DIE MORUTI
Die klein moruti met die horrelvoet
het sy eie motor en dra ’n swart pak;
sy vrou in damas groet beleefd.
Pa wys hulle die melkskuur
en uit die strooise op die plaas
kom vanmiddag ’n gemeente,
kom in hulle beste klere
en ruik na Sunlight-seep, Dubbin,
kom na die skuur en sit op die krip.
Ek gaan sit by Sloepek Mokwena
en luister hoe die man met die bril
uit die Testamente e Ntja lees
en oor die liefde van Christus praat;
en hulle sing met stemme
wat ek nie ken uit die kombuis nie
of as in die môre gemelk word
of klere gewas word by die handpomp
of hawer gesny word op die lande nie;
sing hard en soel ’n lied
wat die tik-tik van die sinkdak
in die middaghitte stil maak
en my laat vergeet van die hommelby
wat dreun en sy gat in die muur soek.
Bid dat God hulle sal help by die werk
en met die klein boerdery op die land.
Bid vir ons almal op die klipvloer.
(c) Johann Lodewyk Marais
Aangryplike gedig. Dankie Johann
H van Rensburg – so een met alles.
Johann Lodewyk Marais – eerlike kinder waarneming waaroop ons dikwels ons latere menswees grond.
Dankie Johann
Vanaf Umlaasweg maak die pad ‘n wye boog op weg na eMbumbulu, Plek van Misleiding. ‘n Ent voor die afdraai na Eston, in ‘n eens besige maar nou verlate slaghuis, met ‘n houtkruis bo teen die nok van die dak vasgetimmer, het ek ook so ‘n gemeente geleer ken.
En geleer bid:
“Baba wethu osezulwini,
dankie vir die pampoen.
Vir die bone wat opgekom het,
lig ek U naam hoog op, Here.”
So, dankie ook vir die gedig.
Aan die voete van onthou, waar alles naby is en aards. Mens méns is. En God Gód is. En liefde stil is. Dankie, Johann!
Hoendervleis gee “Die Moruti”.