Jacobus van der Riet. ‘n Nuwe naam vir Stellenbosch?

       

O Aldarin! o name, o versugting!

Op Pelgrimsrus in die Transvaal

wil ek weer hoor hoe klink my taal

skoner, welluidender as Provencal.

.

(Is Afrikaans welluidender as Provencal? Maar dit daar gelaat…)

 

Die eerste of selfs enigste Afrikaanse gedig waarvan ek op skool gehou het, was Uys Krige se Tram-ode, deels omdat hy die verrukking wat hy by die aanskoue van die Aldarin ervaar het so goed kon verwoord – ek het as kind graag in die Kaapse dokke rondgedwaal en met verlange na die slanke skepe met hul eksotiese name en hawens van registrasie gekyk – en deels natuurlik oor hy al die wonderlike plekname so vaardig kon opstapel. Die wanhoop en verdriet waaroor hy dit ten diepste had, kon ek destyds nog nie begryp nie.

Die plekname wat Krige gekies het, was meestal besonder welluidend en evokatief. Onder die Afrikaanse plekname tel dan Dwaal, Ruitersbospas, Baardskeerdersbos, Pelgrimsrus, Putsonderwater, Waenhuiskrans, Bontebokskloof, Leeukop, Tamboerskloof en Swellendam. Van al hierdie name kan gesê word dat hulle sag op die oor val. Die name is oorwegend beskrywend en verbeeldingryk: dit roep telkens ‘n prentjie of ‘n gevoel op, behalwe Swellendam wat maar ‘n sameflansing van vanne is.

Dis trouens ‘n kenmerk van die beste Afrikaanse naamgewing, die beskrywende aard daarvan. Dikwels is dit dan ook welluidend. Die Afrikaanse dorpsname wat na mense vernoem is, is daarenteen bra niksseggend, bv. Humansdorp, Groblersdal, Delportshoop, Ventersdorp en Ventersburg – beslis nie name wat ‘n mens in Tram-ode sou verwag nie. Bg. dorpsname het wel ‘n sekere ritme, maar dis ook al.

Nou is my voorstel dat die twee kenmerke, t.w. beskrywendheid en welluidendheid, eintlik deur die Plekname Kommissie in gedagte gehou moet word wanneer naamsverandering oorweeg word, naas ander oorwegings, soos om vroeëre inheemse name te heraktiveer en die behoefte om aan name met koloniale assosiasies te ontkom. ‘n Mooi naam is sielsverkwikkend, maar ‘n lelike naam is sieldodend. Vra maar vir enige kind wat swaar dra aan sy of haar naam.

In ‘n land met so ‘n klomp uiteenlopende nasionalismes is dit dalk wys om plekname wat aan persoonsname gekoppel is, te vermy, veral die name van politici en koloniale amptenare. Dit sou wel die doodsklok kon lui vir Tulbagh, Graaff-Reinet, Stellenbosch en Swellendam met hul VOC assosiasies, maar ook vir Wellington, Montague, Caledon, Durbanville, Carnarvon, Worcester, Somerset-Wes en -Oos ens. wat die Britse tydperk verteenwoordig. Sal ‘n mens bg. name mis? Mense raak immers geheg aan name al is die name eintlik verspot, bv. Carnarvon in die middel van dieKaroo! Dalk sal die gebrekkige kennis van die geskiedenis die meeste van hierdie dorpsname tog wel red.

Plekname wat aan Voortrekkerleiers gekoppel is, is, soos ons reeds weet, bra omstrede, so daar gaan Pretoria, Pietermaritzburg, Potchefstroom, Piet Retief en Louis Trichardt, indien nie sonder ‘n veldslag by Vegkop nie. Die pleknaamPretoria is boonop nie juis welluidend nie, veral nie met die meer harde Cisvaalse uitspraak nie. Dan word dit bykans onuitstaanbaar. Tshwane is wel eufonies, maar dis ook ‘n persoonsnaam en daar bestaan skynbaar onsekerheid oor of die man werklik geleef het, en dit laat ons dus met die moontlikheid van Apies, n.a.v. die rivierstroom wat by tye daardeur vloei. Desnoods, indien Apies as bedenklik beskou sou word, kan die voorstad Rietfontein sy naam aan die stad self verleen, ‘n voorstel wat ek om begryplike redes sal ondersteun.

