Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
11 May 201513 May 2015

Kobus van der Riet. Die WAT en die Bomwerper in die Ovaal Kantoor

Die WAT en die Bomwerper in die Ovaal Kantoor

 

 

Ons gons uit die blou.

Ons dreun bo die aarde.

Luister! Luister!

 

Soos ons almal seker teen dié tyd weet, onderteken Pres. B.H. Obama van die VSA op Dinsdagoggende die doodsvonnise van almal wat in verre lande deur middel van onbemande afstandbeheerde vliegtuie se missiele om die lewe gebring moet word, hetsy vermeende lede van Al Qaida of die Taliban, hetsy hul Amerikaanse meelopers of ander ongewenste persone. En daarmee saam enigeen wat toevallig op die toneel mag wees, soos bv. begrafnisgangers of bruilofsgaste. Die regsproses word nie by hierdie doodsvonnisse betrek nie, dog die handtekening word steeds nodig geag. Die dodetal behels reeds ten minste 2887 mense in Pakistan, Jemen, en Somalië, waarvan honderde burgerlikes was, selfs onskuldige kinders.

Ons is mooier as die albatrosse,

ons is witter as die seemeeue,

ons is vinniger as die mens se gedagte:

nog voor julle ons sien,

as julle ons nog skaars gehoor het,

val ons skaduwee op julle…

 

In Engels staan hierdie aktiwiteit as “drone killings”, “drone strikes”, “targeted killings” of  “drone assassinations” bekend en die opperbevelvoerder van daardie moondheid is dus ‘n “drone killer” of “drone assassin”. Nou kan ‘n mens vra wat die Afrikaanse term vir hierdie belangrike hedendaagse begrip is, sou ‘n mens se eie doodsberig dit benodig of sou die draadlose radiostasie van RSG daaroor wou verslag doen. Ooglopend is “onbemande afstandbeheerde vliegtuig-sluipmoord” te lomp en lank om aan die skielike verskyning uit die niet van hierdie dodelike tuig reg te laat geskied. So wat is die moontlikhede?

‘n “Drone” is ‘n hommelby. Die naam is gepas omdat die bepaalde vliegtuigies seker wel ‘n ligte dreuning voortbring. Die woordeboek erken “hommel” as ‘n korter weergawe van “hommelby”, en hoewel hommelbye na my wete nie besonder gevaarlik is nie, is dit nietemin ‘n by, en suggereer die naam deur assoasiasie dus tog pyn en lyding, afgesien van mededinging om die guns van plompe koninginne.

Sou die WAT dan tevrede wees met “hommelmoord” en “hommelbom” om dié byderwetse aktiwiteit te verwoord? ‘n Mens sou dan kon verwag om ‘n berig oor die nuus te hoor soos: Mnr. So-en so en sy bruilofsgaste is vanoggend deur ‘n hommelbom gedood, in ‘n klaarblyklike hommelmoord, op las van die hommelbevelvoerder in die Withuis. Die oorskot van so ‘n hommelbomaanval, beide menslike weefsel en argitektoniese afval, kan desnoods as “hommelrommel” afgemaak word, sou Afrkaans ooit in die Withuis se gange gebesig word. Maar laat ons verder dink en ander moontlikhede ondersoek.

Afrikaans het maar min woorde om reg te laat geskied aan treffende begrippe soos “killer”, “strike”, en “bomber”, aangesien Vlakplaas klandestien bedryf is en die woordeskat wat daar ontwikkel is, nie aan die groot klok gehang is nie.  Afrikaans is tans nog nie so soepel nie en moet voortsukkel met omslagtige woorde en beskrywings wat nie na behore reg laat geskied aan die Pentagon se kragdadige, kliniese werkswyse nie.

 


Die vlag van die staat Borduria, waarvan die heerser Maarskalk Kurvi-Tasch is (Tintin, 1956).

