Zuma, met glimlag, en op perd
’n Staatsportret
sy lyf hou dan sy kop op nes ’n kwallerige globus cruciger?
die perd se kleur (’n suiwer prul) is onbelangrik, dit is spier
en agterpootgestaan te midde ’n besetenheid van fril:
die wolke- en valleiekartels, maanhaar, kraag en amashoba, dik lyf
gedrapeer, heil die vors se halfreptiele blik, ’n skeelte wat besit
met stuthol stewig nar en ook despoot gesaal en kaalkopfier
op hierdie alpekruisgeskikte dier! dis dubbelken as onderbak-
lourier, sy arm in ’n pakmou én ook luiperdvel omhoog:
’n vuisopkoms oor selfs die mhlatuze in die agtergrond
die lig op alles bont en skerp soos hoë kekkellag ’n hê
hê hê, sy bril se glas getint en aaa die gloor van fyngeweefde
rykmansdas! kyk die ondertandjies spits geverf so onverwags
subtiel en diakrities bo die lip en meer opmerklik as die
goue kettings oor die skouerknop, leisel in die linkerhand,
voorwaarts voor die vigsbesmette moederland, ons sug, hy pof
en praal en blaas (so anders as ons netnet ondertaalse soort
geslaak) dis grinnik-runnik-lag, die fokken kommingeit van mag
Die slotreël is manjifiek!!
Skitterend. ‘n Honderd kritiese koerantberigte kan nie doen wat Loftus Marais hier regkry nie. Min mense dink dalk eerstens aan Marais wanneer hulle aan politieke digters in Afrikaans dink, maar wanneer hy die dag politieke en sosiale kommentaar lewer in ‘n gedig, is hy vlymskerper as die meeste. Gaan lees maar weer sy tweede bundel.
Wees dankbaar dis nie Turkmenistan nie
.
http://www.washingtonpost.com/blogs/worldviews/wp/2015/05/25/turkmenistans-leader-infamous-for-falling-off-a-horse-unveils-a-giant-statue-of-himself-riding-a-horse/