Schweizer-Reneke is vernoem na twee offisiere van die ZAR wat in ‘n skermutseling met die Korannas omgekom het. Voor die oorlog, wat die lewe van 150 Korannas en 9 ZAR soldate geeis het, het die plek Mamusa geheet, toe dit nog die kraal van wyle Dawid Massou, die Korannaleier, was. Watter een van hierdie twee name, Mamusa of Schweizer-Reneke, sal ‘n mens in ‘n wiegelied wil gebruik, afgesien van die vraag oor wie die held in hierdie stryd was?

Vir die Kaapse dorpe sal ‘n mens telkens moet gaan kyk of daar nie welluidende Khwe-Khwe name (oftewel Khoi-Khoi name) is wat die VOC of  Britse assosiasies kan vervang nie. Wat is bv. die Khwe-Khwe naam vir Stellenbosch? Die Tweeling Pieke moes tog die Khwe-Khwe se verbeelding geprikkel het, en so ook die soms vinnigvloeiende Eersterivier. Skynbaar het die plek ook destyds as Wilde Bosch bekend gestaan, vandaar die Bosch wat deur Van der Stel aan sy eie van geheg is om die ietwat simpel naam te vorm. Die Universiteit van Wildebosch en die Wildebosse Woordfees dus? Die Fynproewersgilde sal dan ook die naam van hul boek verander na “So eet ons in Wildebosch”.

Tulbagh sou kon terugkeer na Roodezand, of, indien die Nederlands as aanstootlik ervaar word, na Rooisand, hoewel die ontwikkelaars van leefstyllandgoedere ongetwyfeld die meer “verhewe” Roodezand sal verkies.WorcesterkanRoodewal of Rooiwal oorweeg (soos een woonbuurt aldaar reeds heet), dog hopelik kan die Khwe-Khwe erfenis ons hier te hulp snel met iets fraaier. Wellingtonval sag op die oor, maar Wagenmakersvallei is meer evokatief. Durbanville kan met vrug terugkeer na die oorspronklike Pampoenkraal, Caledon na Zwartebergbad of Zwartberg, Colesberg na Toverberg, Napier na Klippedrift, Williston na Amandelboom, Laingsburg na Vischkuil (aan de Buffels Rivier) of sommer net Viskuil,  Carnavon na Schietfontein, Upington na Olijvenhoutsdrift of Kharaes, die Khwe-Khwenaam, en Victoria-Wes na Zeekoegat. Besoekers aan lg. sou dan kon bespiegel oor die waarkynlikheid al dan nie van seekoeie se aanwesigheid in daardie geweste. Maar hoe sal die Beaufort-Wessers voel om die naam Hooyvlakte te herwin?

Die dorpe wat na dominees vernoem is, is nie so omstrede soos dié met politieke assosiasies nie. Robertson is nie evokatief nie, maar darem ook nie juis hard op die oor nie. Merweville daarnteen is nòg verbeeldingprikkelend, nòg soetklinkend. Fraserburg is maar so-so. McGregor het voorheen Lady Grey geheet, so dis om’t ewe.  Calvinia se voormalige naam was Hantam. Diegene wat van die naam Calvinia hou, sal seker frons oor Sint Helenabaai en Paternoster. Vir my is Hantam wel effens mooier as Calvinia, maar ek is vermoedelik bevooroordeeld teenoor die streng ikonoklas wat aldaar onthou word.

Die Sendingstasiename is oor die algemeen heel melodieus met velerlei assosiasies van ‘n woestyntrek of ‘n voorvaderlike avontuur om die verbeelding te stimuleer, hetsy Elim, Salem, Bethel, Mamre, Saron, Pniel of Zoar. Dan moet ‘n mens egter nog Bybel lees in ‘n eeu van afvalligheid en ongeletterheid, om dié name te kanwaardeer.