 

“Moordenaar” het weliswaar nie gewoonlik ‘n militëre verwysing nie, en is dus nie heeltemal gepas om met “hommel” gekombineer te word nie. Maar wat is die alternatief? “Slagter” miskien? Dus, die Hommelslagter President B.H. O’Bomber? Of die Hommelbombardier? ‘n Bombardier is klaarblyklik ‘n onderoffisier in die artillerie, so dit is moontlik tog die regte woord om die werklike bevelvoerende ervaring van die Withuisbewoner te verwoord.

Wat is die Afrikaans vir “strike”? “Aanval” is effe vaag en gee nie die vernietigende trefslag weer nie. Dieselfde geld vir “aanslag”. Dan maar “hommelslag” of  “hommelslagting”, veral indien selfs die toevallige omstanders ook vermorsel of versap word. In Engels, oftewel Newspeak, word van “collateral damage” gepraat. Maar wil ons Afrikaans tot op daardie vlak verlaag?

 

Kyk na ons, kyk na ons!

Julle wat die rooi lemoene

pluk in die boorde.

Julle wat op bruin donkies

mark toe ry deur die wit stof

van die slingerpad oor die berge.

Julle wat buk-buk gaan

al tussen die goue koring

en dan as julle ons hoor,

jul sekels half laat hang

oor die knikkende are

terwyl julle die sout sweet vee

uit jul donker oë.

Kyk na ons, kyk na ons,

sodat julle ons sien

en ons julle sien,

opdat ons julle verdelg

soos onkruid van die aarde!

 

..

Die lied van die hommelbom

 

Kom, bruid en bruidegom, met jul hele gevolg,

kom met kaftan en tulband van katoen en satyn

kom met tabberd en sluier in bloeiselkleure

slaan die drom, rinkels die tamboeryn

opdat julle my nie hoor nie

want ek ken jul koördinate

ek mik op julle af

sekuur tot op die duim en sekonde

dit is immers die plek en uur

bepaal deur die hommelbombardier.

 

Kyk, ek verskyn uit die niet

ek is die gas wat julle nalaat om te nooi

uit newels van die nag of helder oordag

uit die ligblou lug of wolke  of rook of mis

bring ek fakkels bring ek vuur

vir die bruilofsfees van lig en duisternis

kyk, ek strooi blomme, almal, almal rooi,

in patrone van spatsel, smeer en plas.

 

Kom, roubeklaers, kom na die graf

kom met geskeurde  klere, kom in sak en as

maak los jul hare krap jul wange en kla

slaan swaar die somber snare

opdat julle my nie hoor nie

want ek ken jul koördinate

ek mik op julle af

sekuur tot op die duim en sekonde

dit is immers die plek en uur

bepaal deur  die hommelbombardier.

 

Kyk, ek verskyn uit die niet

ek is die begrafnisganger wat telkens verras

wat reis oor heuwel, laagte en vallei

kyk, ek droog die trane vir altyd af

ek ruk ‘n  gat uit die grond

ek skroei die wond ek snoer die mond

ná die slag bring ek stilte

waar daar pas nog weeklag was.

 

Dit is immers die plek en uur

bepaal deur die hommelbombardier.

 

© Kobus van der Riet / 2015

 

Bron:

Alle aanhalings kom uit “Lied van die Fascistiese Bomwerpers” deur Uys Krige, uitgesonder eie gedig.

 

 

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Lees meer

Jacobus van der Riet. ‘n Nuwe naam vir Stellenbosch? →

9e gedagtes oor “Kobus van der Riet. Die WAT en die Bomwerper in die Ovaal Kantoor”

  1. Waldemar Gouws says:
    18 May 2015 at 12:38

    Is daardie president nie Barack Obommer nie? Die bommerikaner met bombrommers vir die Nabye Ooste. Of sy blindeslagvlieg (‘n nuwe soort ‘blind date.’

    Reply
  2. Buiteblaf Breytenbach says:
    14 May 2015 at 12:40

    Die WAT weet ons seker. Die HOE ook. Dis die HOEKOM wat duister is, oftewel – mens verstaan nie hoe die negatieve inpak van die O-bomme verdisconteer moet word teen die ‘good kills’ wat behaal word nie. Maar dan, die Amerikaners kan skynbaar nie verder as hulle ‘gung-ho’ dink nie.

