Tomaz Salamun : 7 Januarie 1941 – 27 Desember 2014
Enkele dae gelede, so op die stert van die sterwende jaar (wat in doodstuipe nog steeds vloedwaters kon ontketen en vliegtuie uit die lug kon klap), het Tomaz Salamun sy dansskoene aangetrek en ligvoet tussen die sterre verdwyn. Miskien het hy besluit, « tot hier toe en nie verder nie. » Miskien het hy gevoel die duiseligheid en die verlies van ewewig is te veel ; dat dit nie die moeite werd is om te lewe as mens nie eens meer ‘n boek kan lees nie.
Ons verloor ‘n groot digter. Die merkwaardige is dat sy gedigte seker nou eers tot hulle enigmatiese en eie skoonheid gaan ontplooi. Vanaf die heel eerstes was hulle gekenmerk deur ‘n speelsheid, ‘n grensloosheid, ‘n verbeeldingsgebied wat in byna enige denkbare rigting kon strek, ‘n intelligensie en ‘n ‘logika’ wat die poësie vanselfsprekend gemaak het en slégs in die poësie kon lewe.
Natuurlik was die wêreld waarbinne hy opgegroei het, van oorloë en onderdrukking en mal ideologiese konstrukte en musiek en ‘n intense belewing van die absurditeit van menswees, ‘n vormende invloed – as ‘Joegoslaaf’ (‘n suiderse Slawiër volgens die betekenis maar eintlik netsoveel van ‘n kunsmatige samevoeging as om ‘n Suid-Afrikaner te wees) van Sloweense afkoms uit ‘n kunssinnige familie, wat sonder komplekse of vrees vir die uitdoof en dood van die stam (daar is net ‘n raps meer as twee-en-‘n-halfmiljoen Sloweniërs) in sy moedertaal, Sloweens, bly skryf het. ‘n Wêreldburger – hy het seker ten minste vyf tale vlot gebruik ; ‘n ontwortelde burger van die Middelwêreld. Iemand wat nie gely het aan kopkolonisering nie en nie slaafs of kritiekloos die ‘vreemde’, solank dit maar eksoties en van ‘elders’ is, probeer naboots het nie. Iemand wat met humor vir jou kon verduidelik waarom Zizek byvoorbeeld, ‘n tydgenoot uit dieselfde wêrelddeel, ‘n holle vermaker is.
Enkele aanhalings uit die voorwoord van Christopher Merrill tot die keuse, in vertaling, van Salamun se gedigte (« The Four Questions of Melancholy »). Charles Simic (ook eens ‘n Joegoslaaf) wat verduidelik – « Here is something we can all count on : sooner or later our tribe always comes to ask us to agree to murder. » Salamun self, in « Folk Song » : « Every true poet is a monster, he destroys people and their speech. » Dalk het hy hom ook as ‘n monster ervaar, en as ‘n « sfeer wat deur die hemele spoed. » (En ek onthou van die foto’s wat Salamun se vrou Metka Krasowek die aand geneem het toe Ko Un so wild gedans het in die sleepwa wat ons agter ‘n trekker terug opstal toe vervoer het onder die sterre, van die strepe lig vasgelê op film soos dansende ‘engele’ om die dansers in die nag. Weer Simic : « The lyric poet is almost by definition a traitor to his own people. He is the stranger who speaks the harsh truth that only individual lives are unique and therefore sacred. He may be loved by his people, but his example is also the one to be warned against. The tribe must pull together to face the invading enemy while the lyric poet sits talking to the skull in the graveyard. »
by die heengaan van Tomaz Salamun, 27 desember 2014
« l’amour est fort comme un poème »
– Carmen, Bizet
« Little robin,
bones pinned to the cosmos.
Who whistles, who calls ? »
– (Untitled), Tomaz Salamun
1.
die mens se blouskrif loop tot waar die reis
verskiet in sterre
en nie verder nie
onderweg fluit nagvoëls in die kreupelhout
branders staan op om te swel en breek
laat seisoen wanneer dae saamkrimp
sal daar soms berge wees
gestolp onder ‘n laag sneeu
van mymering of ‘n geheue
aan ewige lewe
en nie verder nie
niks is verklaarbaar in die worp woorde nie
maar wanneeer die nag uitskei in dag
is alles aanwesig
soos dit nog altyd was
bome, ‘n snawelmaan getower uit rook
ook skaduwees en kinders se helder klokklanke
en nie verder nie
die mens kry sy laken
wat ‘n seil pas by die lyk
sy kis as sloep vir die gedagdroomde vaart
oorkant toe
en niks verder nie
2.
ons was saam hier voor die nag se oneinde
om te tuur in daardie ruimte
waar ‘n wenteling sononders
in die kolk verdwyn
en net die knettering skroeisels oorbly
as flonkerpetale oor ‘n swart tafeldoek
ek lig ‘n glasie op die stilte van jou verkoolde lippe, vriend –
al het die kyk my oë verblind
en is daar niks meer om te sien nie
3.
… het onthou van die halfmaanmuur
in die onderste tuin
waar twee suurlemoenboompies
nou skuilte soek
… daar byna uitgevee deur seisoene
geskryf sien staan :
rug téén die muur
van bergwindkoue uit die noorde
anderkant die grens om ballingskap
om die rug te draai
en oor einders te soek
na gerugte van vryheid
*
En hierdie huldigingsgedig van Bill Dodd :
For Tomaz Salamun
you’ve gone out now into your own
uncanny logic
where trees are trees and not trees
and looking is absorbed into light
we imagine you there
one step ahead of angels
two of devils
your tuft of grey hair
flapping in interstellar breeze
your boyish grin
as you show them
you have not died at all
but simply sidestepped
that dull thing called time and place
by now you’re ready again to
sneak up behind us
spring a fifth question of melancholy
vanish into your next impossible world
before we can turn
you always had so many lined up ahead
a world or two per poem
and since they all need winding up
from time to time
we know we’ll always glimpse you there
whizzing through your volumes
turning ineffable keys
clocking in and out of nowhere
leaving us gasping
a page behind
but grinning back at us
teasing us on—
‘the dance is here, there,
dance it,
dance it now!’
*
(c) Breyten Breytenbach / Desember 2014


Baie dankie, Breyten vir hierdie roerende huldeblyk: dis terselfdertyd ‘n refleksie op verskeie denke oor die dood – en ‘n baie bemoedigende een!!”When the light finally falls short…” neem ek aan die sterre oorskadu jou bewussyn.
Slavoj ‘n holle vermaker? Ek gaan nie hiermee akkoord nie. The pervert’s guide to the cinema & die opvolg oor ideologie is meer as “holle vermaak”.
Maar nou ja. Ons kan nie almal dieselfde idees of denkrigtings najaag nie.
Terselfdertyd dwing Salamun se digkuns bewondering af.
Dat ‘n mens die dood so mooi kan maak, is ‘n vertroosting. Baie dankie Breyten.
Ek is baie hartseer om hierdie nuus te verneem. Dit was vir my ‘n groot voorreg om hierdie digter te ontmoet tydens die Dansende Digtersfees op Spier.
“Three nights in a row I spent among the gnosticts. /White butterflies hunted each other above the roses /while the snakes writhed and swallowed each other. /Here, it’s just like over there. People are born and die./ […] The earth, the faces, the loves / that passed through my life, everything turns into lapis lazuli.”
Baie dankie vir hierdie wonderlike dubbel-huldeblyk. Pragtig is vir my:
‘Tomaz Salamun (het) sy dansskoene aangetrek en ligvoet tussen die
sterre verdwyn.’
‘n Mooi huldeblyk aan die mens agter hierdie enigmatiese en verbluffende digterskap.