Wicus Luwes. Bysake, bywoorde en bygelowe
“Like a bee you fill hundreds of homes with honey, though yours is a long flight from here.”
– Rumi
Ek het as kind op ‘n dooie by getrap. Die angel het in my voet bly sit terwyl ek aan al die rate vir die bysteek probeer dink het: ys, botter en ‘n mes wat in die regte rigting skraap. Ek was nog altyd versigtig vir ‘n by. Ek het geweier om my blikkie koeldrank verder te drink as ‘n by daarby sou inklim. Seker maar die soet reuk wat die by se GPS op my ingestel het. Ek het iewers gelees dat sommige bye jou verder as ‘n kilometer volg en vir jou wag as jy besluit om in water weg te kruip. Ek het op die harde manier geleer dat selfs ‘n dooie by jou nog leed kan aandoen.
Die Kalahari San-mense vertel ‘n pragtige verhaal van ‘n by wat op ‘n keer ‘n hottentotsgot oor die rivier moes help. Halfpad oor die rivier, kon die by nie sy passasier se gewig verder dra nie en moes noodgedwonge die hottentotsgot op ‘n drywende blom neersit. Die moeë by het toe ‘n saad op die hottentotsgot se lyf geplant. Die saad het later tot die eerste mens ontwikkel.
Bye is deesdae vir ander redes in die koerante. Vreemde sterftes en diefstal van bye is weekliks in die nuus. Die kort beriggies en kriptiese leidrade het my laat wonder of iemand dalk al in-diepte studies daaroor gedoen het nie. Ek bedoel nie slegs wetenskaplike navorsing nie. Ek het eerder ‘n persoon wat kriminele sake behartig in die oog, want ek dink die saak het ‘n hele paar vlakke. ‘n Gesoute kenner soos Leroux se Speurdersersant Demosthenes H. de Goede sal dalk net die regte persoon wees vir die saak / bysaak. Deon Meyer se Griessel sal dalk ook die pyp in hierdie bynes kan rook. Die misdaadtoneel is ‘n byeboer se plaas in Kanada. Ek is nie seker of De Goede se jurisdiksie buite die landsgrense sou strek nie. ‘n Byeboer se bye het spoorloos verdwyn. Die klaer in die saak gebruik die bye om sy kliënte se gewasse te bestuif en vir heuning. Bestuiwing is nodig vir ‘n groot aantal kosse wat ons bloot van ‘n winkelrak af pluk.
“I’ve said this over and over, but I’ll say it a million more times – I’m concerned more about the death of a bee than I am about terrorism. Because we’re losing hives and bees by the millions because of such strong pesticides.”
– Patti Smith
Daar heers groot bekommernis oor die ineenstorting van korwe. Amerikaanse Vuilbroed of jongbysiekte verwoes hele korwe en kolonies ook in Suid-Afrika. As Speurdersersant Demosthenes H. de Goede ‘n rede benodig om sy speurwerk in Noord-Amerika voort te sit, kan die verwantskap met Amerikaanse Vuilbroed dalk net die regte motivering wees. Ja-Nee, Speurdersersant H. de Goede is ‘n ervare geregsdienaar, maar het lanklaas ‘n saak van hierdie omvang behartig. ‘n Vinnige kykie na die definisie van ‘n bywoord deur Wikipedia, kan hom dalk net in die regte rigting stuur: ‘n Bywoord of adverbium is ‘n beskrywende woord wat ‘n werkwoord, hele sin, byvoeglike naamwoord, telwoord of ander bywoord nader bepaal. Dit verskaf meer inligting oor plek, tyd, wyse of graad. (Plek of Ubi in Latyns. Tyd of Quando. Wyse of Quomodo.) Al wat Wikipedia se definisie van ‘n bywoord nie vir ons gee nie, is die ‘Qui’ of die ‘Wie’.
