs.twimg.com/profile_images/313400428/salt_shaker_photo.jpg
4. Marais, J.L. In die bloute. Pretoria: Cordis Trust Publikasies, 2012

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •