VERJAARDAGRYM VIR ‘N SESTIGER OP SEWENTIG
Dié man, hy was ‘n Brink gewees,
besoek die kampus heel bedees.
Dit was die jare sestig toe,
Parys se dinge hier taboe.
So kom die jonge André P.
‘n lesing vir studente gee.
Van eksistensie wis ons niks,
ons kort ‘n skrywer as ‘n gids!
Hoe avant garde, hoe Frans sy flair;
‘n literêre porno-ster!
Ja, op sy wange het die blos geskyn
van ademlose nagte langs die Seine.
Ons hoor hy was waaragtig daar
met al die grotes deurmekaar.
Die klong van Potch noem almal op die naam:
van Robbe-Grillet en Levi Strauss
tot al die skrywende mesdames
met wie hy (miskien nooit) so hartlik was.
Dan lispel hy “Francoise Hardy”,
en bry sy “r” tot donker “g”.
Hy sê hy’t dae omgesit in Deux Magots,
gebras daar oorkant by die Lipp ook glo.
Die man se binnegoed was Frans,
ons kry dit alles eerstehands.
Barnard, Rabie en Leroux
klink skielik mak en taamlik “toe”.
Breyten was nog aan die blom;
sy dag sou laterjare kom.
Dié sater-sestiger had reeds statuur
wat lyf gee aan ons literatuur.
Hy kon vertel van jouissance
wat trillings stuur deur Afrikaans.
“Lokaal” en “realisties” was verby:
nou kon mens letterkundig vry;
charmeur, ambassadeur, wat jong studente
verlei met visies van die dekadente.
Jare later wil ons by die terugdink
‘n ietsie op sy invloed skink.
Lig ‘n glas: salut aan hom,
‘n laat-lobola vir ons bruidegom.
Intussen kyk dieselfde Brink, op sewentig,
soos daardie dag
so effe skalks, so skamerig.
Eenmaal het hy in onse taal
‘n orgie aangestig,
as jongeling, dekades terug.
(Die gedig het voorheen verskyn in Tydskrif vir Letterkunde. 2005.
Temanommer: Andre P. Brink @ 70. Pretoria: Letterkunde-Vereniging. 213 p.)
© Zandra Bezuidenhout /2015