Jy kry nie maklik ‘n stoeier onder nie, soos wat Advokaat Gerrie Nel se greep op hedendaagse regskennis al vir ons gewys het. Speurdersersant Demosthenes H. de Goede is ook ‘n kenner in hierdie gevegskuns en met ‘n bietjie aanmoediging sal hy die bygreep of ‘shuffling bee’ vir ‘n nuuskierige konstabel demonstreer.
Quando
Die tyd waarin ‘n misdaad plaasgevind het, is van kardinale belang. Indien Speurdersersant H. de Goede by die ‘Wie’ wil uitkom, kan hy die ander afdelings gebruik om die tydsraamwerk te bepaal. Die verdwyning van die bye in konteks van die bestuiwing van vrugtebome of groente, moet in ag geneem word. Daar is sekere siklusse waarin bye ‘n rol speel en om die skuldige (of skuldiges) vas te trek, sal hierdie siklusse ondersoek moet word.
siklus
all that rots forms a family
– Fabian Casas
daar is bote in the hawe
waarvan jy die name nie weet nie
hulle rus soos wit swane op water
daar is klanke van voëls waarvan
jy die gapende snawels nie sien nie
hul skaduwees sny soos skeermesse
oor dakke se verskimmelde kakebene
snags hoor ek die honde blaf in my buurt
maar ek kan hulle nie aanraak nie
agter die tuinmuur restoureer iemand sy huis
en ek luister met weemoed na die slae
van ‘n hamer op spykers
wetende dat kewernomades
aanteel om die planke te vreet
dat swart bye nesmaak in ruïnes –
elke familie het immers ‘n sikliese substraat
hier is die liefde spoorvas en soos ‘n ooglid
vertrou ek ons knipsel reise –
maar soms soek ek na môre se sinne
in ‘n geslote boek op die tafel
om soos ‘n foto
geskeur uit die siklus van stof
sigbaar in die lig te leef
deur Marlise Joubert
uit bladspieël
Ubi
Kanada mag dalk aan die ander kant van die wêreld wees, maar dit is duidelik dat die korf of kolonie van ons bekende wêreld dalk kleiner is of kleiner gemaak word deur die migrasie-patrone van die mens. Die mense wat voordeel kan trek of byval kan vind by die verdwyning van die klaer se bye, is heel moontlik nie aan die ander kant van die wêreld nie. Motief is egter iets wat bydraend is, maar nie bepalend nie. Die plek waar die bye gehou word en die plek waar die bye gebruik word, sal verdere insig bied in die ontknoping van hierdie taai saak. Ek lees al meer berigte oor die lot van bye en byeboere in die aanlyn nuusblaaie (sien skakel onder). Hierdie voorval in die VSA het in die staat, Alberta, plaasgevind, maar daar is ‘n tendens regoor die wêreld met betrekking tot die diefstal van bye. Die omvang van die skade is ook nogal groot – daar is 600 000 bye en 12 korwe by die Alberta-boer gesteel. Dis asof daar ‘n kriewelrigheid oor die sterftes van bye as sekondêre saak is. Die gemanipuleerde (of gemonopileerde) bedryf van sade of bestuiwing tree telkens na vore. Die verspreiders van die geneties gemanipuleerde saad wil hul winste hoog en die landbougemeenskap lojaal hou. Hul kweek plante wat nie saad maak nie en bou genetiese meganismes in hul produk wat nie geraak word deur bekende siektes nie.
Ek is dus nie meer seker wat die beste plek vir Speurdersersant Demosthenes H. de Goede sou wees om die saak te onderoek nie. Dit wil voorkom of die plekke waar bysake aangemeld word, by die dag vermeerder.
