Carina van der Walt. Berig uit Gent
Op 3 Desember het Breyten Breytenbach ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Gent ontvang. Vir sommige versindaba-lesers was dit moontlik om die verrigtinge “live stream” te volg so goed of so sleg as wat die internetverbinding dit toegelaat het. Aansluitend daarop volg hier nou ’n leesverslag.
Die Aula Academica van die Universiteit van Gent, ontwerp in neo-klassieke styl deur Lodewijk Roelandt, adem ’n waardigheid wat jou stilmaak. Hiér word die eredoktoraat aan Breytenbach ’n bietjie later uitgereik. Ook die breë trappe op pad na die aula toe kan mens nie ánders as statig beskryf nie. Ek staan op die dik mat as ’n klein skakeltjie tussen hier en daar, tussen noord en suid, tussen die bekoorlike, terughoudende hoflikheid van hierdie mense en die hartverwarmende, oorrompelende spontaniteit van my eie mense.
Die verrigtinge van die aand begin plegtig met die binnekoms van die kongregasie: akademici in toga van die Universiteit van Gent, die Universiteit van Stellenbosch, die Noordwes-Universiteit (Potchefstroom) en die Universiteit van Amsterdam. ’n Verwelkomingswoord word uitgespreek deur prof. Anne de Paepe, eerste vroulike rektor van hierdie universiteit.
Prof. Yves T’Sjoen begin sy eerbetoon met die voorlesing van die Nederlandse vertaling van Breyten Breytenbach se gedig Dans, openingsgedig uit sy opstelbundel Berigte uit die Middelwêreld. T’Sjoen fokus op die slotstrofe:
als muren verbrokkelen
en de ongebreidelde kreet
zich in je ontvouwt
een weergalmende, schemerige bezwering
van dansende ruimten –
een stilte van wind
Iets artistieks en eksistensieels is hierin, sê T’Sjoen, want “muren verbrokkelen” en word uiteindelik “dansende ruimten”. Dit is slegs moontlik met “ongebreidelde” en eiesinnige taal. Eers dan val die mure van onverskilligheid. Woorde wat nie beredeneer kan word nie, maar wat sintuiglik en innerlik deurleef is, het die inspirerende krag van ‘n “weergalmende, … bezwering”. Die digter Breytenbach is nie net ’n reisiger in woord en daad nie – hy is ook ’n danser en ’n windvanger. Die sintuiglike woord vermag baie op voorwaarde dat die digter daarin glo en dat dit “doorleefd” is. (vorige strofe). En dan? Mure verbrokkel. Ruimtes dans spontaan.
T’Sjoen belig vervolgens Breytenbach se persoonlik geskiedenis en hoe die liefde daarin verweef is met die politiek. Dit is nie net Breytenbach se uitmuntende digtersloopbaan nie, maar ook sy politieke betrokkenheid in die styd teen apartheid, wat die Universiteit van Gent twintig jaar na demokrasie laat besluit het om die eredoktoraat aan hom toe te ken. Breytenbach volg hiermee in die voetspore van Desmond Tutu (2005) en Graça Machel (2008). Sy eensame opsluiting as politieke gevangene in Suid-Afrika speel volgens T’Sjoen in beide sy literêre werke en skilderye ’n rol. Breytenbach tematiseer buitestaanderskap en ’n swerwersbestaan. Hy is die vabond wat beklemming, dood en verval dig. Breytenbach self sê hy hanteer: “die oggendlig, beweging, sosiale kritiek, geheue, verbeelding, bewussyn en gewete”. Hy verset hom nog steeds teen konvensies en burgerlike middelmatigheid. T’Sjoen noem dit individuele ongebondenheid. Breytenbach leef en werk op die oomblik afwisselend in Europa, Suid-Afrika en Senegal – en skep vir homself ’n lewensnoodsaaklike middelwêreld.
Nadat hy sy eredoktoktorsgraad in ontvangs geneem het, wys Breytenbach dadelik op die veelvuldige ruimtes vir verstaan en misverstaan tussen Afrikaans en Nederlands. Samewerking hou ook soms misverstande in. Dis nie noodwendig sleg nie, sê hy. As kreoolse Afrikaner is hy gebore “in die suidoostewind, onkunde en vrees, onderdukking en genade”, maar hy het ook die voorreg gesmaak om onder andere Paul van Ostaijen, Herman de Coninck, Luc Gruwez, Wim Hofman en Adriaan van Dis te lees. Hy het ’n paar persentjies saamgebring om dankie te sê: twee klippe (miskien die vysel en stamper?); ’n eksemplaar van Oorblyfsel (in beperkte oplae uitgegee deur Uitgewery Hond) en die eerste twee eksemplare van Imagine Africa (essays en gedigte uit Afrika).
