Kobus van der Riet. Die WAT en die Bomwerper in die Ovaal Kantoor
Die WAT en die Bomwerper in die Ovaal Kantoor
Ons gons uit die blou.
Ons dreun bo die aarde.
Luister! Luister!
Soos ons almal seker teen dié tyd weet, onderteken Pres. B.H. Obama van die VSA op Dinsdagoggende die doodsvonnise van almal wat in verre lande deur middel van onbemande afstandbeheerde vliegtuie se missiele om die lewe gebring moet word, hetsy vermeende lede van Al Qaida of die Taliban, hetsy hul Amerikaanse meelopers of ander ongewenste persone. En daarmee saam enigeen wat toevallig op die toneel mag wees, soos bv. begrafnisgangers of bruilofsgaste. Die regsproses word nie by hierdie doodsvonnisse betrek nie, dog die handtekening word steeds nodig geag. Die dodetal behels reeds ten minste 2887 mense in Pakistan, Jemen, en Somalië, waarvan honderde burgerlikes was, selfs onskuldige kinders.
Ons is mooier as die albatrosse,
ons is witter as die seemeeue,
ons is vinniger as die mens se gedagte:
nog voor julle ons sien,
as julle ons nog skaars gehoor het,
val ons skaduwee op julle…
In Engels staan hierdie aktiwiteit as “drone killings”, “drone strikes”, “targeted killings” of “drone assassinations” bekend en die opperbevelvoerder van daardie moondheid is dus ‘n “drone killer” of “drone assassin”. Nou kan ‘n mens vra wat die Afrikaanse term vir hierdie belangrike hedendaagse begrip is, sou ‘n mens se eie doodsberig dit benodig of sou die draadlose radiostasie van RSG daaroor wou verslag doen. Ooglopend is “onbemande afstandbeheerde vliegtuig-sluipmoord” te lomp en lank om aan die skielike verskyning uit die niet van hierdie dodelike tuig reg te laat geskied. So wat is die moontlikhede?
‘n “Drone” is ‘n hommelby. Die naam is gepas omdat die bepaalde vliegtuigies seker wel ‘n ligte dreuning voortbring. Die woordeboek erken “hommel” as ‘n korter weergawe van “hommelby”, en hoewel hommelbye na my wete nie besonder gevaarlik is nie, is dit nietemin ‘n by, en suggereer die naam deur assoasiasie dus tog pyn en lyding, afgesien van mededinging om die guns van plompe koninginne.
Sou die WAT dan tevrede wees met “hommelmoord” en “hommelbom” om dié byderwetse aktiwiteit te verwoord? ‘n Mens sou dan kon verwag om ‘n berig oor die nuus te hoor soos: Mnr. So-en so en sy bruilofsgaste is vanoggend deur ‘n hommelbom gedood, in ‘n klaarblyklike hommelmoord, op las van die hommelbevelvoerder in die Withuis. Die oorskot van so ‘n hommelbomaanval, beide menslike weefsel en argitektoniese afval, kan desnoods as “hommelrommel” afgemaak word, sou Afrkaans ooit in die Withuis se gange gebesig word. Maar laat ons verder dink en ander moontlikhede ondersoek.
Afrikaans het maar min woorde om reg te laat geskied aan treffende begrippe soos “killer”, “strike”, en “bomber”, aangesien Vlakplaas klandestien bedryf is en die woordeskat wat daar ontwikkel is, nie aan die groot klok gehang is nie. Afrikaans is tans nog nie so soepel nie en moet voortsukkel met omslagtige woorde en beskrywings wat nie na behore reg laat geskied aan die Pentagon se kragdadige, kliniese werkswyse nie.
“Moordenaar” het weliswaar nie gewoonlik ‘n militëre verwysing nie, en is dus nie heeltemal gepas om met “hommel” gekombineer te word nie. Maar wat is die alternatief? “Slagter” miskien? Dus, die Hommelslagter President B.H. O’Bomber? Of die Hommelbombardier? ‘n Bombardier is klaarblyklik ‘n onderoffisier in die artillerie, so dit is moontlik tog die regte woord om die werklike bevelvoerende ervaring van die Withuisbewoner te verwoord.
Wat is die Afrikaans vir “strike”? “Aanval” is effe vaag en gee nie die vernietigende trefslag weer nie. Dieselfde geld vir “aanslag”. Dan maar “hommelslag” of “hommelslagting”, veral indien selfs die toevallige omstanders ook vermorsel of versap word. In Engels, oftewel Newspeak, word van “collateral damage” gepraat. Maar wil ons Afrikaans tot op daardie vlak verlaag?
Kyk na ons, kyk na ons!
Julle wat die rooi lemoene
pluk in die boorde.