wit by
wat meer weet ek as die durende gedreun
jou wegwees draal seshoekselle uit bottende drome
hoe stil is jy so stil so stil
in die vroemore vermoed ek jou wit koningin
in die wind vind ek jou in die heuningsoet wind
verloor ek jou skielik soos stilte
al wat bly is die songoud drade wat ek spin
teen die vergetelheid in – spyse uit die eter –
soetigheid uit die dromende dye
hoe stil is jy so stil so stil
om en om jou soos goue koorde korf ek woorde
in my verbeelding verdra jy dit my blinde koningin
hier in ons domein van roes en heuningdou
sal alles stiller stom geliefde vrou
deur Tom Gouws
Qui
In die soeke na ‘wie’, moet ‘n mens bepaal ‘wie nie’. Die omvang van die bysake maak die speelveld groter en groter. Al die klaers vind dit vreemd en party wil nou selfs GPS-senders in hul byekorwe plaas as voorsorgmaatreël. Daar is diegene wat sê dat ons minder bekommerd moet wees, want die mens kan steeds bestuiwing toepas sonder die bye. Daar is ook die vraag oor die wenner en verloorders; miskien ook die manipuleerders en die wat gemanipuleer word. Ons almal weet dat daar onvoorsiene dinge gebeur as jy spelers uit die siklus neem. Die paniek wat tans in byekringe regoor die wêreld heers, word miskien uit eie geledere gevoed.
Dis hoekom ek dink dat Speurdersersant Demosthenes H. de Goede die regte persoon vir die saak is. Hy het per slot van sake al misdade op plase ondersoek en nie geskroom om internasionale sindikate aan te vat nie. Die Speurdersersant se naamgenoot, die Griekse spreker en politikus, Demosthenes, het by geleentheid gesê dat ons geneig is om te wens vir iets wat ons reeds glo. Beide Aristotles en Plato gebruik die bykolonie as metafoor vir die mensdom. Dit kan moontlik wees dat die bysake op die oppervlak verskil van die bysaak onder die oppervlak. Die Midde-Oosterlinge wat in die antieke tye geleef het, het geglo dat die by ‘n brug tussen die bo- en onderwêreld bied. Die by was dus ‘n mitologiese brug tussen die lewe en die dood. Ek weet nie presies hoekom hul so sou glo nie, maar ek weet wel dat ‘n dooie by se angel ‘n lewendige mens se lyf kan laat sweer.
Honey Bee
Honey bee hanging,
drop of sun-
splashed water,
from a stem
hugged and tugged
into a furring haze
caterpillar drops to
arthritic contortions
on cold shade stone
dung beetle drums
across gravel
from the tensile
stem the heavy droplet
falls up into the air.
deur Charl J.F. Cilliers
uit: Collected Poems 1960-2008
Bronne:
1. Cilliers CJF, Collected Poems 1960-2008, Malgas Publishers, Melkbosstrand, 2008
2. Internet: https://af.wikipedia.org/wiki/Bywoord
3. Internet: https://en.wikipedia.org/wiki/Bee_%28mythology%29
4. Internet: http://globalnews.ca/news/2191248/thousands-of-honey-bees-stolen-from-alberta-farmer/
5. Internet: http://landbou.com/bedrywe/bysiekte-moet-bestry-word/
6. Internet: http://www.katinkahesselink.net/sufi/rumi.html
7. Joubert M, In a Burning Sea, Protea Book House, Pretoria, 2014
8. Joubert M, bladspieël, Human & Rousseau, Kaapstad, 2015
Prente:
1. Internet: http://journal.illuminatedperfume.com/2010_08_01_archive.html
2. Internet: https://www.pinterest.com/explore/bee-drawing/
Briljant gedoen, Wicus! Dankie hiervoor.