    Reply
  3. Kobus van der Riet says:
    14 May 2015 at 11:45

    Dankie, ja, as Theodore Roosevelt die teddiebeer na hom vernoem kon kry, kan Obama dan seker ook die Obamabom > Obama > O-bom as “nalatenskap” verwerf. Maar die WAT moet besluit, nie waar nie?

    Reply
  4. Buiteblaf Breytenbach says:
    14 May 2015 at 10:27

    Sou mens ‘n ‘drone’ (uitgespreek soos in “trippe trappe drone…”) nie sommer net ‘n Obama noem nie?

    Reply
  5. Carin Lawrie says:
    14 May 2015 at 01:06

    So bly daar is ‘n forum vir hierdie soort satiriese begaafdheid.

    Reply
  6. Desmond says:
    13 May 2015 at 12:14

    Kobus, ja, ek juis van jou moedswillige ironie gehou. Vir my klink hommeltuig te grappig (goed, drones word nie net gebruik om dood te saai nie, maar nograns, die woord het ‘n soort politieke lading wat hommeltuig nie het nie); kan mens nie gewoon drone gebruik nie, of drone-aanval? Wat doen die Nederlanders?

    Reply
  7. Kobus van der Riet says:
    13 May 2015 at 11:23

    Dankie Desmond; die blog natuurlik “tang in die kies” geskryf, moedswillig ironies; tog sou ek meer beriggewing oor die tipe vergrype wou sien, en dan word ‘n vertaling wel nodig, anders moet ‘n mens altyd “sg.” aan “drone strike” voorvoeg.
    Enige beter voorstelle sal waardeer word.

    Reply
  8. Desmond says:
    13 May 2015 at 10:07

    Hou baie hiervan, Kobus. Maar soms wonder ek of sekere woorde, soos ‘drone’ of ‘apartheid’, nie doelbewus onvertaal moet bly nie, sodat die naamgewers, en hul ideologiese spindokters, nie so geredelik losgekoop word deur ander tale se bereidwilligheid om aan daardie dinge die skyn van natuurlikheid en universaliteit te verleen nie… Of wat dink jy, is dit OK vir die drone om landplek te kry in Afrikaans?

    Reply
  9. Margot says:
    13 May 2015 at 09:07

    Hallo weereens Margot, Ek weet nie of jy ‘n intekenaar is by Versindaba nie. Hierdie bydrae van Kobus van der Riet is net vir my so interessant en besonders dat ek dit net met iemand wou deel. (Ekskuus as ek lastig is).

    Mooi dag,

    Elsabè Kruger.

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Resensie: "Dawerende stiltes" (Caren Kearley)
  • Resensie: "Wilma Stockenström: Met my wysvingertop" (Ronel Foster, red.)
  • Marlies Taljard gesels met Yves T’Sjoen oor "De ontdekking van het eiland" (Deel 1)
  • Joan Hambidge. Athol Harold Lannigan Fugard
  • Marlies Taljard gesels met Yves T’Sjoen oor "De ontdekking van het eiland" (Deel 3 - slot)

Nuutste bydraes

  • Joan Hambidge. Die digkuns as weefwerk
  • Bert Bevers. Aanwijzingen
  • Riaan le Roux. Kans
  • Paul Kloppers. bosluisvoël
  • Digtersprofiel: Marlise Joubert

Nuutste kommentaar

  1. Stephan du Toit on Stephan du Toit. Geboorteland13 January 2026

    Baie dankie Marthé.

  2. Bernard Odendaal on Bernard Odendaal. Musikale oomblik9 January 2026

    Dankie, Joan.

  3. Marthé McLoud on Stephan du Toit. Geboorteland9 January 2026

    Treffende gedig.

  4. Joan Hambidge on Bernard Odendaal. Musikale oomblik8 January 2026

    'n Uitstekende palinode - spel met Cloete. En die slot is 'n mokerhou! Jou gedig is treffend.

  5. Bernard Odendaal on Daniel Hugo. Voorbeeldig8 January 2026

    Treffend. En: Gesondheid in die rondheid!

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d