In sy dankwoord lees Breytenbach twee gedigte voor: Boland – ’n eerbetoon aan sy mentor, Martinus Versfeld, en EvV Okt. 2002 – opgedra aan die Belgiese digter, Eddy van Vliet, wat toe oorlede is.
dit was die verstandhouding
ons het dit selfs tong in die kies
skriftelik bevestig destyds
in verse wedersyds
soos wolke en weerkaatsings
dat ons nie oor mekaar sou skryf
van anderkant die stomp meslem
van die dood
geen kattebelletjies sou los
in die donker laai
van ’n agtergelate lessenaar
[…]
en nou is die wolke
verfrommelde vlae en biljette en baniere
en nou dwarrel jou asse
’n skemer sneeu
deur bemindes in hoede en jasse
gestrooi indie digtersdorp
van jou koue Vlaandere
soos herfswoorde bloei in die doolhof
van verstrengelde verhoudings
tussen sterwendes en engele
en hiermee liewe verbrande vriend
moet ek jou veraai
moet ek die mes soos ’n maan
laat glinster in die môre
om die as op papier te omtower
in stiltes se silwer handvriende
want ek hoor reeds die haan se derde kraai
skeur oor die rivier
Op pad terug na sy stoel toe, maak Breytenbach ’n klein buiginkie voor die grand madame van die Universeit van Gent en soen haar hand soos dit ’n “egte Franse heer” betaam. Betowerend! Grys goud. Laurens van Krevelen, oud-uitgewer van Meulenhoff, lees ’n drietal gedigte oor die liefde voor uit Oorblyfsel. Die slotwoord van Adriaans van Dis volg in die vorm van iets wat die naaste kan kom aan ’n tradisionele Afrikaanse pryslied: “Eredoktor! Jubeldoktor! Eksellensies! Breyten Breytenbach het my lewe verander en daarvan is u getuie!” En ek is die skrywende skakel tussen warm en koud.
Baie akademici uit Suid-Afrika en die Lae Lande het aan die kollokwium wat op hierdie aand se verrigtinge gevolg het, deelgeneem. Wannie Carstens, Michael le Cordeur, Guido van den Berg, Inneke van Kessel, Eep Franken, Ena Jansen en Luc Renders het almal interessante lesings gehou. Meer daaroor is elders op internet te lees onder die titel Die taal se stiltes.
Met ’n weldeurdagte sleutellesing het prof. Louise Viljoen die kollokwium Vrydagoggend ingelei. Onder die titel Die ‘duister gedig’ in Breytenbach se drieluik “Die windvanger” (2007), “Die beginsel van stof” (2010) en “Katalekte” (2012) het sy probeer verduidelik hoekom Breytenbach se poësie as hermeties ervaar word. Volgens Viljoen is die idee van uitwissing nie net voortdurend aanwesig in bogenoemde drieluik nie, maar is dit ook ’n terugkerende topos in die Postmodernisme: stiltes, leegheid, witheid, dood. Tog kan Breytenbach se poësie ook modernisties gelees word, byvoorbeeld teen die gruweldade van die tweede wêreldoorlog en die uitwissing van die Europese Jode. Die verwantskap tussen die topos van uitwissing en die massamoord op die Jode is ook aanwesig in Paul Celan se poësie met woorde soos: niks, niemand, nêrens. En ook Edmond Jabès het die topos van uitwissing gebruik by die Jode se grusame lot in die vorm van ellips, asteriske, parenteses, verskraalde gedigte met baie wit en ander nie-alfabetiese tekens.
Hoewel akademica in murg en been het Viljoen op die laaste oomblik besluit om haar lesing byna op ’n digterlike wyse kort te hou. Skielik was dit wat sy wou oordra vir die gehoor toegankliker. Dit het haar as letterkundige gekomplimenteer. Sy het gedemonsteer dat “less is more” ook soms kan werk in die akademiese wêreld. Breytenbach se verlange dat die sélf uitgewis word, sy angste vir die naderende dood, vir die toekoms van sy taal en sy vaderland en sy kontinent Afrika het Viljoen beperk tot net twee elemente: a) die rol van kriptogramme en b) die rol van duisternis in sy gedigte. ’n Voorbeeld van ’n gedig as kriptogram haal sy aan uit Die windvanger. Sy spekuleer nederig in die teenwoordigheid van die digter oor sy taalverskieting in hierdie teks:
Koong Byten 1
ekis di koon fan padysel
boome en vlogte
boeboe toorm wond
wa vlagte floet
in vlegsels wole
Met ander woorde koong is miskien koning, Byten – Breyten, padyssel – Parys of paradys & sel, boome – bome en wole – wolke.