Die name van Meiringspoort se driwwe is veral baie mooi: Eerste/Laaste Drif, Opmetingsdrif, Wasgatdrif, Bloupuntdrif, Pereboomdrif, Rooiuitspanningsdrif, Derde Tol-drif, Ontploffingsdrif, Watervaldrif, Uitspanningsdrif, Witfonteindrif, Wadrif, Ou Toldrif, Witperde, Herriedrif, Sanddrif, Perskeboomdrif, Dubbele drif, Nooiensboomdrif, Aalwyndrif, Skelmkloofdrif, Boesmansdrif, Damdrif, Skansdrif en Spookdrif. Kan Oudtshoorn en Plettenbergbaai nie hul VOC assosiasies afskud en uit bg. name inspirasie put vir iets nuuts nie? Die skrywer Pauline Smith se skuilnaam vir Oudtshoorn was Platkop. Dalk verwys dit na die volstruis se gebrek aan ‘n imposante voorhoof, wie sal weet? Of is dit ‘n toespeling op die naam Langenhoven? Indien Ashton moet voortbestaan, wat nie noodwendig bewysbaar is nie, kan dit die naam Ontploffingsdrif leen by Meiringspoort se driwwe, as erkentenis van wat die argitektuur aldaar verdien en selfs om smeek.

Anders as die driwwe se lieflike name, is name soos Sasolburg, Westonaria, Carltonville, Evander, Germiston, Rawsonville, Ohrigstad e.d.m. bykans onuitstaanbaar en moet dit noodwendig die inwoners psigies knou of knak. En dan swyg ons maar oor Parow. Of verwar ek nou die naam met die ding self? Terloops, Germiston was oorspronklik Elandsfontein. Kan daar enige argument wees oor watter een van die twee name die hart verbly?

En dit bring ons dan by Kaapstad. Die Khwe-Khwe se naam vir die berg is Hoerikwaggo en vir die plek self is dit glo //Hui-!geis. ‘n Mens moet sekerlik die tong klik of hik om dit uit te spreek. Die naam Kaapstad is maar bra prosaïes, en hoewel dit in Tram-ode voorkom, is dit nie een van die name wat Krige in vervoering het nie. Dis bloot nog ‘n plek waar die hart sy verdriet ken, iets waarvan ek wel kan getuig. Hoerikwaggo het heelwat meer allure. Maar Snoektown sou ook kon deug, omdat dit die essensie van die dorp so goed raakvat. So nie, Drieankerbaai wat ‘n lieflike naam is.

As ek moet kies tussen Durban en eThekwini, kies ek sondermeer lg. Veral in Afrikaans uitgespreek, is Durban haas ondraaglik. Tlokwe is ook vir my mooier op die oor as Potchefstroom. Polokwane is effens welluidender as Pietersburg, hoewel Pieter ‘n besonder mooi naam is. Net so is Johannes aangenaam op die oor en kan dit in Johannesburg se guns tel. Die mooiste naam is natuurlik Witwatersrand en dit sou as naam vir die stad kon dien, indien Afrikaans ‘n lingua grata in die huidige bedeling was. Maar helaas. Dan maar Kliptown, om ‘n tweeluik met Snoektown te vorm.

O wakker mars van name deur my gees van stede, dorpe, plase –

plekke waar ek eens gewees het,    

waar ek verlang het om nog eendag te wees,   

toe ek as seun, verruk, onder die lamplig saans van hulle gelees het.

 

Maar geen seun sou saans by lamplig met verrukking kon verlang om eendag nog in Sasolburg te wees nie. Dis net nie moontlik nie.

.

Bronne:

Nienaber, P.J. 1963. Suid-Afrikaanse Pleknaamwoordeboek. Kaapstad: Suid-Afrikaanse   Boeksentrum.

Pettman, C. 1985. South African Place names, Past and Present. Johannesburg: Lowry Publishers.

Raper, P.E. 1989. Dictionary of Southern African Place names. Johannesburg. Jonathan Ball.

Wikipedia: Meiringspoort.