Alberta is in Kanada en nie in die VSA nie. Ek dink mens moet glansganse soos Patti Smith se opinies oor enigiets, ook immunisasie en GMOs, met groot lepels sout neem. Sy verwys waarskynlik na neonikotienoiëdes (ek hoop die deelteken is op die regte plek) wat volgens sommige verantwoordelik is vir byesterftes. Dit is glad nie die geval nie. Australië byvoorbeeld gebruik hierdie gifstof by die lorrievrag maar geen sodanige sterftes is al daar aangemeld nie. Sien ook:
http://www.biofortified.org/2014/06/are-neonicotinoids-the-sole-factor-responsible-for-colony-collapse-disorder/
http://www.geneticliteracyproject.org/2015/08/10/beemageddon-honeybee-numbers-at-20-year-high/
http://www.geneticliteracyproject.org/2015/07/30/beepocalypse-myth-handbook-dissecting-claims-of-pollinator-collapse/
Dankie Louis en Leon vir die lees! Ai tog, ek het Speurdersersant Demosthenes H. de Goede op ‘n dwaalspoor geplaas. Dankie vir die by-komende inligting! Dit gebeur as hierdie boytjie van die ‘Free States’ oor die regte ‘States’ probeer skryf. Ek het die verwysings na Amerika nou verander. Ek is al klaar besig om die web-skakels te lees – dankie daarvoor!
Wicus, dit is inderdaad so dat die by in die ou Griekse en Midde-Oosterse beskawings rondom die Egeïese See ‘n heilige insek was. Goue plate waarop bye afgebeeld is, is byvoorbeeld ontdek op die eiland Rhodos. En ja, die by was vir dié mense ‘n mitologiese brug tussen die fisieke wêreld en die onderwêreld. Maar dit gaan nog verder. Die ou Grieke het die welsprekendheid van Plato en Aristoteles verbind aan die volgende beeld: hulle lippe is met heuning gesalf. Ook Achilles en Pytagoras is as kinders met heuning grootgemaak. Vergilius noem heuning “die gawe van die hemel” en die Griekse naam Meropee beteken iets soos heuninggesig. As die by vandag uit die natuur moet verdwyn, word daar op literêre gebied ‘n gat geslaan in die basis van amper alle beskawings. Kom ons probeer dit liewers in stand hou.
teedrink
my Swazi engel
uit Ezulwini
– o hemelse vallei –
is ’n klein imker
in ’n blou bikini
teepot in die hand
kom sy aangevlieg
om vir my
heuningtee en lief
woorde in te skink
ek verdrink in
haar amandeloë
bo haar hoë jukbene
tussen hemel & Hades
zoem haar reuse byekorf
my Swazi engel
heet Meropee –
ek zoem soet woorde
want sy salf my lippe
met heuning & tee
Carina van der Walt
uit AMALGAAM (2015)
Wat bydra tot my bykommernis, is nie net die gif waarvan Patti Smith nagmerrie kry nie, maar ook al die elektroniese seine wat die lug bestuif. Is ons bysinnig genoeg?
Wicus die enigste rede waarom ek weet waar Alberta is, is omdat dit ons buurprovinsie is. :-).
Carina, pragtige gedig. Ek het daardie mitologie / kultuurskatte raakgelees en hier en daar ‘n prent of afbeelding gesien. Dit het definitief ‘n onderliggende vrugbaarheid-tema. Ek wonder sommer wat die konneksie (indien enige) met die vrugbaarheid en die natuurlike en onderwêreld sou wees. Ek wonder of dit dalk iets met Ra, as songod, wat in die aand sterf en dan in die oggend uit die doderyk terugkeer te doen kan hê.
Waldemar, as ek die kolonie-ineenstorting reg verstaan, het dit meer te doen met meite wat die bye laat vrek. Ek het maar Patti se stelling as ekstra aspek bygewerk. Wat die elektroniese seine betref, dreun baie selfoontorings en ander senders soos bye waar ‘n mens gaan. Ek is seker dit moet ‘n invloed op ons as mens hê.
As bylaag kan ek maar net weer opmerk dat die manipulasie van die natuur onverwagse gevolge kan hê. Die bye moet nie as ‘n bysaak gesien word nie, maar as ‘n hoofsaak.
Daar is geen bewyse dat die elektromagnetiese radiasie wat deur selfoontorings (of selfone self) uitgestraal word enige effek hoegenaamd op menslike gesondheid het nie. Daar is ook geen teoretiese oorwegings wat daarop dui nie – die teendeel in der waarheid.