Lucian Freud, en Lucian Freud se windhond
om lyf te hê, is reeds intieme kennis van oordadigheid en maak
nie saak hoe slank, ons vleis is swelsel en jy stoel ’n pose altyd,
die gepofte okselvoutjies tussen bors en biseps, mens is spier en vet
en swaartekrag en ons sit uit in kamers skadurig van hout en vuil
grys lakens. kyk gots selfs die lig is log, maar wat is naaktheid só?
nie kwesbaarheid, blatantheid, waarheid nie, dis net dat kuitbol
en die rooier vlek van nekvel en van balsak glad nie rym met
elegansie nie: besef daar is ’n soort bevalligheid in fiksies dat portret-
poseer ’n diep gelate ding is. sitters, lêers gee hul kamtag oor
aan stolsels tyd. nee, ons is eintlik selfbelig, aanstellerig, meer klont
en olie, en ons dubbelkenne du ’n houding in, die dra van been en rolle
noem ons sommer “eerlikheid”, van verfkant ook, gaan kry jou kuns-
boekkleurlys: “fawn” en “lion”, “chamoisee” en “battleship” en “wheat”?!
totdat ’n windhond om die deurlys trap, die ateljee se assistent
van ongeërgdheid, en hy snuif aan elke ongeraamde boep
en skaamlip want ’n windhond is gepunte raaisel, ook veral vir
rigtinglose natbeoogde subjekbolle. buig jou knobbelhand so oor
die hond se kop, sit terug, om lyf so met jouself te vul is om ’n mens
te wees. en dalk wens ons die troeteldier daarby, want ja ’n windhond
is ’n skerpte, boog, sy aandag lig op iets daar vóór sy vlees.
© Loftus Marais / 2015