 

 

 

 

Bookmark and Share

7 Kommentare op “Jacobus van der Riet. ‘n Nuwe naam vir Stellenbosch?”

  1. Maria Snyman :

    Jacobus, geniet ek nou jou dorpname storie so vroeg op ‘n koue Sondagoggend! Ek hou veral van Kaapstad (wat wel ‘n baie sinvolle naam is so met le cap/kop/punt/ens.) as Hoerikwaggo – ‘n soort mens (wat van die vroegste professies beoefen het) cum ‘n soort dier (uitgestorwe perdagtige soogdier, Equus (Hippotigris) quagga [quagga] (fam. Equidae), die egte kwagga, wat tot ong. 1870 in Kaapl. en die O.V.S. voorgekom het, wat van die kop tot ‘n entjie agter die skouers vertikaal gestreep was, met die res van die lyf donker- tot vosbruin en met die pens en bene wit; wildeperd (verouderd), aldus die WAT) van Afrika! Die hele wêreld sou dan ook kon deel, geforseer word om te deel, in die geding oor name (en by implikasie monumente, en dus ook die skryf van geskiedenis in die algemeen) hier in Suid-Afrika! Ek begin al hoe meer dink meer Suid-Afrikaners moet net Nietzsche se Zarathustra (wat ‘n naam!) lees, want dan sal hulle iets verstaan van die “Groot Gesondheid” wat mens nodig het om op hierdie fenomenale stuk grond te oor-leef. Hie-ha! Laat ons die name in ons land lekker in ons monde rondrol!

  2. Marlise Joubert :

    Kobus, nou trek my kiewe sommer op ‘n knop met al die plekname wat jy so wil verander! Ek kan nog steeds bv nie gewoond raak dat my Warmbad (en jeugdorp), skielik Bela Bela geword het nie. ‘n Naam het mos ‘n gesig en lyflikheid in die geheue. Seg ek Warmbad, dan sien ek die strate, die berge, die watervalle, die windpompe, die swembaddens, die bekende huise en skole, die winkels… Alles, plus die mense, die stories en gebeure uit ‘n sekere tyd. Bela Bela klink miskien mooi. Dis al. Dit beteken vir my… niks. 🙂 Maar jy het ‘n paar goeie voorstelle. Ek sou veral al die ch’s wil uitgooi. Stellenbosch kan maar Stellenbos word.

  3. Leon Retief :

    Wat van Skelmbos ipv Stelenbosch?

  4. Marlise Joubert :

    Ja, Leon, nog beter. Hoewel, hier is mos nie eintlik skelms nie, of hoe?

  5. Buiteblaf Breytenbach :

    Die oorspronklike spelling is eintlik ‘Skellumbos’. Mens wil darem nie die eerbiedwaardigheid van gesalfdes aantas nie. En siende Engels nou die verstektaal word daar (in die naam van Swart Bevryding) sal dit seker uitgespreek word as Ske-LUM-boos.

  6. Jacobus van der Riet :

    Dankie, almal, ek dink ons vorder, maar miskien moet ons verder dink. Wat van Plankenbrug n.a.v. die riviertjie wat deur die dorp loop? Daar is iets filosofies aan daardie naam, wat ‘n mens herinner aan die onsekerheid en voorlopigheid van menslike strukture, wat goed pas by ‘n universiteitsdorp. Of La Colline, n.a.v. die fraai woonbuurt wat so vanaf sy heuwel uitkyk op die dorp? ‘n Franse naam is mos per definisie spoggerig, nie waar nie?
    Destyds is altyd beweer dat Stellenbosch staan vir ‘n idee (wat die idee was is nooit uitgespel nie – dalk was dit die idee dat die dorp vir die idee staan dat vir ‘n idee staan ens.ens.) Wat ons natuurlik aan Plato laat dink en ook aan Athene. Word die dorp dan nie ook die Athene-van-die-Suide genoem nie? Effe lomp, ja, maar in Frans kan dit Athenes du Sud word (verskoon my Frans en korrigeer asb.)wat m.i. mooi op die oor val.

  7. Waldemar Gouws :

    Nee, jammer, Jacobus van der Jeuk. “Tot siens, Kaapstad”?

  •