Julle wat op bruin donkies
mark toe ry deur die wit stof
van die slingerpad oor die berge.
Julle wat buk-buk gaan
al tussen die goue koring
en dan as julle ons hoor,
jul sekels half laat hang
oor die knikkende are
terwyl julle die sout sweet vee
uit jul donker oë.
Kyk na ons, kyk na ons,
sodat julle ons sien
en ons julle sien,
opdat ons julle verdelg
soos onkruid van die aarde!
..
Die lied van die hommelbom
Kom, bruid en bruidegom, met jul hele gevolg,
kom met kaftan en tulband van katoen en satyn
kom met tabberd en sluier in bloeiselkleure
slaan die drom, rinkels die tamboeryn
opdat julle my nie hoor nie
want ek ken jul koördinate
ek mik op julle af
sekuur tot op die duim en sekonde
dit is immers die plek en uur
bepaal deur die hommelbombardier.
Kyk, ek verskyn uit die niet
ek is die gas wat julle nalaat om te nooi
uit newels van die nag of helder oordag
uit die ligblou lug of wolke of rook of mis
bring ek fakkels bring ek vuur
vir die bruilofsfees van lig en duisternis
kyk, ek strooi blomme, almal, almal rooi,
in patrone van spatsel, smeer en plas.
Kom, roubeklaers, kom na die graf
kom met geskeurde klere, kom in sak en as
maak los jul hare krap jul wange en kla
slaan swaar die somber snare
opdat julle my nie hoor nie
want ek ken jul koördinate
ek mik op julle af
sekuur tot op die duim en sekonde
dit is immers die plek en uur
bepaal deur die hommelbombardier.
Kyk, ek verskyn uit die niet
ek is die begrafnisganger wat telkens verras
wat reis oor heuwel, laagte en vallei
kyk, ek droog die trane vir altyd af
ek ruk ‘n gat uit die grond
ek skroei die wond ek snoer die mond
ná die slag bring ek stilte
waar daar pas nog weeklag was.
Dit is immers die plek en uur
bepaal deur die hommelbombardier.
© Kobus van der Riet / 2015
Bron:
Alle aanhalings kom uit “Lied van die Fascistiese Bomwerpers” deur Uys Krige, uitgesonder eie gedig.
Hallo weereens Margot, Ek weet nie of jy ‘n intekenaar is by Versindaba nie. Hierdie bydrae van Kobus van der Riet is net vir my so interessant en besonders dat ek dit net met iemand wou deel. (Ekskuus as ek lastig is).
Mooi dag,
Elsabè Kruger.
Hou baie hiervan, Kobus. Maar soms wonder ek of sekere woorde, soos ‘drone’ of ‘apartheid’, nie doelbewus onvertaal moet bly nie, sodat die naamgewers, en hul ideologiese spindokters, nie so geredelik losgekoop word deur ander tale se bereidwilligheid om aan daardie dinge die skyn van natuurlikheid en universaliteit te verleen nie… Of wat dink jy, is dit OK vir die drone om landplek te kry in Afrikaans?
Dankie Desmond; die blog natuurlik “tang in die kies” geskryf, moedswillig ironies; tog sou ek meer beriggewing oor die tipe vergrype wou sien, en dan word ‘n vertaling wel nodig, anders moet ‘n mens altyd “sg.” aan “drone strike” voorvoeg.
Enige beter voorstelle sal waardeer word.
Kobus, ja, ek juis van jou moedswillige ironie gehou. Vir my klink hommeltuig te grappig (goed, drones word nie net gebruik om dood te saai nie, maar nograns, die woord het ‘n soort politieke lading wat hommeltuig nie het nie); kan mens nie gewoon drone gebruik nie, of drone-aanval? Wat doen die Nederlanders?
So bly daar is ‘n forum vir hierdie soort satiriese begaafdheid.
Sou mens ‘n ‘drone’ (uitgespreek soos in “trippe trappe drone…”) nie sommer net ‘n Obama noem nie?
Dankie, ja, as Theodore Roosevelt die teddiebeer na hom vernoem kon kry, kan Obama dan seker ook die Obamabom > Obama > O-bom as “nalatenskap” verwerf. Maar die WAT moet besluit, nie waar nie?
Die WAT weet ons seker. Die HOE ook. Dis die HOEKOM wat duister is, oftewel – mens verstaan nie hoe die negatieve inpak van die O-bomme verdisconteer moet word teen die ‘good kills’ wat behaal word nie. Maar dan, die Amerikaners kan skynbaar nie verder as hulle ‘gung-ho’ dink nie.
Is daardie president nie Barack Obommer nie? Die bommerikaner met bombrommers vir die Nabye Ooste. Of sy blindeslagvlieg (‘n nuwe soort ‘blind date.’