Viljoen dink verder dat Breytenbach doelbewus duisternis geskep het in sy gedigte. Sy verbind dit aan sy persoonlike geskiedenis, naamlik die jare wat hy in die gevangenis mag geskryf het, maar ook geweet het alles word gekonfiskeer en gelees. Woorde wat op duisternis dui en op moeilike poësie soos dié van Breytenbach betrekking kan hê, is donker, verborge, onhelder, onduidelik, onheilspellend en verdag.
Uiteindelik was dit Breytenbach se beurt om in ’n lesing te reageer, maar ’n lesing was dit nie! Niemand kon dit ook van ’n digter verwag nie. Van die os op die jas… (Parys, Des. 2014) is eintlik ’n ontspanne gesprek tussen sy linkerhand in ’n gebalde vuis (OS) en sy oop, uitgestrekte regterhand (JAS). Met ’n vonkel in die oog bied Breytenbach aan:
OS: Om die grond gelyk te maak, die mond wat praat te identifiseer…
Jy sou hierdie causerie kan aanbied as ’n teisho, soos dit in Zentaal genoem word (dit is nie ’n taal nie) oftewel ’n direkte deling wat nie ’n mededeling is nie. Want om aan woorde en frases vas te klou met die bedoeling om begrip te kweek, so het meester Mumon al opgemerk, is soos om die maan met ’n stok te wil bykom of om die skoen te krap omdat die voet ’n jeukplek het.
JAS: Dames en here, u moet hom nie kwalik neem nie. Hy praat maar altyd so in raaisels en neem dan nog sy toevlug tot hoogdrawendheid ook. Die benadering pas hom soos ’n handskoen want nou kan hy mos van die een onderwerp na die ander dwaal terwyl hy maak asof die dorings hom nie pla nie.
Hierdie causerie loop ’n hele klomp bladsye verder (tong in die kies) só af:
OS:
ek is ’n digter
moenie vir my lag nie
ek is ’n digter
moenie van my verwag
om sin te maak uit syn nie
ek vang die woorde
in vlug en bewe
en pluk hulle vlerkies
om ’n kleed
van ligte trilling
te maak bewe
ek is ’n digter
ek gaan dikwels dood
in elke donker vertrek
van die vers
sonder om teken
of sonde te sing
te laat wapper
ek is ’n digter
julle het my nie geken nie
moenie vir my wag
vir môre nie
moenie vir my lag
oor gister nie
ek is ‘n digter
JAS: Voel jy nou minder beswaard? Het jy jou behoorlik ontboesem? Jy kry darem maar swaar met die lewe, né?
OS: Dit is so. Dit moet wees omdat die woorde of die flarde of die gedagtebewegings, die vlerkslae sou jy kon sê, my nie met rus wil laat nie. En wat die hart van vol is…
JAS: So nou… Ganôg is ganôg. Buitendien, jy het vir Luisteraar en Leser belowe om die kwispedoor nie te lank in beslag te neem nie, jou nie te buite te gaan en die mense te verveel en te vewar met jou onverstaanbare gekweel nie. Sê nou dankie vir die mense wat so geduldig was.
OS: Dankie, mense!
Daarna kry Breytenbach ’n dankie vir sy dankie by prof. Jacques van Keymeulen. Die opvallendste geskenk is iets wat Suid-Afrika, België en hierdie Sinterklaasaand van 5 Desember moet verbind: ’n sjokolade olifant! Arme Breytenbach. Hy gaan verseker naar word. Dis ’n eerste in sy lewe.
Ten slotte lees Charl-Pierre Naudé sewe van sy eie gedigte voor. Sommiges is vertaal deur Bernlef, Dorsman en Crebolder. Aan my linkerkant (die hart se kant) sit BB. Ek reik hom my regterhand en sê dankie, terwyl die straatbrakke tjank-tjank blaf en daardie alwetende klipoog stadig knipoog. Aan my regterkant (die rigting waarin ons almal aanhou skryf) kom sit Naudé. Ek reik hom my linkerhand en sê welkom. Hoekom? Hierdie klein man kyk wyds en verdig die wingerde in Duitsland se Moeselstreek wat styfgespan oor die rantjies loop soos Afrikaanse vlegseltjies op die koppe van jong vroue in Limpopo. Hierdie klein man kan groots skryf oor die kruie in sy ma se bebotie wat in klein neutedopboodjies op die Amsterdamse gragte onder deur ’n duisend brûe vervoer is. Op my skoot kruis my arms soos ‘n piepklein skakeltjie.
(c) Carina van der Walt / Desember 2014
Uitstekende berig, Carina. Eintlik veel meer as net dit. Dankie.
Carina, baie dankie vir jou leerryke en sensitiewe ‘leesverslag’ vol fyn besonderhede, asook die foto van die pragtige klipgeskenke.
Baie dankie Carina vir hierdie wonderlike gedetailleerde verslag van ‘n besondere (en onherhaalbare)geleentheid! ‘n Kragtoer vir jou!